Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 7/22 bl. 16-18
  • ’n Oes met vlerke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Oes met vlerke
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dit het in China begin
  • Hoe ’n plaas werk
  • ’n Dag in die lewe van ’n skoenlapper
    Ontwaak!—1993
  • Hoe om ’n vlinder af te neem
    Ontwaak!—1992
  • Vlieënde juwele van die trope
    Ontwaak!—2005
  • Die grootste en die kleinste
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 7/22 bl. 16-18

’n Oes met vlerke

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN COSTA RICA

HIERDIE oes het vlerke! Ja, jy het reg gelees—hierdie boer se oes het vlerke. Elke goeie boer weet natuurlik dat hy hom moet inspan sodat hy ’n goeie, gesonde oes kan insamel. Dit is ook die geval met hierdie boer—hy maak seker dat hy roofvyande soos insekte, spinnekoppe en voëls weghou. Gedurende die oestyd neem sy werk toe, terwyl hy probeer om nie die kosbare produk te verloor wat hy so ywerig deur die hele seisoen versorg het nie. As hy suksesvol is, sal sy oes—met die pragtigste gekleurde vlerke in die wêreld—te voorskyn kom duisende kilometers van waar hulle gekweek is. Wat is hierdie unieke oes? Ja, jy het reg geraai—skoenlappers.

Skoenlapperboerdery is ’n bedryf wat van groot waarde is. Dit voorsien op ’n vindingryke wyse ’n pragtige en ekologiese manier om verskillende soorte skoenlappers te help bewaar. Laat dit nie baie vrae by jou opkom nie? Byvoorbeeld, presies wat is ’n skoenlapperplaas? Hoe werk dit? En wat is die doel daarvan? Voordat ons hierdie vrae beantwoord, kom ons kyk na hoe daar begin is om met hierdie delikate insekte te boer.

Dit het in China begin

Die Chinese het eeue lank motte spesifiek vir hulle syindustrie gekweek. Maar die behoefte aan skoenlapperplase het eers onlangs ontstaan. In die 1970’s is ’n tentoonstelling van lewende skoenlappers op die eiland Guernsey, naby die kus van Engeland, gehou.

Die uitstekende idee van die Guernsey-onderneming was om ’n tropiese woud te skep, met skoenlappers waarvan die tallose kleure en ontwerpe lewe aan die woud sou gee. Dit sou natuurlik beteken dat skoenlappers wat inheems aan die trope is, vervoer moes word. Maar hoe verskeep ’n mens tropiese skoenlappers (waarvan party soorte net twee tot drie weke lewe) na ’n bestemming duisende kilometers daarvandaan sonder dat een doodgaan? Dit het dus nodig geword om kommersieel met skoenlappers te begin boer.

Hoe ’n plaas werk

Dit is asemrowend om self te sien wat op so ’n plaas gedoen word. Dit is ongelooflik om die kaleidoskoop van al die helderkleurige vlerke van naby te sien. Ontwaak! het die grootste plaas en uitvoerbedryf van sy soort in Sentraal-Amerika besoek, die Skoenlapperplaas in Costa Rica. Hierdie plaas voer nie net geoeste papies (kokonne) uit nie, maar het ook ’n opvoedkundige program vir diegene wat graag meer omtrent die lewensloop en biologie van skoenlappers wil weet.

Wanneer jy by die toegespande skoenlappertuin instap, sal jy onmiddellik betower word deur die honderde skoenlappers wat met hulle pragtige kleurkombinasies om jou rondvlieg—party fladder en duik, terwyl ander sierlik verbysweef. Hierdie skitterende, veelkleurige insekte steur hulle nie veel aan jou nie en gaan ongehinderd voort met hulle daaglikse roetine om te eet, te paar en eiers te lê. Jy kan nie anders as om beïndruk te wees nie! Jy sien en ruik die skoenlappers se gasheerplante—inheemse veldblomme en piesangplante—wat as hulle kos dien en waarop hulle ook hulle eiers lê.

In die tuin wat heeltemal toegespan is, is die piepklein eiertjies veilig teen roofvyande. In die natuur word slegs 2 persent van alle eiers wat gelê word volwasse skoenlappers, maar in toevlugsoorde soos die Skoenlapperplaas is die oorlewingsyfer tot 90 persent.

