Ek het ’n beter loopbaan gekies
Soos vertel deur Plamen Kostadinof
DIT was byna twaalfuur die middag toe ek wakker word. Oral op die vloer was leë bottels, en die oorvol asbakkies het gestink. Die euforie van die vorige aand se partytjie het heeltemal verdwyn. Ek het gefrustreerd en eensamer as ooit tevore gevoel. Alles het so sinloos gelyk! Kom ek vertel julle hoe ek in hierdie treurige toestand verval het.
Toe ek 14 was, het ek al ’n kunsloopbaan nagestreef. Dit was die somer van 1980. My pa het so pas vir my vertel dat ek toelating verkry het tot die kunskollege in die dorp Trojan, Bulgarye. Ek was baie bly. In die herfs van daardie jaar het ek van my tuisdorp, Lowetsj, na Trojan verhuis.
Dit was vir my lekker om ver van my ouers af te woon en om te doen net wat ek wil. Ek het begin rook en het nou en dan dronk geword saam met my skoolvriende. Dit was verbode om by die skool te rook en te drink. Om die reëls te verbreek, het dit vir my net opwindender gemaak.
My liefde vir kuns het bly toeneem. Ek kon besonder goed teken, en my begeerte na roem het al hoe groter geword. Nadat ek my vyf jaar van opleiding in Trojan voltooi het, wou ek verder studeer aan die Kunsakademie in Sofia, die hoofstad van Bulgarye. Dit was die mees hoogaangeskrewe opleidingsentrum in die hele Bulgarye. In 1988 het ek toelating tot die akademie verkry as een van net agt suksesvolle kandidate wat uit die hele land gekies is. Hoe trots was ek tog op die sukses wat ek behaal het! Eendag het ek in die spieël gekyk en trots vir myself gesê: ‘Wel, Plamen, nou bestaan daar geen twyfel dat jy ’n beroemde kunstenaar sal word nie!’
Die ou persoonlikheid neem vorm aan
Ek het weldra swart begin dra, en ek het my hare lank laat word en my baard laat groei. Baie het gemeen dat ’n kunstenaar so moet lyk. Ek het ’n lewenstyl aangeneem wat volgens my die tradisionele Boheemse lewenstyl van ’n kunstenaar was. Dit het ingesluit dat ek ’n kamer in die woonkwartier van die kunstenaars huur en sorg dat dit deurmekaar en so propvol as moontlik is. Ek het toe ’n kat met haar drie kleintjies en ’n klein hondjie ingeneem. Om geld te verkwis, was ook deel van my lewenstyl.
My passie vir kuns het egter bly toeneem. Ek het heeltyd geskilder en abstrakte uitbeeldings gebruik om die fantasiewêreld van my verbeelding voor te stel. Ek het selfs op my kamermure geskilder. Dit alles, het ek gedink, is die begin van ’n roemryke loopbaan.
Gereelde partytjies saam met medestudente was ’n integrale deel van my lewe. Ons het dikwels in my kamer bymekaargekom, na musiek geluister en straf gedrink, selfs wanneer ons vir ’n eksamen geleer het. Ons filosofiese besprekings het om musiek, kuns en die doel van die lewe gedraai. Ons het dikwels oor bonatuurlike magte en buiteaardse wesens gepraat. Hierdie besprekings het my verbeelding aangegryp en my nuwe idees vir my volgende skildery gegee. Ek wou hierdie gevoel van euforie langer geniet, maar dit het net so lank geduur as wat ek dronk was. Gewoonlik was daar teen die volgende dag nie eens ’n sweempie van hierdie entoesiasme oor nie.
Nadat ek omtrent tien jaar lank so gelewe het, het ek onvergenoegd begin voel. In teenstelling met die helder kleure in my skilderye het dit binne-in my al hoe donkerder geword, en ’n gevoel van eensaamheid het my beetgepak. My drome om ’n beroemde kunstenaar te word, het begin vervaag. Ek was neerslagtig en het nie geweet hoe om met my lewe aan te gaan nie. Dít is die tyd wat ek aan die begin van my verhaal beskryf het.
Gered deur die waarheid
In 1990 het ek besluit om my kuns in Lowetsj uit te stal. Ek het Janita, ’n kennis van die akademie in Sofia, genooi om aan die uitstalling deel te neem, aangesien sy ook van Lowetsj was. Ná die uitstalling het ek en Janita na ’n nabygeleë restaurant gegaan om dit te vier. Tydens ons gesprek het sy begin praat oor die dinge wat sy uit haar Bybelstudie saam met Jehovah se Getuies leer. Sy het my vertel van ’n nuwe wêreld wat in die Bybel voorspel word. Dit het my belangstelling gewek.
Janita het voortgegaan met haar Bybelstudie in Sofia, en sy het van tyd tot tyd vir my Bybellektuur gebring. Ek sal nooit vergeet hoe gretig ek deur die brosjure “Kyk, Ek maak alles nuut” gelees het en hoe ek die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe binne net ’n paar dae verslind het nie.a Dit was nie vir my moeilik om te aanvaar dat God bestaan nie, en ek wou onmiddellik weet hoe om te bid. Ek onthou my eerste gebed. Ek het op my knieë gegaan en Jehovah opreg vertel van my bekommernisse. Ek was ten volle oortuig daarvan dat hy na my luister. My eensaamheid het begin plek maak vir innerlike vreugde en vrede.
In Sofia het Janita my aan ’n egpaar voorgestel wat Jehovah se Getuies is. Hulle het aangebied om die Bybel met my te studeer en het my na hulle vergaderinge genooi. Ek onthou my eerste vergadering in Junie 1991. Ek was twee uur voor die tyd daar en het in ’n parkie gewag. Senuweeagtig, ongemaklik en vol twyfelgedagtes het ek gewonder of hulle my vriendelik sou ontvang. Tot my verbasing het almal my hartlik verwelkom ten spyte van my eienaardige Boheemse voorkoms. Van toe af het ek die vergaderinge gereeld bygewoon en twee keer per week ’n Bybelstudie gehad.
Ek was in die wolke toe ek my eerste Bybel gekry het. Nog nooit tevore het ek enigiets gelees wat so wonderlik en treffend is soos die wysheid in die Bergpredikasie nie! Namate my studie gevorder het, het ek self die krag ondervind wat God se Woord het om ’n mens te verander, soos Efesiërs 4:23 toon: “Julle [moet] vernuwe . . . word in die krag wat julle verstand aandryf.” Ek het opgehou rook en my onversorgde voorkoms verander. Die verandering was so groot dat my pa by my verbygeloop het sonder om my te herken toe hy my eendag by die treinstasie in Lowetsj kom ontmoet het.
Ek het begin oplet hoe dit om my lyk. Die gemors in my kamer, die geskilderde mure en die stank van sigaretrook het my nie meer geïnspireer nie. Ek het die drang gehad om alles skoon te maak. Ek het die mure wit geverf en so die buiteaardse drie-oogwese wat ek op die muur geverf het, uitgewis.
My vriende het hulle natuurlik gou uit die voete gemaak, maar hulle is spoedig vervang deur al die mense wat ek by Christelike vergaderinge ontmoet het, wat vandag nog my dierbare vriende is. Met sulke opbouende assosiasie het ek vinnig gevorder. Op 22 Maart 1992 is ek gedoop by die eerste byeenkoms van Jehovah se Getuies in Bulgarye, wat in die stad Plowdiw gehou is.
Ek keer terug na Lowetsj
Hoewel ek geweet het dat dit nie vir ’n kunstenaar maklik sou wees om in ’n klein dorpie ’n bestaan te maak nie, het ek besluit dat ek ná my graduering na Lowetsj sou terugkeer. Ek het besef dat dit, ten minste vir my, baie moeilik sou wees om ’n suksesvolle kunsloopbaan na te streef en terselfdertyd God se Koninkryk eerste in my lewe te stel. Daarom het ek besluit om my loopbaanplanne te verander en ’n vrywillige Bybelonderrigter te word. Terwyl ek nog by die Kunsakademie was, was Janita, wat drie jaar voor my gegradueer het, reeds ywerig besig om in Lowetsj Bybelwaarhede aan ander te leer. Sy was die enigste Getuie daar.
Teen die tyd dat ek na Lowetsj teruggetrek het, was daar al ’n klein groepie mense wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het. Ek het dit baie geniet om mense van huis tot huis te besoek en hulle van die toekomshoop te vertel wat ek my eie gemaak het. Ek het besluit om hierdie werk voltyds te doen.
Maar later het probleme ontstaan. In 1994 is ons amptelike registrasie as ’n godsdiensorganisasie gekanselleer en is daar met ’n uitgebreide smeerveldtog in die media begin.b Dit het dikwels gebeur dat die Getuies na die polisiestasie ontbied is en dat ons lektuur gekonfiskeer is. Gedurende hierdie moeilike tye was dit onwettig om in openbare plekke vir ons vergaderinge byeen te kom. Ons het nietemin ons vergaderinge gereeld gehou in ’n kamer van 12 vierkante meter langs Janita se huis. By een geleentheid het ons 42 mense in daardie klein kamertjie ingepas. Ons het die venster toegemaak wanneer ons Koninkryksliedere gesing het sodat ons nie die bure sou steur nie. Wanneer die buitetemperatuur hoog was, het die kamer soms warm en bedompig geword, maar ons was bly om saam te wees.
Seëninge van Jehovah
Ek het Janita se ywer vir ware aanbidding baie bewonder, en met verloop van tyd het romantiese gevoelens tussen ons ontwikkel. Ons is op 11 Mei 1996 getroud. Ten spyte van verskille in ons persoonlikhede vul ons mekaar op ’n wonderlike manier aan. Sy is my beste maat en my helper. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat hy my ’n vrou gegee het wie se “waarde . . . baie meer [is] as dié van korale”.—Spreuke 31:10.
Party van my voormalige vriende het nou suksesvolle kunstenaarsloopbane, die lewenswyse waarvan ek eens gedroom het. Maar ek is dankbaar dat ek gekies het wat ek as ’n beter loopbaan beskou. Ek het baie mense gehelp om sin in die lewe te vind, en hulle is nou my geestelike broers en susters. Enige roem of erkenning wat ek dalk as ’n kunstenaar kon verwerf het, kan nie vergelyk met die seëninge wat ek al in Jehovah se diens geniet het nie. Ek is bly dat ek die grootste Kunstenaar, Jehovah God, intiem leer ken het.
[Voetnote]
a Albei uitgegee deur Jehovah se Getuies. Die Paradys op aarde-boek is nou uit druk.
b In 1998, nadat appèl aangeteken is by die Europese Hof van Menseregte in Straatsburg, is die organisasie van Jehovah se Getuies in Bulgarye herregistreer.
[Prent op bladsy 12]
Saam met my vrou, Janita