’n Wêreldwye epidemie van haat
DAAR is ’n monster wat die mens bedreig—’n monster wat haat genoem word. En dit is vinnig besig om sy mag oor die hele wêreld uit te brei.
’n Provinsie in die Balkan ondervind nog steeds die nasleep van onlangse etniese suiwering. Eeue oue vyandighede het gelei tot massateregstellings, verkragtings, verdrywing uit gebiede, die verbranding en plundering van huise en dorpies, die vernietiging van oeste en vee, asook hongersnood. En daar is ook nog baie landmyne.
In Oos-Timor, Suidoos-Asië, moes 700 000 vreesbevange mense vlug voor die terreur van slagtings, aanrandings, roekelose skietery en gewelddadige ontworteling. Hulle het ’n landskap agtergelaat wat deur plunderende burgermagte verwoes is. “Ek voel soos ’n dier waarop jag gemaak word”, het een van die slagoffers ontsteld gesê.
In Moskou is ’n woonstelgebou deur ’n groot terroristebomontploffing verwoes. Die ontploffing het die dood veroorsaak van 94 onskuldige mense—waarvan party kinders was. Meer as 150 mense is beseer. Ná so ’n gruweldaad vra mense: ‘Wie gaan volgende wees?’
In Los Angeles, Kalifornië, het ’n rassis op ’n groep Joodse kleuters losgebrand en later ’n Filippynse posbode doodgeskiet.
Haat kan gepas as ’n wêreldwye epidemie beskryf word. Nuusberigte toon byna elke dag wat gebeur wanneer rassehaat, etniese geweld of godsdiensvyandigheid met wetteloosheid gepaardgaan. Ons sien hoe nasies, gemeenskappe en gesinne uitmekaargeskeur word. Ons sien hoe lande by volskaalse volksmoorde betrokke raak. Ons sien hoe onbeskryflik wrede dade gepleeg word bloot omdat sommige mense “anders” is.
As ons ooit die monster wat haat genoem word, wil hokslaan, moet ons die oorsprong van sulke haatdraende geweld verstaan. Is haat in die mensegene ingeplant? Is dit aangeleerde gedrag? Is dit moontlik om die kringloop van haat te verbreek?
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Kemal Jufri/Sipa Press