Is bloedoortappings werklik nodig?
DIE vraag hierbo is verlede November in ’n koerantartikel geopper wat geskryf is deur dr. Ciril Godec, voorsitter van urologie by die Long Island-kollegehospitaal, in Brooklyn, New York. Hy het geskryf: “Vandag sal bloed waarskynlik nie as ’n geneesmiddel goedgekeur word nie, aangesien dit nie aan die veiligheidstandaarde van die Voedsel- en Medisyneraad sal voldoen nie. Bloed is ’n orgaan van die liggaam, en ’n bloedoortapping is niks minder as ’n orgaanoorplanting nie.”
Dr. Godec het gesê: “’n Orgaanoorplanting is die heel laaste geneeskundige opsie wat pasiënte gegee word. Omdat daar waarskynlik ernstige newe-effekte sal wees, word pasiënte deeglik ingelig oor alle moontlike alternatiewe voordat ’n oorplanting gedoen word.” Hy sê derhalwe oor bloedoortappings: “Die voordele is so twyfelagtig dat die benadering van baie chirurge nou is dat hulle bloedoortappings probeer vermy, nie net om mediese redes nie, maar ook om wetlike redes.”
’n Groot probleem met bloedoortappings is dat duisende mense al besmet is met dodelike siektes, onder andere vigs. Hoewel metodes om bloed te toets in baie plekke verbeter het, het dr. Godec gesê: “’n Potensiële gevaar ontstaan wanneer mense bloed skenk wat besmet is, maar nog nie teenliggaampies ontwikkel het wat deur bloedtoetse bespeur kan word nie.”
Dr. Godec sluit sy artikel af deur die vraag hierbo te beantwoord: “Namate geneeskundiges en chirurge ’n beter begrip van die fisiologie van suurstoftoevoer verkry en besef dat hemoglobienvlakke nie so hoog hoef te wees soos voorheen gedink is nie, word dit byna altyd moontlik vir hulle om alternatiewe vir oortappings te vind. Net ’n jaar gelede het hart- en leweroorplantingsoperasies met soveel bloedverlies gepaardgegaan dat dit altyd nodig geag is om groot hoeveelhede bloed te vervang. Nou is albei operasies al sonder oortappings gedoen.
“Dit is heel moontlik dat oortappings in die nabye toekoms heeltemal uitgeskakel sal word. . . . Oortappings is nie net duur en gevaarlik nie; dit is eenvoudig nie die beste behandeling wat pasiënte verdien nie.”