Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 9/22 bl. 5-9
  • Stil wapens—Hoe groot is die gevaar?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stil wapens—Hoe groot is die gevaar?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pogings om biologiese wapens te verbied
  • Tegnologiese struikelblokke vir terroriste
  • Die slegte nuus
  • Ontwerp om siektes te veroorsaak
  • “Donker winter”
    Ontwaak!—2002
  • Die bedreiging van terrorisme
    Ontwaak!—2001
  • Die soeke na oplossings
    Ontwaak!—2002
  • Die kernbedreiging—nog lank nie verby nie
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 9/22 bl. 5-9

Stil wapens—Hoe groot is die gevaar?

POGINGS om in oorlogstyd lewens deur middel van siektes uit te wis, is niks nuuts nie. Gedurende die 14de eeu is die lyke van pesslagoffers in oostelike Europa met ’n katapult oor die mure van ’n beleërde stad geskiet. In ’n voorval 400 jaar later het Britse amptenare by ’n vredesonderhandeling gedurende die Franse en Indiaanse Oorlog opsetlik pokkiesbesmette komberse vir Indiane gegee. Dit het ’n epidemie veroorsaak wat daartoe bygedra het dat die Indiane oorgegee het. Maar eers aan die einde van die 19de eeu is daar uitgevind dat mikrobes aansteeklike siektes veroorsaak. Hierdie begrip het nuwe en skrikwekkende moontlikhede gebied om siektes as wapens te gebruik.

Mediese en wetenskaplike vooruitgang het natuurlik ook daartoe gelei dat geneesmiddels en entstowwe ontwikkel is. Dit is baie suksesvol in die behandeling en voorkoming van siektes. Maar ondanks hierdie vooruitgang bly aansteeklike siektes ’n gedugte vyand wat die dood van meer as 17 miljoen mense per jaar veroorsaak—ongeveer 50 000 per dag. Dit is ’n ysingwekkende ironie: Terwyl briljante mans en vroue hulle lewe daaraan wy om siektes in mense te oorwin, spits ander hulle met ewe groot ywer en kundigheid daarop toe om mense deur siektes te oorwin.

Pogings om biologiese wapens te verbied

Meer as 25 jaar lank het die Verenigde State, die voormalige Sowjetunie en verskeie ander nasies hulle eersugtig op die ontwikkeling van biologiese wapens toegelê. Maar in 1972 het die nasies ooreengekom om hierdie wapens te verbied. Party lande het egter in die geheim met ontwikkeling en navorsing voortgegaan en groot hoeveelhede dodelike biologiese agense opgegaar en ook maniere ontwikkel om dit af te lewer.

Wat het tot die amptelike verbod op sulke wapens gelei? Volgens die beskouing van die vroeë 1970’s is biologiese agense, hoewel dit uiters dodelik is, swak wapens op die slagveld. Een rede hiervoor is dat die uitwerking nie onmiddellik is nie—dit duur ’n ruk voordat simptome verskyn. Nog ’n rede is dat die doeltreffendheid daarvan aan veranderings van die wind en weer onderhewig is. Ook het nasies besef dat, as een nasie biologiese wapens teen ’n ander nasie sou gebruik, die teikennasie waarskynlik met sy eie arsenaal biologiese wapens of met kernwapens ’n teenaanval sou maak. Laastens was dit vir baie mense sedelik afstootlik om lewende organismes opsetlik te versprei om hulle medemens buite aksie te stel of dood te maak.

Dit is onwaarskynlik dat enigeen van hierdie redes haatdraende mense sal keer wat bereid is om tradisionele sedelike standaarde te verontagsaam. Biologiese wapens vind groot byval by diegene wat daarop uit is om mense voor die voet dood te maak. Hierdie wapens kan in die geheim ontwikkel en gebruik word. Die aanvaller se identiteit kan verborge bly, en al is die aanvaller bekend, is dit nie maklik om ’n teenaanval op ’n terroristenetwerk met groepe aktiviste in baie lande te maak nie. Boonop kan ’n stil, onsigbare, stadigwerkende en dodelike biologiese aanval ’n bevolking deur paniek alleen ontwrig. Aanvalle op gesaaides of vee kan voedseltekorte en ekonomiese rampspoed meebring.

Nog ’n dryfveer is die feit dat dit betreklik goedkoop is om biologiese wapens te ontwikkel. Een ontleding het vergelyk hoeveel dit sou kos om verskillende wapens te gebruik om die onbeskermde burgerlikes in ’n gebied van een vierkante kilometer dood te maak. Die geraamde koste is op R20 000 gestel as gewone wapens gebruik word, R8 000 vir kernwapens, R6 000 vir senuweegaswapens en R10 vir biologiese wapens.

Tegnologiese struikelblokke vir terroriste

Mediaberigte sê dat party terroristegroepe proefnemings met biologiese wapens gedoen het. Maar daar is ’n baie groot verskil tussen proefnemings met biologiese wapens en ’n werklike aanval daarmee.

’n Terroris of terroristeorganisasie moet ontsaglike tegniese uitdagings die hoof bied om suksesvol te wees. Eerstens moet die terroris ’n siekteverwekker bekom wat dodelik genoeg is. Tweedens moet hy weet hoe om die siekteverwekker reg en veilig te hanteer en te berg. Derdens moet hy weet hoe om dit op groot skaal te vervaardig. Baie klein hoeveelhede van ’n mikro-organisme is dodelik genoeg om ’n land gesaaides, ’n trop diere of ’n stad mense te verwoes, mits die siekteverwekker reg by die teiken afgelewer word. Maar biologiese agense bly nie maklik buite die laboratorium aan die lewe nie. In werklikheid sal net ’n breukdeel van die biologiese agens die teikenbevolking bereik, en daarom sal baie groter hoeveelhede nodig wees om ’n rampspoedige aanval te loods.

Daar is nog struikelblokke. Die terroris moet verstaan hoe om die siekteverwekker lewend en kragtig te hou terwyl dit vervoer word van waar dit geberg word tot waar dit vrygestel sal word. Laastens moet hy weet hoe om die siekteverwekker doeltreffend te versprei. Dit beteken dat hy moet seker maak dat die siekteverwekker by die teiken afgelewer word in deeltjies van die regte grootte, dat dit oor ’n groot genoeg geografiese gebied vrygestel word en dat daar genoeg is om grootskaalse besmetting te veroorsaak. Dit het ’n span hoogs opgeleide Amerikaanse navorsers van bakteriologiese oorlogvoering meer as tien jaar geneem om met ’n betroubare afleweringstelsel vir biologiese wapens vorendag te kom. Wanneer ’n biologiese agens in die atmosfeer versprei word, word dit aan sonlig en wisselende temperature blootgestel, wat die mikro-organisme kan laat doodgaan. Iemand wat ’n agens as wapen wil gebruik, moet dus breedvoerige kennis hê van hoe biologiese organismes in die lug optree.

Aangesien daar soveel tegnologiese struikelblokke is, is dit nie verbasend dat daar maar min terroristeaanvalle met biologiese wapens onderneem is nie. Hierdie pogings het boonop min sterfgevalle tot gevolg gehad. Briewe met antraks daarin het onlangs die dood van vyf mense in die Verenigde State veroorsaak. Dit is tragies genoeg, maar die sterfgevalle was minder as wat ’n klein ploftoestel of selfs ’n pistool kon veroorsaak het. Navorsers bereken dat daar sedert 1975 hoogstens drie mense wêreldwyd gesterf het of beseer is in 96 persent van die aanvalle waarin chemiese of biologiese agense gebruik is.

Die Brits-Amerikaanse Raad vir Veiligheidsinligting het besef hoe moeilik dit is om ’n suksesvolle biologiese aanval te doen en het gesê: “Al ontvang regerings ’n menigte dreigemente van chemiese en biologiese terrorisme, meen die meeste ontleders dat die rampspoedige scenario’s met baie sterfgevalle, hoewel moontlik, hoogs onwaarskynlik is.” Maar al is so ’n aanval dalk nie baie waarskynlik nie, kan die gevolge skrikwekkend wees.

Die slegte nuus

Tot dusver het ons die goeie nuus bespreek: Tegnologiese struikelblokke sowel as die geskiedenis toon dat rampspoedige biologiese aanvalle onwaarskynlik is. Die slegte nuus is kortom: Die geskiedenis is nie ’n goeie gids vir die toekoms nie. Al het aanvalle in die verlede grotendeels misluk, kan toekomstige aanvalle slaag.

Daar is rede tot kommer. Al hoe meer terroriste is blykbaar vasbeslote om baie mense op ’n slag dood te maak. Die tegnologiese bedrewenheid van terroristegroepe neem nie net toe nie, maar party terroristegroepe het ook geldelike en tegniese hulpmiddels wat met dié van sommige regerings vergelykbaar is.

Deskundiges is blykbaar nie bekommerd dat nasies biologiese wapens aan terroristegroepe sal gee nie. ’n Ontleder het gesê: “Al is regerings ook hoe genadeloos, eersugtig en ekstremisties in hulle ideologie, hulle sal huiwerig wees om onkonvensionele wapens aan terroristegroepe te gee oor wie hulle nie volle beheer kan uitoefen nie; die regerings sal dalk self hierdie wapens in ’n eerste aanval wil gebruik, maar dit is waarskynliker dat hulle dit vir intimidasie as vir oorlogvoering sal gebruik.” Deskundiges is wel bekommerd oor die moontlikheid dat hoogs opgeleide wetenskaplikes met groot geld gelok kan word om vir terroristegroepe te werk.

Ontwerp om siektes te veroorsaak

Vooruitgang in biotegnologie is ook ’n rede tot kommer. Wetenskaplikes weet reeds hoe om bestaande siekteverwekkers te wysig sodat dit buitengewoon dodelik is maar makliker om mee te werk. Hulle kan onskadelike mikro-organismes geneties wysig om toksiene voort te bring. Organismes kan ook gemanipuleer word sodat dit nie deur gewone metodes opgespoor sal word nie. En mikro-organismes kan ontwerp word om teen antibiotika, gewone entstowwe en ander behandelingsmetodes bestand te wees. Wetenskaplikes wat uit die voormalige Sowjetunie gevlug het, het byvoorbeeld gesê dat hulle ’n soort pes ontwikkel het wat teen 16 soorte antibiotika bestand was.

Toekomstige vooruitgang wat biotegnologie en genetiese manipulering betref, sal na verwagting ’n groter keuse bied. Wetenskaplikes kan die genetiese samestelling wysig om ’n menigte biologiese wapens te herontwerp of te maak—dodeliker, geharder en makliker om te vervaardig en af te lewer. Hierdie wapens kan gewysig word sodat dit makliker sal wees om die uitwerking daarvan te voorspel en te beheer. Siekteverwekkers kan dalk ontwerp word om ná ’n voorafbepaalde aantal selverdelings dood te gaan—dit sal die dood veroorsaak en dan verdwyn.

Stil wapens van ’n buitengewone aard sal moontlik ook in die toekoms ontwikkel word. Hoogs spesifieke wapens kan byvoorbeeld die immuunstelsel onderdruk—’n slagoffer sal nie met ’n bepaalde siekte besmet word nie, maar sal vir baie siektes vatbaar wees. As so ’n dodelike vigs-agtige virus sou voorkom, wie sou dan weet of die bron ’n natuurlike mutasie is of ’n genetiese manipulering wat in die laboratorium van ’n vyand bewerkstellig is?

Tegnologiese vooruitgang het die denkwyse van militêre verstande verander. ’n Amerikaanse vlootoffisier het geskryf: “Wapenontwerpers het maar nog net begin om die moontlikhede van die biotegnologiese revolusie te verken. Die besef dat daar in die toekoms baie meer ontwikkeling as in die verlede sal plaasvind, stem ’n mens tot ernstige nadenke.”

[Venster op bladsy 6]

Wat is biologiese oorlogvoering?

Die uitdrukking “biologiese oorlogvoering” verwys na die doelbewuste verspreiding van siektes onder mense, diere of plante. Siektes kom voor wanneer die teikenbevolking deur lewende mikro-organismes besmet word. Hierdie organismes vermenigvuldig (party vervaardig toksiene), en mettertyd verskyn die simptome van die siekte. Party biologiese wapens stel mense buite aksie, ander is dodelik. Nog ander kan gebruik word om gesaaides te besmet en te vernietig.

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

Feite Oor Biologiese Wapens

Antraks: ’n Aansteeklike siekte wat deur ’n spoorvormende bakterie veroorsaak word. Vroeë simptome van antraks deur inaseming kan met ’n verkoue ooreenkom. Ná ’n paar dae vererger die simptome tot ernstige asemhalingsprobleme en skok. Hierdie soort antraks is dikwels dodelik.

Wanneer mense aan antraks blootgestel word, kan antibiotika verhoed dat hulle besmet word. Vroeë behandeling is lewensbelangrik; uitstel verminder die kanse op oorlewing.

Die regstreekse verspreiding van antraks van mens tot mens is hoogs onwaarskynlik en vind moontlik glad nie plaas nie.

In die tweede helfte van die 20ste eeu het verskeie lande, waaronder die Verenigde State en die voormalige Sowjetunie, antraks as ’n wapen ontwikkel. Die aantal nasies wat vermoedelik programme vir biologiese wapens het, het van 10 in 1989 tot 17 in 1995 toegeneem. Daar bestaan onsekerheid oor hoeveel van hierdie lande met antraks werk. Volgens ’n skatting deur die Amerikaanse regering kan 100 kilogram antraks wat as ’n fyn mis oor ’n groot stad vrygestel word, so dodelik soos ’n waterstofbom wees.

Botulisme: ’n Spierverlammende siekte wat veroorsaak word deur ’n bakterie wat ’n toksien vervaardig. Die simptome van voedselgedrae botulisme is onder andere dubbelsig of dowwe sig, ooglede wat hang, onduidelike spraak, slukprobleme en ’n droë mond. Spiere verswak van die skouers af ondertoe deur die liggaam. Verlamming van asemhalingspiere kan die dood veroorsaak. Botulisme word nie van een mens na ’n ander oorgedra nie.

As ’n antitoksien vroeg genoeg toegedien word, verminder dit die hewigheid van die simptome en die moontlikheid dat die sieke sal sterf.

Botulinumtoksien geniet die voorkeur as ’n biologiese wapen, nie net omdat dit een van die giftigste stowwe is waarvan ons weet nie, maar ook omdat dit betreklik maklik vervaardig en vervoer kan word. En diegene wat besmet word, het langdurige intensiewe sorg nodig. Verskeie lande ontwikkel vermoedelik botulinumtoksien as ’n biologiese wapen.

Pes: ’n Hoogs aansteeklike siekte wat deur ’n bakterie veroorsaak word. Die eerste tekens van die dodelike longpes is koorsigheid, hoofpyn, swakheid en ’n gehoes. Septiese skok volg, en as dit nie vroegtydig met antibiotika behandel word nie, is die dood feitlik onvermydelik.

Die siekte word deur speekseldruppeltjies van mens tot mens oorgedra.

Gedurende die 14de eeu het pes binne vyf jaar die dood van ongeveer 13 miljoen mense in China en 20 miljoen tot 30 miljoen in Europa veroorsaak.

Gedurende die 1950’s en 1960’s het die Verenigde State sowel as die voormalige Sowjetunie tegnieke ontwikkel om longpes te versprei. Duisende wetenskaplikes het glo daaraan gewerk om pes as ’n wapen te ontwikkel.

Pokkies: ’n Hoogs aansteeklike siekte wat deur ’n virus veroorsaak word. Die eerste simptome sluit hoë koors, moegheid, hoofpyn en rugpyn in. Later verskyn pynlike puisies wat vol etter word. Een uit drie van die slagoffers sterf.

Pokkies is in 1977 wêreldwyd uitgeroei. Roetine-inentings teen pokkies is in die middel-1970’s gestaak. Dit is onbekend in watter mate mense wat voor dié tyd ingeënt is, immuun is, indien enigsins. Daar is geen beproefde behandeling teen pokkies nie.

Die siekte versprei van mens tot mens deur besmette speekseldruppeltjies. Besmette klere of beddegoed kan ook die virus versprei.

Die Sowjetunie het van 1980 af ’n suksesvolle program van stapel gestuur om groot hoeveelhede pokkiesvirusse voort te bring en dit vir aflewering deur interkontinentale ballistiese missiele geskik te maak. Pogings is ook aangewend om gevaarliker en aansteekliker soorte pokkies te ontwikkel.

[Prent]

Antraksbakterie en bolvormige spoor

[Erkennings]

Bronne: Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming, Johns Hopkins-Sentrum vir Studies in Burgerlike Biologiese Verdediging.

Antraksslagoffer: CDC, Atlanta, Ga.; antraksbakterie: ©Dr. Gary Gaugler, Photo Researchers; botulismebakterie: CDC/Courtesy of Larry Stauffer, Oregon State Public Health Laboratory

Pesbakterie: Copyright Dennis Kunkel Microscopy, Inc.; pokkiesvirus: ©Meckes, Gelderblom, Eye of Science, Photo Researchers; pokkiesslagoffer: CDC/NIP/Barbara Rice

[Prent op bladsy 7]

Briewe met antraks daarin het onlangs wydverspreide vrees veroorsaak

[Erkenning]

AP Photo/Axel Seidemann

[Prent op bladsy 7]

Chemiese/biologiese lugbomme is ná die Golfoorlog vernietig

[Erkenning]

AP Photo/MOD

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel