Die Grot van die Albasters
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
TERWYL hy op ’n tapyt van miljoene “albasters” in ’n grot gestaan het, kon ’n Amerikaanse speleoloog, of grotkundige, nie anders nie as om uit te roep: “Baie dankie, God, dat u my lewe gegee het om hierdie wonder te sien!” Hy het die Grot van die Albasters besoek, ’n grotstelsel in die suidooste van Mexiko wat 529 meter lank en 17 meter diep is. In die grot is daar ontsagwekkende rotsformasies te sien. Toe ons van die grot te hore gekom het, wou ons dit self sien.
Die grot is op ’n beesplaas, maar gelukkig ken ons die eienaar se vrou. Terwyl ons deur ’n opening na die gang van die albasters loop, kan ons ongeveer 200 miljoen kalsietballe, of grotpêrels, sien. Dit bedek die vloer oor ’n afstand van ongeveer 50 meter tot ’n diepte van 12 sentimeter. Niemand kan dit weerstaan om die pêrels in hulle hande op te skep en die kleinstes—wat so klein soos lensies is—deur hulle vingers te laat glip nie. Die grootstes is so groot soos ’n klein lemoen. Dié wat nuuskierig is, krap die albasters uitmekaar totdat die soliede vloer ontbloot is, en dan kan hulle sien dat dit uit ’n egalige kors pêrels bestaan.
Hoe word grotpêrels gevorm? Water drup vinnig in poele. Daar is kalsiet in die water, wat ’n neerslag op ’n vreemde voorwerp, soos sand, stukkies been of selfs koeldrankstrooitjies, vorm. Namate meer kalsiet geleidelik op hierdie manier bygevoeg word, word ’n pêrel gevorm.
Hoewel die plaaslike mense al jare lank van hierdie grot weet, het buitelandse spesialiste, wat gefassineer is deur die groot aantal pêrels daarin, dit maar onlangs vir die eerste keer besoek. Tans word pogings aangewend om hierdie uitsonderlike grot te bestudeer en te bewaar.
Plekke soos die Grot van die Albasters herinner ons aan die woorde van Psalm 111:2: “Die werke van Jehovah is groot, nagespeur deur almal wat daarin behae skep.”