Vasgevang in ’n liefdelose huwelik
“In ’n gemeenskap met ’n hoë egskeidingsyfer is dit nie net waarskynlik dat meer ongelukkige huwelike op egskeiding sal uitloop nie, maar meer huwelike sal waarskynlik ook ongelukkig word.”—RAAD OOR GESINNE IN AMERIKA.
DAAR is al gesê dat baie van die geluk en baie van die ellende in die lewe ’n gemeenskaplike oorsprong het—’n mens se huwelik. Trouens, min dinge in die lewe het die potensiaal om soveel vreugde te verskaf—of soveel pyn te veroorsaak. Soos die bygaande venster toon, ervaar baie paartjies baie meer van laasgenoemde.
Maar egskeidingstatistiek openbaar net ’n deel van die probleem. Vir elke huwelik wat op die rotse beland, is daar talle ander wat nie skipbreuk ly nie, maar nogtans ernstige probleme het. “Ons was ’n gelukkige gesin, maar die afgelope 12 jaar was verskriklik”, het ’n vrou gesê wat al meer as 30 jaar getroud is. “My man stel nie in my gevoelens belang nie. Hy is in werklikheid my grootste emosionele vyand.” ’n Man wat byna 25 jaar getroud is, het eweneens gesê: “My vrou het vir my gesê sy het my nie meer lief nie. Sy sê dat sy die situasie sal kan verdra as ons net kamermaats kan wees en elkeen in sy vrye tyd sy eie ding doen.”
Party wat hulle in hierdie moeilike situasie bevind, beëindig natuurlik hulle huwelik. Maar vir baie is ’n egskeiding buite die kwessie. Waarom? Volgens dr. Karen Kayser kan faktore soos kinders, gemeenskapstigma, finansies, vriende, familie en godsdiensoortuiging ’n paartjie bymekaarhou, selfs in ’n liefdelose huwelik. “Hierdie paartjies sal waarskynlik nie ’n egskeiding aanvra nie”, sê sy, “maar hulle besluit om by ’n maat te bly van wie hulle emosioneel geskei is.”
Moet ’n paartjie wie se verhouding afgekoel het hulle in ’n lewe van ontevredenheid berus? Is ’n liefdelose huwelik die enigste alternatief vir ’n egskeiding? Ondervinding toon dat talle ongelukkige huwelike gered kan word—nie net van die pyn van ’n egskeiding nie, maar ook van die ongelukkigheid van ’n liefdelose huwelik.
[Venster op bladsy 3]
EGSKEIDING OOR DIE WÊRELD
• Australië: Die egskeidingsyfer is amper vier keer hoër as in die vroeë 1960’s.
• Brittanje: Volgens skattings sal 4 uit 10 huwelike in ’n egskeiding eindig.
• Japan en Kanada: Egskeiding raak ongeveer ’n derde van die huwelike.
• Verenigde State: Sedert 1970 het paartjies wat trou slegs ’n 50-50-kans om bymekaar te bly.
• Zimbabwe: Ongeveer 2 uit elke 5 huwelike eindig in egskeiding.