Daardie verbasende orgaan—ons hart!
“EK LOOF U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed” (Psalm 139:14). Daardie woorde van waardering van die psalmis Dawid moet diep in ons weerklank vind, want die Skepper het waarlik ons liggame op ’n wonderbaarlike en ontsag wekkende wyse gemaak.
In sy boek Man the Unknown het Alexis Carrel, ’n Nobelpryswenner, die volgende gesê oor bloed, “die lewensrivier” wat deur ons slagare en are vloei: “Dit dra die regte voeding na elke sel. Dit dien terselfdertyd as ’n belangrike rioolpyp wat die afvalprodukte wat deur lewende weefsels vrygestel word, afvoer. Dit bevat ook chemiese stowwe en selle, wat, waar nodig, organe kan herstel. Hierdie eienskappe is inderdaad eienaardig. Wanneer dit sulke verbasende take verrig, tree die bloedstroom op soos ’n sterk stroom wat met behulp van die modder en die bome wat in die stroom dryf, die huise op sy oewers herstel” (Bladsye 77, 78). Ja, stel jou voor dat die liggaam se voedsel en afvalstowwe deur dieselfde stroom vervoer word en mekaar nooit teëwerk nie! En wat laat hierdie lewensrivier deur ons hele liggaam vloei? Die hart!
Die hart is inderdaad ’n blyk van die Skepper se wysheid. Dit is ’n hol spierorgaan omtrent so groot soos ’n mens se vuis. In mans weeg dit 300 gram en in vroue 250 gram. Dit bestaan uit vier kamers, ’n atrium en ventrikel aan die regterkant en ’n atrium en ventrikel aan die linkerkant. Die regteratrium ontvang die bloed nadat dit deur die hele liggaam gesirkuleer het. Wanneer die atrium vol word, word die bloed na die ventrikel en vandaar na die longe gepomp. ’n Reeks kleppe verhinder dat die bloed terugvloei. In die longe gee die bloed sy koolstofdioksied af terwyl dit terselfdertyd die broodnodige suurstof opneem. Van die longe af vloei die bloed na die linkeratrium. Vandaar word dit gepomp na die linkerventrikel en dan na die hele liggaam sodat die bloed al die selle van die liggaam kan voed en hulle afvalprodukte kan wegvoer.
Daar is dus in werklikheid twee pompe en twee kringlope. Die twee effens kleiner regterhartkamers sorg dat die bloed deur die longe vloei, en die twee groter en sterker linkerhartkamers voorsien bloed aan die hele liggaam. Daar is altesaam nagenoeg 97 000 kilometer bloedvate—slagare, are en haarvate.
Wat bou betref, bestaan die hart uit die ingewikkeldste spierweefsel in die liggaam. Wanneer ’n man so vinnig hardloop as wat hy kan, stel hierdie unieke spier sy hart in staat om dubbel so hard te werk as sy ander spiere. Daardie spiere word gou moeg, maar die hartspier werk onophoudelik van die wiegie tot die graf. Daar moet darem bygevoeg word dat die hart ’n kort rusperiode na elke klop het. Met geboorte klop die hart ongeveer 150 keer per minuut, maar in die volwasse persoon neem dit af tot ongeveer 72 slae per minuut.a In ’n lewe van om en by 70 jaar sou die hart nagenoeg 4 000 miljoen keer geklop het. En in daardie tydperk sou dit ongeveer 174 miljoen liter bloed gepomp het. Die hart sal dubbel so vinnig klop wanneer ons strawwe oefening doen, en dit klop ook vinniger wanneer ons opgewonde, bang of kwaad word en berei ons aldus voor om “te veg of te vlug”.
Nog ’n baie merkwaardige feit omtrent die hart is dat dit sy eie energie verskaf. Die outonome senustelsel is verantwoordelik vir die roeraksie van die maag wanneer dit voedsel voorberei vir spysvertering en dit is ook verantwoordelik vir die ritmiese beweging van die ingewande waardeur die liggaam se afvalmateriaal vorentoe beweeg word om eindelik uitgewerp te word. Maar die hart het sy eie energiebron, die pasaangeër. Hierdie feit het maar onlangs eers aan die lig gekom. Die fetus se hart begin dus pomp voor dit van enige senuwees voorsien is. En daar is bevind dat die hart aanhou klop nadat dit uit die liggaam verwyder is, en dat dit veral die geval is as die hart van bloed voorsien word.
So ’n lewensbelangrike, hardwerkende orgaan moet beslis goed behandel word. Dit beteken dat dit die regte voeding en die nodige rus moet kry, asook oefening, om dit sterk te hou. Veral tabak moet geheel en al vermy word. Daarbenewens moet die goeie dinge in die lewe op ’n gebalanseerde en matige wyse geniet word.
Omdat die hart so ’n lewensbelangrike orgaan is, word dit dikwels in die Bybel gemeld. Maar soos ons nou sal sien, beklemtoon die Bybel die figuurlike eerder as die letterlike hart.
[Voetnoot]
a ’n Wet wat skynbaar vir alle soogdiere geld, is: hoe kleiner die liggaam, des te vinniger klop die hart. Die hart van die spitsmuisie klop byvoorbeeld ongeveer 1 000 keer per minuut, terwyl die hart van sommige walvisse slegs 15 keer per minuut klop.