Is dit ontwerp?
Die kolibrie se tong
● Navorsers ontleed soms baie klein hoeveelhede bloed, DNS en ander stowwe op ’n glasoppervlak wat omtrent so groot soos jou hand is. Wanneer navorsers masjinerie ontwerp om sulke klein hoeveelhede vloeistof te verskuif, gebruik hulle suigkrag of pompies, maar hierdie metodes is dikwels ondoeltreffend. Is daar ’n beter manier om vloeistowwe op so ’n klein skaal te verskuif? Volgens dr. John Bush van die Tegnologiese Instituut van Massachusetts “het die natuur hierdie probleme reeds opgelos”.
Dink hieraan: Die kolibrie vermors nie energie deur ’n blom se nektar op te suig nie. Hy maak eerder gebruik van die kohesiekragte wat veroorsaak dat water op ’n plat oppervlak druppels vorm en swaartekrag weerstaan. Wanneer ’n kolibrie se tong met nektar in aanraking kom, dwing die oppervlak van die vloeistof die voël se tong om ’n buisie te vorm, waarin die nektar opbeweeg. Eenvoudig gestel, die kolibrie vermy onnodige inspanning deur toe te laat dat die nektar vanself in die buisie opbeweeg na sy mond toe. Kolibries kan hulle tong tot 20 keer per sekonde met nektar vul!
Hierdie “selfvormende buisie” is ook al opgemerk by party waadvoëls, wat water op ’n soortgelyke manier drink. Professor Mark Denny van die Stanford-universiteit, in Kalifornië, VSA, sê die volgende oor hierdie vermoë: “Die kombinasie van ingenieurswetenskap, fisika en toegepaste wiskunde is fantasties . . . As jy enige ingenieur of toegepaste wiskundige sou vra om iets te ontwerp waarmee ’n voël water van sy snawel na sy mond kan neem, sou hulle nooit hieraan gedink het nie.”
Wat dink jy? Het die kolibrie se tong—met sy vermoë om nektar vinnig en doeltreffend te versamel—per toeval ontstaan? Of is dit ontwerp?
[Foto-erkenning op bladsy 23]
© Richard Mittleman/Gon2Foto/Alamy