Die regte plante is noodsaaklik vir die skoenlappers se voortplanting en ontwikkeling. Daarom is die tuin vol gasheerplante waarop die wyfie haar eiers kan lê en wat deur die larwes en ruspes geëet kan word. Die volwasse skoenlappers eet die nektar van die plante. Elke soort skoenlapper lê net op een soort plant eiers, en die larwes eet ook net daardie spesifieke plant. Dit is dus belangrik dat daar baie van hierdie gasheerplante op die plaas moet wees.

’n Wyfie lê 100 of meer eiers op ’n slag. Hulle lyk soos klein waterdruppeltjies wat so groot is soos die punt aan die einde van hierdie sin. Sy lê nie net haar eiers uitsluitlik op die gasheerplant nie, maar elke soort skoenlapper lê ook haar eiers net op ’n spesifieke deel van die plant. Die boer kan dus die eiers vinnig opspoor, dit verwyder en dit bêre. Elke dag word daar gekyk of daar eiers op die gasheerplante is en word die eiers nagegaan om te sien of enige larwes al uitgekom het. Nadat die larwes uit die eiers gekom het, eet hulle die leë eierdop. Op die Skoenlapperplaas word hulle dan op gasheerpotplante gesit wat in hokke is. Dit is uiters belangrik dat die hokke gedurende die larwes se lewensloop skoongehou word, anders kan siektes uitbreek en die larwes doodgaan.

Ná hulle derde instar, of stadium tussen vervellings, doen die larwes niks anders as om te eet nie. As ’n baba van drie kilogram net so vinnig soos ’n ruspe, of larwe, gewig sou aansit, sou die baba glo ná twee weke agt ton weeg!

Tydens die vyfde en laaste instar hang die larwes aan ’n tak of die bokant van die hok en raak hulle versigtig ontslae van hulle vel, waaronder daar ’n harde omhulsel is wat ook as die papie bekend staan. Dit is wanneer die boer vinnig en doelgerig te werk moet gaan.

Die papies moet daagliks versamel word, aangesien dit al manier is om hulle ouderdom te bepaal. Tussen 40 en 100 van die papies word met sorg tussen lae watte in kartonhouers gepak. Die boere en uitvoerders het ’n vensterperiode van ongeveer tien dae waarin hulle die papies moet verskeep na die verspreider, wat dit dan besorg aan die klant, gewoonlik ’n skoenlapperhuis of ’n soortgelyke inrigting. As die papies nie binne hierdie tydperk hulle bestemming bereik nie, sal die skoenlappers op pad daarheen uitkom en doodgaan. As hulle suksesvol verskeep word, sal die skoenlappers duisende kilometers van hulle tuiste af uit die papies kom, salig onbewus van die feit dat hulle op ’n ander plek is. Die Skoenlapperplaas verskeep tussen 4 000 en 6 000 papies per maand na inrigtings in alle wêrelddele.

Skoenlapperplase is wêreldwyd aan die toeneem. Daar is al van hulle in El Salvador, die Filippyne, Kenia, Madagaskar, Maleisië, Taiwan, Thailand, die Verenigde State en natuurlik Costa Rica. Die aantal skoenlapperhuise neem ook elke jaar toe, wat dit vir mense in baie wêrelddele moontlik maak om na hierdie merkwaardige insekte te gaan kyk.

Die kweek van skoenlappers sal ongetwyfeld voortgaan om ’n belangrike ekologiese rol te speel in die bewaring van seldsame skoenlappersoorte. Die bedryf kan die publiek ook meer bewus maak van die delikate balans van die aarde se hulpbronne.

[Prente op bladsy 18]

Boere gebruik gaas om die eiers en larwes te beskerm (1). Papies, soos die een op die foto, (2) word in houers gepak en wêreldwyd verskeep (3)

[Erkennings]

Links bo koningvlinder en papie: Butterfly House, Mittagong, Australia; links middel skoenlapper en skoenlappers op blare: Courtesy of Buckfast Butterfly Farm

[Foto-erkenning op bladsy 16]

K. Schafer/Audiovise

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel