Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/22 bl. 9-11
  • Wat is die toekoms van wapenbeheer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die toekoms van wapenbeheer?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vurige geskille
  • Hoe pikke van swaarde gesmee gaan word
  • Kleingewere, groot probleme
    Ontwaak!—2001
  • Vuurwapens—’n leefwyse
    Ontwaak!—1990
  • Die werklikheid van moderne oorlogvoering
    Ontwaak!—2001
  • Vuurwapens—’n weg van die dood
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/22 bl. 9-11

Wat is die toekoms van wapenbeheer?

IN ONLANGSE jare het regerings regoor die wêreld maniere bespreek om die onwettige handel in kleingewere te bekamp. Die saak is deur die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering ondersoek. Verslae is voorberei, aanbevelings is gedoen en voorstelle is aangeneem. Kritici wys egter daarop dat die grootste wapenhandelaars—regerings self—ondersoeke vryspring as daar slegs op die swartmark gekonsentreer word.

Daar is in werklikheid ’n vae onderskeid tussen wettige en onwettige wapenverkope. Baie onwettige wapens is vroeër wettig verkoop. Wapens wat aanvanklik aan weermagte of polisiedepartemente verkoop is, word dikwels gesteel en op die swartmark verkoop. Daarbenewens is dit nie ongewoon vir wapens om weer aan ’n tweede party verkoop te word sonder die kennis of toestemming van die oorspronklike verkoper nie. ’n Artikel in die tydskrif Arms Control Today sê: “Landsregerings veral sal meer moet doen as om pogings te ondersteun om die onwettige handel in ligte wapens hok te slaan en sal hulle eie rol in die huidige wettige wapenhandel moet ondersoek.” Hoewel baie hoop dat lande uiteindelik in die handel in kleingewere sal ingryp, het een joernalis gesê: “Met die vyf permanente lede van die [Verenigde Nasies se Veiligheids]raad wat alleen vir meer as 80% van die wêreld se wapenhandel verantwoordelik is, moet ons miskien nie ons asem ophou nie.”

Wat bydra tot die probleem om die vloei van kleingewere en ligte wapens te bekamp, is dat sulke wapens betreklik maklik is om te vervaardig. Terwyl die ver-vaardiging van gesofistikeerde wapens soos tenks, vliegtuie en oorlogskepe net tot ongeveer 12 lande beperk is, is daar nou meer as 300 vervaardigers in ongeveer 50 lande wat ligte wapens vervaardig. Die groot en toenemende aantal vuurwapenvervaardigers vergroot nie net lande se arsenale nie, maar vermenigvuldig ook die geleenthede om wapens aan burgermagte, rebellegroepe en kriminele organisasies beskikbaar te stel.

Vurige geskille

So ver het ons hoofsaaklik gekonsentreer op die gebruik van kleingewere in oorloggeteisterde lande. Maar geskille oor vuurwapenbeheer word vurig betwis in betreklik stabiele lande waar daar nie oorlog is nie. Die voorstanders van streng wette vir vuurwapenbeheer beweer dat meer vuurwapens tot meer moorde lei. Hulle voer aan dat daar in die Verenigde State, waar beheermaatreëls nie streng is nie en vuurwapens volop is, ’n hoë per capita moordsyfer is, maar in Engeland, waar daar streng beheermaatreëls vir vuurwapens is, ’n lae moordsyfer is. Teenstanders van wette vir vuurwapenbeheer is vinnig om te antwoord dat vuurwapens in Switserland maklik verkrygbaar is, maar dat moordsyfers laag is.

Wat sake ingewikkelder maak, is dat die Verenigde State volgens sekere studies ’n nievuurwapen-moordsyfer het wat hoër is as die totale moordsyfer van baie Europese lande. Maar daar is ander lande met nievuurwapen-moordsyfers wat hoër is as die totale moordsyfer in die Verenigde State.

Statistiek word dikwels gebruik—en misbruik—om ’n spesifieke standpunt te steun. En in die arena van vuurwapenbeheer lyk dit of daar vir elke argument ’n skynbaar aanvaarbare teenargument is. Die kwessies is kompleks. Oor die algemeen stem kenners egter saam dat baie faktore, buiten die besit van ’n vuurwapen, moordsyfers en misdaad beïnvloed.

Die invloedryke Nasionale Geweervereniging in die Verenigde State sê dikwels: “Vuurwapens maak nie mense dood nie; mense maak mense dood.” Volgens hierdie beskouing maak ’n vuurwapen nie vanself dood nie, hoewel dit ontwerp is om dood te maak. Iemand moet die sneller trek, doelbewus of per ongeluk. Vuurwapens maak dit natuurlik, soos party sal redeneer, makliker vir mense om mense dood te maak.

Hoe pikke van swaarde gesmee gaan word

Volgens die Bybel sal die probleem van mense wat mense doodmaak nie opgelos word deur bloot vuurwapens uit die hande te neem van diegene wat moord wil pleeg nie. Misdaad is ’n maatskaplike probleem, nie net ’n wapenprobleem nie. Die ware oplossing lê daarin om die gesindhede en neigings van mense self te verander. Die profeet Jesaja is geïnspireer om te skryf: “[God] sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.

Dit is nie so vergesog soos party dalk dink nie. Jesaja se profesie word vandag wêreldwyd onder ware Christene vervul. Hulle simboliese omskepping van wapens in instrumente van vrede weerspieël ’n diep innerlike begeerte om God te behaag en in vrede met ander te lewe. Onder God se Koninkryk sal almal op aarde mettertyd in algehele vrede en veiligheid lewe (Miga 4:3, 4). Vuurwapens sal nie mense doodmaak nie. Mense sal nie mense doodmaak nie. Instrumente van die dood sal iets van die verlede wees.

[Prente op bladsy 10]

“Hulle sal van hul swaarde pikke smee”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel