Die bedreiging van terrorisme
IN DIE laat 1980’s het dit gelyk of terrorisme afneem. Maar ’n nuwe geslag terroriste het op die toneel verskyn. Vandag kom die terroristebedreiging hoofsaaklik van ekstremiste wat hulle eie finansieringsnetwerke tot stand gebring het—deur dwelmsmokkelary, private ondernemings, persoonlike rykdom, skenkings en plaaslike finansiële ondersteuning. En hulle is nog net so genadeloos soos altyd.
In onlangse jare was daar ’n skerp toename in die aantal sinnelose terreurdade. Ses mense het omgekom en ongeveer 1 000 is beseer in ’n bomontploffing by die World Trade Center in New York-stad. ’n Kultus het sariensenuweegas in Tokio se moltreinstelsel vrygestel, wat 12 lewens geëis en meer as 5 000 beseer het. Nog 168 mense is dood en honderde beseer toe ’n terroris ’n federale gebou in Oklahoma City met ’n vragmotorbom opgeblaas het. Soos die kaart op bladsye 4 en 5 toon, word verskillende soorte terreurdade steeds gepleeg.
Dit lyk oor die algemeen of terroriste genadeloser is as in die verlede. Die veroordeelde bomplanter wat in 1995 vir die bomontploffing by die federale gebou in Oklahoma City verantwoordelik was, het volgens berig gesê dat baie mense moes sterf omdat hy baie publisiteit wou hê. Die leier van die groep wat in 1993 vir die bomaanval by die World Trade Center in New York-stad verantwoordelik was, wou een gebou bo-op die ander een laat val en al die mense daarin doodmaak.
Wat ook nuut is, is die keuse van wapens wat tot terroriste se beskikking is. Louis R. Mizell jr., ’n deskundige op die gebied van terrorisme, het gesê: “Ons lewe in ’n eeu van ondenkbare woede en apokaliptiese arsenale: kern-, chemiese en biologiese wapens.” Ekstremiste wat groter skade wil aanrig, gebruik dodeliker wapens wat die tegnologie beskikbaar gestel het.
Kuberaanvalle
Sogenaamde kuberterrorisme behels die gebruik van moderne tegnologie, soos rekenaars. Een wapen is die rekenaarvirus, wat data vernietig of stelsels laat vries. Daar is ook “logikabomme” wat rekenaars fop om dinge te probeer doen wat hulle nie kan nie sodat hulle foutief werk. Namate die ekonomie en die sekuriteit van lande al hoe afhankliker van inligtingsnetwerke raak, meen baie dat die publiek kwesbaarder vir sulke terroristeaanvalle is. En hoewel die meeste weermagte stelsels het om hulle kommunikasiekanale selfs gedurende ’n kernoorlog oop te hou, is burgerlike stelsels—elektrisiteitsvoorsiening, vervoer en finansiële markte—moontlik kwesbaarder vir sabotasie.
Tot onlangs toe nog sou ’n terroris wat byvoorbeeld ’n kragonderbreking in Berlyn wou veroorsaak, dalk ’n werk as ’n elektrisiën by ’n kragvoorsieningsmaatskappy soek sodat hy die elektrisiteitstelsel kan saboteer. Maar nou, sê party, kan ’n opgeleide rekenaarinbreker die stad se elektrisiteit afsny van sy huis af in ’n afgeleë dorpie aan die ander kant van die wêreld.
Nie lank gelede nie het ’n rekenaarinbreker van Swede by ’n rekenaarstelsel in Florida ingebreek en ’n nooddiensstelsel ’n uur lank buite aksie gestel, wat die werk van polisie-, brandweer- en ambulansdienste belemmer het.
“Ons het in werklikheid ’n wêrelddorp sonder ’n polisiemag geskep”, het Frank J. Cilluffo gesê, direkteur van die Inligtingsoorlogvoering-taakgroep van die Sentrum vir Strategiese en Internasionale Studies (CSIS). En Robert Kupperman, senior raadgewer van die CSIS, het in 1997 gesê dat daar “tans geen staatsinstansie is wat opgewasse sal wees teen die gevolge van ’n aanval” indien terroriste sou besluit om hipertegnologiese metodes te gebruik nie.
Party ontleders meen dat rekenaarterroriste die tegnologiese middele het om enige sekuriteitsmaatreël te uitoorlê wat veiligheidsmagte instel. “’n Vyand wat die regte virus kan plant of tot die regte terminaal toegang kan kry, kan baie groot skade aanrig”, het George Tenet, direkteur van die Amerikaanse Sentrale Inligtingsagentskap, gesê.
Terreur met chemiese middels en kieme
Mense is ook bekommerd oor die gebruik van chemiese en biologiese wapens. Vroeg in 1995 was die wêreld geskok om te hoor van die gasaanval deur terroriste in Tokio se moltreinstelsel. ’n Apokaliptiese sekte is hiervoor verantwoordelik gehou.
“Terrorisme het verander”, sê Brad Roberts van die Instituut vir Verdedigingsontleding. “Tradisionele terroriste wou politieke toegewings hê. Maar nou sê party groepe dat hulle hoofdoel ’n hoë dodetal is. Dit maak biologiese wapens aantreklik.” Is dit moeilik om sulke wapens in die hande te kry? Die tydskrif Scientific American sê: “’n Mens kan sonder veel persoonlike gevaar biljoene bakterieë kweek met eenvoudige toerusting soos ’n gistenk, ’n kultuur met ’n proteïenbasis, ’n gasmasker en ’n plastiekoorjas.” Wanneer die kieme gekweek is, is dit betreklik maklik om hulle te versprei. Die slagoffers sal nie eers tot ’n dag of twee later weet dat ’n wapen teen hulle gebruik is nie. En dan kan dit al te laat wees.
Wanneer dit by die keuse van ’n biologiese wapen kom, sal miltsiekte (antraks) heel moontlik gebruik word. Die siekte kry sy naam van die Griekse woord vir steenkool—omdat swart rowe gewoonlik oor die sere vorm op die vel van diegene wat met antraksbesmette vee in aanraking kom. Verdedigingsbeplanners is meer besorg oor mense wat longinfeksies kry wanneer antrakspore ingeasem word. Daar is ’n hoë sterftesyfer onder mense met miltsiekte.
Waarom is miltsiekte so ’n doeltreffende biologiese wapen? Die bakterie is maklik om te kweek en baie gehard. Dit sal etlike dae neem voor die slagoffers die eerste simptome begin kry, ’n grieperige gevoel en moegheid. Daarna begin hulle hoes en effense ongerief op die bors voel. Dit word gevolg deur ernstige asemhalingsprobleme, skok en die dood binne ’n paar uur.
Kernwapens in die hande van terroriste?
Ná die val van die Sowjetunie het party gewonder of ’n gesteelde kernwapen op die swartmark sou beland. Baie deskundiges twyfel egter of dit ooit sal gebeur. Robert Kupperman, wat vroeër aangehaal is, sê dat daar “geen bewyse is dat enige terroristegroep kernmateriaal probeer kry het nie”.
Tans is ’n groter rede tot kommer die kernbom se stil, maar dodelike neef—radioaktiewe materiaal. Dit ontplof nie. Daar is geen skade weens ’n ontploffing of hitte nie. In stede daarvan stuur dit strale uit wat individuele selle vernietig. Beenmurgselle is veral vatbaar hiervoor. Wanneer hulle sterf, het dit ’n hele reeks nagevolge, insluitende bloeding en die agteruitgang van die immuunstelsel. Anders as chemiese wapens, wat ontbind wanneer dit met suurstof en vog in aanraking kom, kan radioaktiewe materiaal jare later nog steeds skade aanrig.
’n Ongeluk in Goiânia, ’n stad in suidsentraal Brasilië, toon hoe dodelik bestraling kan wees. In 1987 het ’n niksvermoedende man ’n loodhouer oopgemaak wat geheg was aan ’n stuk mediese toerusting wat weggegooi is. Daar was sesium-137 in die houer. Die glimmende blou kleur van die steen het hom gefassineer, en hy het dit vir sy vriende gewys. Binne ’n week het die eerste slagoffers na die plaaslike kliniek begin kom. Duisende is vir tekens van besmetting ondersoek. Omtrent honderd inwoners het siek geword. Vyftig moes in die hospitaal opgeneem word, en vier is dood. Die gedagte aan wat kon gebeur het as iemand die sesium moedswillig versprei het, gee antiterrorisme-deskundiges nagmerries.
Die ongelooflike koste
Die tragiese verlies aan menselewens is die ooglopendste gevolg van terrorisme. Maar die gevolge is verreikender. Terrorisme kan die vredesproses in die wêreld se konflikgeteisterde gebiede beëindig of vertraag. Dit ontketen, verleng of vergroot konflikte, en dit versnel die kringloop van geweld.
Terrorisme kan ook ’n uitwerking op die ekonomie van lande hê. Regerings word gedwing om ontsaglike hoeveelhede tyd en hulpbronne te gebruik om dit te beveg. In die Verenigde State alleen is daar byvoorbeeld in die jaar 2000 meer as R70 miljard begroot om terrorisme te beveg.
Terrorisme raak ons almal, of ons daarvan bewus is of nie. Dit beïnvloed hoe ons reis en die keuses wat ons maak wanneer ons reis. Dit dwing lande regoor die wêreld om baie van hulle belastinggeld te gebruik om openbare figure, noodsaaklike installasies en burgers te beskerm.
Die vraag bly dus: Is daar ’n blywende oplossing vir die plaag van terrorisme? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Terrorisme in die naam van omgewingsbewaring
Daar is ’n nuwe soort terreur wat die vorm aangeneem het van “brandstigting, bomaanvalle en sabotasie in die naam van die bewaring van die omgewing en sy dierelewe”, berig die koerant Oregonian. Hierdie aanvalle is al ekoterrorisme genoem. Sedert 1980 was daar ten minste honderd ernstige gevalle van ekoterrorisme in die westelike deel van die Verenigde State, en altesaam R328,7 miljoen se skade is aangerig. Die doel van sulke misdade is gewoonlik om houtkappery, die gebruik van wildernisgebiede vir ontspanning of die gebruik van diere vir pelse, voedsel of navorsing te ontwrig.
Hierdie dade word as terreurdade beskou omdat geweld gebruik word met die doel om die optrede van individue en instellings te verander of om die regeringsbeleid te wysig. Ekoterroriste gee speurders hoofbrekens deur afgesonderde teikens, dikwels in die nag, aan te val en behalwe vir die uitgebrande oorblyfsels laat hulle min bewyse agter. Tot onlangs toe het misdade wat in die naam van omgewingsbewaring gepleeg is, ’n beperkte, plaaslike impak gehad en het dit min aandag getrek. Maar in onlangse jare het die teikens groter geword. “Hierdie mense se doel is om die aandag te vestig op die saak waarvoor hulle hulle beywer”, het spesiale agent James N. Damitio, ’n veteraanspeurder van die Amerikaanse Bosboudepartement, gesê. “En as hulle dink dat hulle nie daardie aandag kry nie, probeer hulle iets anders.”
[Venster/Prent op bladsy 10]
Terrorisme en die media
“Publisiteit is ’n belangrike doelwit sowel as ’n wapen van diegene wat terreur teen onskuldige mense gebruik om politieke strewes te bevorder of eenvoudig chaos te veroorsaak”, sê Terry Anderson, ’n joernalis wat byna sewe jaar lank deur terroriste in Libanon aangehou is. “Net die feit dat daar verslag gelewer word oor ’n politieke ontvoering, ’n sluipmoord of ’n dodelike bomaanval is alreeds ’n oorwinning vir die terroriste. Sonder die wêreld se aandag is hierdie bose dade betekenisloos.”
[Prente op bladsy 8, 9]
1. ’n Selfmoordbomaanval in Jerusalem, Israel
2. Etniese terroriste is verantwoordelik vir ’n bomaanval by ’n bank in Colombo, Sri Lanka
3. ’n Motorbom ontplof in Nairobi, Kenia
4. Familie van die slagoffers van ’n bomontploffing in Moskou, Rusland
[Erkennings]
Heidi Levine/Sipa Press
A. Lokuhapuarachchi/Sipa Press
AP Photo/Sayyid Azim
Izvestia/Sipa Press