Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 5/22 bl. 25-27
  • Die ondergrondse prag van die Carlsbad-grotte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ondergrondse prag van die Carlsbad-grotte
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gas, water, lug en suur
  • Grotformasies
  • Die omgewing in die grot
  • Skoonheid weggesteek in die donker
    Ontwaak!—2004
  • Kalksteen—volop maar kosbaar
    Ontwaak!—1992
  • Die Grot van die Albasters
    Ontwaak!—2005
  • Kenia se unieke grotbewoners
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 5/22 bl. 25-27

Die ondergrondse prag van die Carlsbad-grotte

Algehele duisternis en doodse stilte. Dit is wat ons teëgekom het in die Carlsbad-grotte- Nasionale Park in Nieu-Mexiko, VSA. Toe ons die grotte binnegaan, het ons gewonder: ‘Hoe het hierdie grotte ontstaan? Hoe ver strek hulle? Watter buitengewone verskynsels is daarin verskuil? Is hulle veilig om te verken?’

VOORDAT ons die grotte besoek het, het ons groepie dit geniet om eers in die berge van die Guadalupe- Nasionale Park in die suidwestelike deel van Texas te kampeer en te stap. Terwyl ons teen Guadalupe-piek uitklim, die hoogste punt in Texas, wat 2 666 meter bo seespieël is, het ons verskeie fossiele gesien wat die rotse langs die voetslaanpad versier. Volgens geoloë is hierdie fossiele ’n leidraad om die ontstaan van die Carlsbad-grotte te bepaal. Hoe so?

Dit lyk asof alge, sponse en weekdiere lank gelede hier gefloreer het. Die hele gebied was ’n warm binnelandse see. Koraal, die vernaamste deel van hedendaagse riwwe, was betreklik skaars. Trilobiete en ammoniete was van die eksotieser seediertjies wat nou uitgesterf het. Baie van die ammoniete het binne-in groot, spiraalvormige skulpe geleef wat soos die hedendaagse nautilus lyk. Ons was verheug om een van daardie skulpe in die rotse langs die voetslaanpad te sien!

Kalkriwwe het blykbaar ontwikkel namate fossieloorblyfsels van seelewe en ander deeltjies opgehoop en saamgepak het. Omdat die seevloer gesak het, het die saamgestelde rif tot meer as 500 meter verdik. Uiteindelik het die see teruggetrek, en die riwwe is diep onder sediment begrawe. Heelwat later het die land op beweeg, die sediment het verweer en die riwwe het as berge verskyn. Hoe het hierdie opwaartse beweging egter bygedra tot die ontstaan van die Carlsbad-grotte?

Gas, water, lug en suur

Terwyl reënwater deur die lug en grond beweeg, neem dit ’n klein bietjie koolsuur op. Hierdie swak suur is blykbaar verantwoordelik vir die vorming van die meeste kalksteengrotte in die wêreld. Maar volgens die geoloog Carol Hill het ’n heelwat sterker suur die grotte van die Guadalupe-berge gevorm.

Hill sê dat swaelryke gas moontlik gevorm het in oliebronne in rotse onder die kalksteenriwwe. Toe die rotsmassa begin styg, het die gas in die riwwe ingesypel en met lug en vars, suurstofhoudende ondergrondse water verbind om swaelsuur te vorm. Hierdie sterk suur kon groot hoeveelhede kalkklip oplos.

Namate die berge gestyg en die watertafel gesak het, het grotte geleidelik al hoe dieper gevorm. In die Carlsbad-grotte het groot ruimtes en wye skeure onderling met mekaar verbind en ’n reusagtig doolhof gevorm. Gange van ongeveer 37 kilometer is al hier gekarteer. Maar dit is nie die enigste ondergrondse kamers in hierdie berge nie. Daar bestaan honderde ander. Die grootste hiervan is die Lechuguilla-grot, waarvan daar al meer as 160 kilometer se gange opgeteken is!

Grotformasies

Toe ons die Carlsbad-grotte vir die eerste keer binnegegaan het, het ons 225 meter met ’n hyser afgegaan tot naby die Groot Kamer. Hierdie ontsaglike oop ruimte strek oor ’n oppervlakte van ses hektaar. Op party plekke is die dak meer as 30 meter bo die vloer. Maar wat ons aandag getrek het, was die groot verskeidenheid natuurlike grotformasies om elke hoek en draai, wat deur versteekte ligte belig word.

Hierdie formasies vorm oral waar water die grotte binnekom en verdamp, wat die kalk in die water laat agterbly. Waar water aanhoudend van dieselfde plekke van ’n grotdak af gedrup het, het hol buisies ’n paar meter afwaarts gegroei. Hierdie buisies kan uiteindelik verstop raak en in ysnaaldvormige stalaktiete verander. Waar dit ook van party skuins grotdakke hang, laat die geplooide “draperings” party grotsale soos teaters lyk.

As druppels op die vloer val, kan pilare vorm wat boontoe groei. Hierdie stalagmiete kan uiteindelik die dak of miskien ’n stalaktiet bereik om ’n suil te vorm. Party van die stalagmiete in die Saal van die Reuse het al tot hoogtes van meer as 18 meter gegroei! As druppende water in klein holtes val, kan piepklein rotsdeeltjies egalig met gladde kalk bedek word, wat in skitterende grotpêrels verander. Formasies wat selfs nog vreemder is, het in sommige gevalle gevorm. Dit sluit delikate groepe naaldskerp kristalle in sowel as omgekrulde, wurmagtige buisies wat heliktiete genoem word en in verskillende rigtings groei.

Terwyl ons na die talle enorme stalaktiete staar, wonder ons of daar enige gevaar bestaan dat hulle sal val. Ons gids verseker ons dat hierdie grotformasies selde val. Ons hoop dat dit gedurende ons besoek ook die geval sal wees!

Die omgewing in die grot

Nadat ons ’n maaltyd buite geniet het, gaan ons die grotte by hulle natuurlike ingang binne—’n gapende opening. Rotstekeninge wat deur die vroeë Indiane geteken is, versier die wande van die opening.

Toe ons ingaan, het ons vlermuisghwano geruik. Ons is meegedeel dat ghwano byna ’n eeu gelede hier vir bemestingstof ontgin is. Later het ’n emmer-en-kabel-stelsel wat gebruik is om die ghwano te verwyder, die eerste hyser geword om toeriste in die grotte te neem en weer uit te bring. Die ghwano word in ’n sygang gevind wat as die Vlermuis-grot bekend staan—die somertuise van ’n miljoen vlermuise. Wanneer dit skemer word, vlieg duisende van hulle by die grotingang uit.

Die gidse het aan ons verduidelik dat die grotte uiters delikaat is. Mense wat in die grotte ingaan, kan dit maklik beskadig en besoedel. As jy byvoorbeeld net aan die grotformasies raak, kan jy olie op die oppervlak agterlaat, wat voortgesette groei verhinder en die kleur laat verbleik. Daarom het ons op die paadjie gebly en nie aan die grotformasies geraak nie.

Terwyl ons hierdie verskuilde natuurwonder verlaat het, het ons dit oorweeg om terug te keer om meer van die grotte te sien. Ons sal graag wil sien hoe die vlermuise uitvlieg—hulle geniet die grotte al baie langer as mense. Dit is egter mense wat daardie grotte verlaat met ’n blywende gevoel van ontsag.—Bygedra.

[Prent op bladsy 26]

Bo: Kandelaarstalaktiete

[Prent op bladsy 26]

Onder: Ons verken die Groot Kamer

[Erkenning]

© Russ Finley/Finley-Holiday Films

[Foto-erkenning op bladsy 25]

© Russ Finley/Finley-Holiday Films

[Foto-erkenning op bladsy 26]

© Russ Finley/Finley-Holiday Films

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel