Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/22 bl. 16-19
  • ’n Unieke plantstreek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Unieke plantstreek
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Ongelooflike verskeidenheid
  • Suikerbos en suikervoël
  • Ander noodsaaklike vennootskappe
  • ’n Gevaarlike vennootskap
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Stuifmeel—die stof van die lewe
    Ontwaak!—2007
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die verbasende ontwerp van lewende dinge
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/22 bl. 16-19

’n Unieke plantstreek

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

NADAT die 18de-eeuse plantkundige Carolus Linnaeus ’n klomp blomme uit Afrika geklassifiseer het, het hy hulle oorsprong beskryf as “daardie paradys op aarde, die Kaap die Goeie Hoop, wat die weldadige Skepper met die keur van Sy wonders verryk het”.

Hierdie sogenaamde keur van die Skepper se wonders word in ’n gebied gevind wat die suidelike punt van Afrika dek. Die Nederlandse setlaars het die oorheersende plantegroei in die gebied fijnbosch genoem. Aangesien die woord fijn “klein” beteken, het dit moontlik verwys na die klein blare en plante, asook na die lae struike wat in die gebied groei. Met verloop van tyd het die woord fijnbosch “fynbos” geword. Fynbosblare is dalk klein en hard, maar die blomme kom voor in verbasende groottes, kleure en vorme.

Die fynbosstreek is geleë in ’n planteryk wat heeltemal verskil van ander streke in die wêreld—die Kaapse Planteryk.a Hoewel hierdie planteryk ’n betreklike klein gebied dek, is dit die tuiste van ’n ongelooflike verskeidenheid plantsoorte—een bron sê meer as 8 550—waarvan twee derdes nêrens anders in die wêreld gevind word nie.

Net op Tafelberg is 1 470 plantsoorte al getel! Volgens die tydskrif New Scientist “is dit meer as wat op die hele Britse Eilande gevind word”. Fynbos het egter ook ander wêrelddele beïnvloed. Hoe so?

’n Ongelooflike verskeidenheid

As jy ’n malva op jou vensterbank het, is die kanse goed dat dit ’n afstammeling van ’n oorspronklike fynbosplantjie is. Van die 250 soorte wat in die natuur groei, word meer as twee derdes in die fynbosstreek gevind.

Daarbenewens groei ’n derde van die 1 800 blomme van die familie Iridaceae hier, insluitende meer as 72 swaardlelies wat nêrens anders op die aarde gevind word nie. Wat madeliefies en vygies betref, spog die suidelike punt van Afrika met 1 646 soorte.b Dit sluit sewejaartjies in, wat hulle helder kleure behou en jare lank in droë blommerangskikkings gebruik word.

Die merkwaardigste kenmerk van die fynbos is egter die blomplant wat erikas, of heide, genoem word. Glo dit as jy wil, maar die fynbos het 625 soorte erikas uit altesaam 740 soorte in die wêreld!

Suikerbos en suikervoël

Linnaeus het een groep fynbosblomme ondersoek wat in ’n eienaardige verskeidenheid vorme voorkom. Hy het dit protea genoem (’n lid van die familie Proteaceae), na die Griekse god Proteus, wat glo verskillende liggame aangeneem het. Altesaam 328 verskillende proteas het hulle oorsprong in die fynbosstreek. Hoe opwindend is dit tog om in die Kaapse berge te stap en op die groot koningsprotea af te kom! Sy skouspelagtige blom is soms groter as ’n mens se gesig.

Nog ’n algemene protea is die suikerbos. Die blomme van hierdie boom is soos koppies gevorm, en hulle bevat ’n groot hoeveelheid nektar. Die vroeë setlaars het die blomme oor ’n houer uitgeskud om die nektar te versamel, wat hulle dan later gekook het om stroop te maak.

Die Kaapse suikervoël—wat net in die fynbosstreek gevind word—hou ook van die proteas se nektar. Met sy lang snawel en lang tong drink die suikervoël die plant se nektar en help hy op sy beurt die plant deur stuifmeel van een blom na die ander te neem—’n doeltreffende bevrugtingsmetode. Daarbenewens eet die suikervoël insekte wat na die groot blomme gelok word. Die voël en die blom het mekaar dus nodig vir oorlewing.

Ander noodsaaklike vennootskappe

Party proteablomme is na aan die grond en versteek onder ander plante. Muise word aangetrek deur ’n gisreuk wat hierdie proteas afgee. Die muise druk hulle kop in die blomme in, drink die nektar en gaan dan na ander proteas, waar hulle die stuifmeel oordra wat op hulle harige gesiggies vassit. Veldmuise en proteas vorm op hierdie manier ’n vennootskap vir oorlewing.

Daar is ’n soortgelyke vennootskap tussen erikablomme en die kleurvolle oranjeborssuikerbekkie, wat net in die fynbosstreek gevind word. Omdat die blomme soos gebuigde pypies gevorm is, pas die suikerbekkie se snawel presies daarin. Wanneer die voëltjie sy snawel insteek om die nektar uit te suig, versamel stuifmeel op sy kop. Regdeur die jaar voorsien erikas wat blom, in die suikerbekkie se behoeftes, en die plante vind baat by die feit dat die voëls hulle bestuif. Hoe fassinerend is dit tog om teen ’n heuwelhang te loop en hierdie interessante wisselwerking te sien!

Baie ander diertjies en insekte speel ’n noodsaaklike rol in die fynbos. ’n Skoenlapper wat die bergnooientjie genoem word, is die enigste bestuiwer van 15 soorte rooi blomme. Een van hierdie blomme is die bekende disa, wat Tafelberg se hange versier.

Dan is daar sekere molrotte wat die blombolle van die orgidee-, lelie- en irisfamilie eet. Blesmolle dra stukkies wortel na hulle gate en bêre dit daar. Stukkies wat langs die pad val of nie in hulle gate geëet word nie, skiet dikwels wortel en groei weer.

Honderde fynbosplante het ’n vlesige, olierige groeisel aan hulle sade wat ’n reuk afgee wat miere nie kan weerstaan nie. Nadat die miere hierdie “handvatsels” vasgegryp het, sleep hulle die sade onder die grond in. Daarna eet die miere die sagte groeisels, maar nie die harde sade nie. Sodoende word die sade begrawe en teen voëls en muise beskerm sodat dit later kan ontkiem.

Dan is daar vlieë wat toegerus is met ’n lang buis, of suigsnuit, wat ’n verlenging van hulle monddeel is. Hierdie vlieë is volmaakte bestuiwers van fynbosplante wat lang tuitblomme het. Een vlieg het ’n suigsnuit wat byna agt sentimeter lank is. Onderlinge vennootskappe is inderdaad noodsaaklik vir die oorlewing van die fynbos!

’n Gevaarlike vennootskap

“Dit is jammer”, sê die omgewingsdeskundige T.F.J. van Rensburg in die boek An Introduction to Fynbos, “dat die Mens wat toesig gegee is oor die Skepping, in baie gevalle verantwoordelik is vir die vernietiging van sekere natuurlike gebiede.” Trouens, geweldige uitwissing het in ’n betreklike kort tydjie plaasgevind, soos dr. Piet van Wyk verduidelik: “In die ietwat meer as 300 jaar sedert die blanke volksplanting, is die laagliggende fynbosveld so deur die mens gefragmenteer en vervorm dat daar . . . slegs 31 persent oor is. . . . Nege-en-dertig spesies [het] reeds uitgesterf . . . , terwyl ’n verdere 1 033 se status as bedreig tot krities skaars aangegee word.”

Die mens se optrede bedreig ook die kritieke vennootskap wat daar tussen fynbosdiere en -plante is. “Ekoloë”, sê die boek Table Mountain—A Natural Wonder, “begin nou maar eers die fynbos se ingewikkelde dier-/plantvennootskappe verstaan. As ’n plant uitsterf, sal sy bestuiwer (knaagdier, skoenlapper of kewer) ook uitsterf?” En wat van die fynbosvoëls? Volgens die Suid-Afrikaanse bioloog C. J. Skead is die oorlewing van suikervoëls in gevaar weens hulle “noue wisselwerking met die proteasoorte”.

Sulke ontstellende verslae oor die fynbosstreek is ’n rede tot kommer. Maar vir diegene wat, soos Linnaeus, in “die weldadige Skepper” glo, is daar ook rede tot hoop. Want ’n mens kan seker wees dat die aarde, soos nooit tevore nie, sal floreer en blom wanneer Jehovah God sy belofte vervul om ‘alles nuut te maak’.—Openbaring 21:5.

[Voetnote]

a Die aarde is in ses planteryke verdeel. Plantkundiges identifiseer hierdie streke volgens die kenmerkende plantegroei daarin. Die gebied om die Kaap in Suid Afrika vorm een van hierdie ses planteryke.

b Madeliefies behoort aan die familie Asteraceae, en vygies is die volksnaam vir mesems, van die familie Mesembryanthemum.

[Kaarte op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die fynbosstreek (deel in groen)

Tafelberg

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 16]

Die bergpypie, een van 72 swaardlelies wat nêrens anders op die aarde gevind word nie

[Erkenning]

Una Coetzee (www.agulhasfynbos.co.za)

[Prent op bladsy 16]

Party proteas is groter as ’n mens se gesig

[Erkenning]

Nigel Dennis

[Prent op bladsy 16, 17]

Net op Tafelberg is 1 470 plantsoorte al opgeteken

[Prent op bladsy 16, 17]

Aarbeisewejaartjie

[Erkenning]

Nigel Dennis

[Prent op bladsy 17]

Een van die baie madeliefiesoorte wat in die fynbos gevind word

[Erkenning]

Kirstenbosch, Kaapstad

[Prent op bladsy 17]

Die bergnooientjie is die enigste bestuiwer van 15 soorte rooi blomme

[Erkenning]

Colin Paterson-Jones

[Prent op bladsy 17]

Speldekussingprotea

[Erkenning]

Nasionale Parkeraad van Suid-Afrika

[Prent op bladsy 18]

Daar is ’n unieke vennootskap tussen erikablomme en die suikerbekkie

[Erkenning]

Colin Paterson-Jones

[Prent op bladsy 18]

Proteas en die Kaapse suikervoël is spesiale vriende

[Erkenning]

Kirstenbosch, Kaapstad

[Prent op bladsy 18]

’n Watsonia

[Erkenning]

Kirstenbosch, Kaapstad

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Nasionale Parkeraad van Suid-Afrika

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel