Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 2/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vullis in die see
  • Kinders en die okkulte
  • Sit warm kos dadelik in die yskas
  • Gevoelvolle rekenaarstemme
  • 500 jaar van verwoesting
  • Toekomstige vervoer wat nie besoedel nie
  • “Verpersoonlikte seëls”
  • Siektes versus rampe
  • Filatelie—’n boeiende stokperdjie en ’n reusebedryf
    Ontwaak!—1995
  • Aansteeklike siektes—Rampspoedige gevolge dog voorkombaar
    Ontwaak!—2001
  • Belangstelling in die okkulte—Is dit gevaarlik?
    Ontwaak!—2002
  • Peste in die 20ste eeu
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 2/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Vullis in die see

’n Glasbottel wat in die see gegooi word, sal duisend jaar neem om te vergaan. Sneesdoekies neem drie maande om te ontbind, en vuurhoutjies ses maande. Sigaretstompies sal die see van een tot 5 jaar besoedel; plastieksakke 10 tot 20 jaar; nylonartikels 30 tot 40 jaar; blikkies 500 jaar en polistireen 1 000 jaar. Hierdie skattings is van die inligting wat voorsien is deur Legambiente, ’n Italiaanse omgewingsorganisasie, om baaiers aan te moedig om bewus te wees van die omgewing wanneer hulle na die strand toe gaan. “Word hierdie gegewens nie oordryf nie?” vra die koerant Corriere della Sera. Die koerant antwoord: “Die 605 ton vullis wat van 1990 af tot nou toe deur vrywilligers van ‘Skoon strande’ langs die Italiaanse kus opgetel is, sê nee.”

Kinders en die okkulte

“Kinders word bedreig deur materiaal oor Satanisme en die okkulte wat op die Internet beskikbaar is”, sê ’n onderwysersunie, volgens die Londense koerant The Independent. ’n Britse opname vir die Vereniging van Onderwysers en Lektore (VOL) het aan die lig gebring dat meer as die helfte van die kinders tussen 11 en 16 jaar “in die okkulte en die bonatuurlike belanggestel het”, byna ’n kwart het “baie daarin belanggestel” en 1 uit 6 het beweer dat hulle “geskrik het” toe hulle die okkulte ondersoek het. Peter Smith, hoofsekretaris van die VOL, waarsku: “Jongmense kan maklik honderde verskillende webwerwe besoek oor heksery, die uitspreek van towerspreuke en bloedlatingstegnieke, sonder dat enige volwassene eers weet wat hulle lees. . . . Dit is ’n uiters kommerwekkende tendens onder jongmense. Ouers en onderwysers moet kinders en jongmense inlig oor die gevare daarvan om met die okkulte te eksperimenteer voordat hulle te diep daarby betrokke raak.”

Sit warm kos dadelik in die yskas

Dit is ’n fout om warm kos op ’n tafel te los sodat dit kan afkoel voordat dit in die yskas gesit word, sê Bessie Berry, bestuurder van die Amerikaanse Departement van Landbou se Vleis- en Pluimveeblitslyn. “Selfs kos wat pas uit die oond of van die plaat af kom”, moet dadelik in die yskas gesit word as dit nie geëet gaan word nie. Die Tufts University Health & Nutrition Letter verduidelik soos volg: “Hoe gouer jy gekookte kos in die yskas sit, hoe gouer sal enige skadelike bakterieë in die kos moontlik ophou om te vermenigvuldig.” Maar sal dit nie die yskas beskadig of die motor ooreis nie? Me. Berry sê nee. Moderne yskaste is ontwerp sodat warm kos daarin gesit kan word. Die idee dat dit nie gedoen kan word nie, kom dalk van die dae toe yshouers nog gebruik was en die hitte die ys laat smelt het. Twee voorsorgmaatreëls moet egter getref word: As jy iets groots wil verkoel—soos ’n hele hoender, ’n pot sop of ’n diep kastrol—moet dit eers in kleiner bakkies verdeel word, anders sal dit nie vinnig genoeg afkoel sodat die bakterieë ophou groei nie. En daar moet spasie tussen warm kos en ander kos in die yskas wees sodat die lug kan versprei en dit vinnig kan afkoel.

Gevoelvolle rekenaarstemme

In ’n poging om rekenaarstemme vriendeliker te laat klink, soek wetenskaplikes na maniere om die stemme meer gevoelvol te maak. Volgens die Duitse koerant Gießener Allgemeine het ’n navorsingspan aan die Tegniese Universiteit van Berlyn ontleed hoe stemme met verskillende emosies verander. Akteurs het sinne met ’n neutrale inhoud voorgelees in verskillende buie—kwaad, hartseer, vervelig, vrolik, bang of vies. Die sinne is toe ontleed—lettergreep vir lettergreep—vir toonhoogte, spoed, basiese frekwensie, stemsterkte en duidelike uitspraak. Die resultate het getoon dat ’n vrolike bui of ’n slegte bui die tempo versnel en die stemsterkte verhoog. Lettergrepe is beklemtoon en uitspraak was nog steeds goed. Wanneer mense verveeld, bevrees of hartseer was, het hulle stadiger en onduidelik gepraat en die toonhoogte verander. Vrees het die stem ongeveer ’n oktaaf hoër laat styg. Met verdriet het die stembande liggies getril, en die stem het hees geword en die toonhoogte was laer. Die eienskappe is op kunsmatige stemme toegepas om te sien of luisteraars “die regte emosionele toestand [kon] herken”. Daar is veral belangstelling in hierdie studie getoon deur dié wat met sintetiese spraak en outomatiese spraakherkenning werk.

500 jaar van verwoesting

Brasilië het 37 persent van sy drie vernaamste ekosisteme verloor sedert kolonisasie ongeveer 500 jaar gelede begin het. Dit is wat ’n onlangse opname deur die Wêreld-natuurfonds (WWF) toon. Tot op hede is “93 persent van die Atlantiese woude, 50 persent van die savanne en 15 persent van die Amasonestreek al vernietig”, berig die koerant O Estado de S. Paulo. Garo Batmanian, uitvoerende direkteur van die WWF in Brasilië, sê: “Toe die Portugese hier aangekom het, het hulle welige woude en baie meer water gekry as wat hulle ooit vantevore gesien het. Dit het tot die mite gelei dat alles wat hier geplant word, floreer en dat daar geen rede is om Europese tegnologie by die plaaslike omstandighede aan te pas nie.” Dit, het hy gesê, het aanleiding gegee tot die verwoesting van Brasilië se Atlantiese woude.

Toekomstige vervoer wat nie besoedel nie

“Brandstofseltegnologie wat moontlik ’n omwenteling in die wêreldwye motornywerheid gaan veroorsaak, is nou op die mark”, berig die koerant The Australian. Brandstofseltegnologie is veral geskik vir busse in die stad omdat dit baie minder raas en geen besoedelde uitlaatgasse vrystel nie. Die busse sal ’n afstand van 300 kilometer kan aflê, ’n topspoed van 80 kilometer per uur kan bereik en 70 passasiers kan vervoer. Hierdie busse sal aan vervoermaatskappye oor die hele Europa vir ’n aanvangsprys van oor die R7 miljoen aangebied word, en hulle sal na verwagting teen die einde van 2002 in gebruik wees. In die toekoms kan brandstofselle ook in motors gebruik word, maar op die oomblik het hulle nog nie die produksiestadium bereik nie. “Ons moet die koste, grootte en gewig van die brandstofsel-stelsels verminder sodat ons met binnebrandmotors kan meeding”, sê professor Ferdinand Panik.

“Verpersoonlikte seëls”

“Verpersoonlikte seëls, die jongste produk vir ’n egosentriese eeu, is vir die eerste keer in Kanada vrygestel”, berig The New York Times. Individue kan hulle pos nou ’n bietjie meer persoonlik maak “met ’n foto van die nuwe baba, die nuwe gegradueerde, die gelukkige paartjie of die getroue hond”. Aansoekers stuur net ’n vorm in saam met ’n foto en die geld. In ruil hiervoor kry hulle ’n vel papier met 25 selfklewende glansraampies met die woord “Canada” en die posgeld daarop en ’n tweede vel papier met kopieë van die foto, wat in die glansraampies kom. Dit kos egter twee keer soveel as gewone seëls. Daarbenewens is groeteplakkers beskikbaar wat “klante sal toelaat om hulle korrespondensie volgens hulle bui of boodskap aan te pas”, het Micheline Montreuil, direktrise van seëlprodukte vir Kanada Pos, gesê. Australië, Brittanje, Singapoer en Switserland, wat nie agter wil bly nie, het ook met hulle weergawe van verpersoonlikte seëls vorendag gekom. Hierdie eindelose verskeidenheid kan vir versamelaars ’n uitdaging wees.

Siektes versus rampe

Hoewel rampe, soos vloede en aardbewings, die grootste publisiteit geniet, eis besmetlike siektes baie meer lewens, sê ’n verslag van die Rooi Kruis. The New York Times sê in ’n kommentaar hieroor: “Verlede jaar was die sterftesyfer vir besmetlike siektes soos vigs, tering en malaria 160 keer hoër as die aantal mense wat verlede jaar gesterf het in aardbewings in Turkye, siklone in Indië en vloede in Venezuela . . . Na raming het 150 miljoen mense sedert 1945 aan net hierdie drie siektes gesterf in vergelyking met 23 miljoen in oorloë tydens dieselfde tydperk.” Volgens Peter Walker, skrywer van die verslag, is swak openbare gesondheid die hoofoorsaak. “Dit lyk of daar in byna elke land ’n gesondheidstelsel is, maar buite die stede is daar niks nie”, het hy gesê. Verlede jaar se 13 miljoen sterftes weens besmetlike siektes kon verhoed geword het as daar net R35 per persoon aan gesondheidsorg bestee is. Die artikel sluit af: “Geld wat gebruik word om mense se gedrag te verander, spaar meer lewens as geld wat gebruik word vir duur hospitale en hipertegnologiese toerusting.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel