Die Niagara-waterval—’n Onvergeetlike ervaring
EK HET ’n ruk gelede die geleentheid gehad om die Niagara-waterval te sien soos nog nooit tevore nie—van baie naby. Ek kan jou verseker dat dit ’n onvergeetlike ervaring is. Ek en my vriende het die Kanadese Horseshoe-waterval besoek, wat weens sy vorm so genoem word. Ek was al verskeie kere daar sedert my eerste besoek in 1958, maar daar is een ding wat ek nog nooit tevore gedoen het nie—ek het nog nooit met ’n boot stroomop gevaar tot reg voor die waterval nie. Tog doen mense dit al sedert 1848 toe toere aan boord die Maid of the Mist ingestel is. Miljoene mense het al hierdie opwindende rit onderneem. Nou was dit my beurt.
Bote vertrek gereeld van weerskante van die rivier af, die Amerikaanse sowel as die Kanadese kant. Die rye is altyd lank. Ons kon mense van elke ouderdomsgroep, selfs klein kindertjies, sien wat die ligte blou plastiekreënjasse dra as ’n nodige beskerming teen die sproeireën. (Diegene wat die Amerikaanse waterval aan die ander kant besoek, dra geel reënjasse.) Die boot, die Maid of the Mist VII, kan tot 582 passasiers vervoer. Dit weeg 132 ton, is 24 meter lank en is 9 meter breed by die dekbalk. Daar word tans vier bote gebruik, die Maid of the Mist IV, V, VI, en VII.
Ons beurt om nat te word
Ons het saam met die groep nader gestaan en vorentoe beweeg toe die Maid of the Mist VII haar druipnat groepie toeriste afgelaai het. Ek kon sien dat ’n opwindende rit op ons gewag het. In die verte, ongeveer ’n kilometer ver, het die water oor die hang van die waterval neergestort en 52 meter ver geval na die bekken wat 55 meter diep is. Ons boot het oor die rivier na die Amerikaanse kant toe gevaar, waar ons deur die malende water aan die onderkant van die Amerikaanse waterval geklief het, wat altesaam ’n val van 54 meter het.a Die opwindendste deel het net voor ons gelê.
Namate ons al hoe nader beweeg het aan die magtige waters wat na onder val, het die spanning toegeneem. Dit was spoedig onmoontlik om foto’s te neem vanweë die wind en die geweldige sproeireën in die lug. Dit het gevoel asof die stuurman vir ewig neem terwyl hy die boot al hoe nader aan die klimaks gestuur het waar meer as 168 000 kubieke meter water elke minuut oor die rand val en net voor die boot neerstort! Die gedruis was oorverdowend. ’n Mens kon jouself skaars hoor skreeu. My hart het in my keel geklop. Ek kon eintlik die water van die Niagara proe—koud maar blykbaar skoon. Dit was beslis ’n unieke ondervinding!
Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, het die stuurman uiteindelik ons Maid van die gevaar af weggestuur en stroomaf beweeg. Ek het ’n sug van verligting gegee. Ons het dit gemaak. Maar daar was eintlik nooit enige rede vir twyfel nie. Die maatskappy wat hierdie bote besit, het ’n ongelukvrye rekord. Emil Bende, die hoofbestuurder van die stoombootmaatskappy, het ons verseker dat elke boot toegerus is met genoeg reddingsbaadjies en vlotte vir die maksimum getal passasiers. Hier is geen plek vir enige Titanic-foute nie!
Die waterval skuif terug!
Ja, erosie het ’n uitwerking op die waterval gehad. Na raming het die waterval by Niagara die afgelope 12 000 jaar met ongeveer 11 kilometer teruggeskuif tot sy huidige posisie. Vroeër het erosie teen ongeveer een meter per jaar plaasgevind. Nou het dit afgeneem tot ongeveer 36 sentimeter elke tien jaar. Waarom vind hierdie erosie plaas?
Die water vloei oor ’n harde bolaag dolomietkalksteen wat op sagter lae van sandsteen en leiklip rus. Hierdie onderste lae verweer, die kalksteen verbrokkel dan en val na die bekken.
Die water word nie gemors nie
Die groot hoeveelheid water van die kort Niagara-rivier (56 kilometer) is afkomstig van vier van die vyf Groot Mere. Dit vloei noordwaarts van die Erie-meer na die Ontario-meer. In hierdie kort afstand word die rivier gebruik om hidro-elektrisiteit op te wek, wat tussen Kanada en die Verenigde State gedeel word. Dit is glo een van die wêreld se grootste bronne van hidro-elektriese krag. Die Kanadese en Amerikaanse kragstasies het ’n gesamentlike kapasiteit van 4 200 000 kilowatt. Die water vir die turbines word van die Niagara weggelei voordat die rivier die waterval bereik.
Wittebrood en die nagligte
Die Niagara-waterval is ’n gunstelingplek vir ’n wittebrood. Dit was veral die geval nadat die rolprent Niagara in 1953 vertoon is. Saans word die waterval deur gekleurde spreiligte verlig, wat ’n ander dimensie aan die prag en majesteit van hierdie unieke plekkie op ons planeet gee. ’n Besoek aan Kanada en die Verenigde State is beslis onvolledig as ’n mens nie hierdie wêreldwonder besoek nie. En moenie vergeet om ’n bootrit te neem as jy ’n bietjie avontuurlustig is nie! Jy sal nie spyt wees of dit vergeet nie.—Bygedra.
[Voetnoot]
a “By die Amerikaanse waterval val die water vertikaal tussen 21 tot 34 meter ver na die rotse aan die onderkant van die waterval.”—Ontario’s Niagara Parks.
[Venster/Prente op bladsy 26]
NIAGARA SE SPAANSE KABELKARRETJIE
Omtrent vier en ’n half kilometer van die waterval af is ’n ontsaglike maalstroom “wat aan die einde van die Stroomversnellings vorm waar die Groot Kloof skielik na die noordooste draai. Hier draai en maal die onheilspellende, smaraggroen water en breek dan deur die smalste skeur in die kloof.”—Ontario’s Niagara Parks.
Die beste manier om die totale omvang van hierdie besondere maalstroom te besef, is om in die Niagara se Spaanse kabelkarretjie te ry, wat bo-oor die maalstroom ry en ’n indrukwekkende uitsig op die rivier beide stroomop en stroomaf bied. Maar waarom word dit die “Spaanse” kabelkarretjie genoem? Dit is deur ’n vindingryke Spaanse ingenieur, Leonardo Torres Quevedo (1852-1936), ontwerp en gebou en word al sedert 1916 gebruik. Dit is die enigste van sy soort wat bestaan.
[Diagram/Prent op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
EROSIE het veroorsaak dat die waterval sedert 1678 ongeveer 300 meter of wat teruggeskuif het
1678
1764
1819
1842
1886
1996
[Erkenning]
Bron: Die Niagara-parkeraad
[Kaarte op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
KANADA
VSA
KANADA
VSA
Erie-meer
Niagara-waterval
Niagara-rivier
Ontario-meer
[Prent op bladsy 25]
Die Amerikaanse waterval
Kanadese Horseshoe-waterval
[Prent op bladsy 26]
’n Wintertoneel van die waterval, verlig in die aand