Verskeidenheid—Noodsaaklik vir lewe
IN DIE 1840’s het Ierland ’n bevolking van meer as agtmiljoen gehad, wat dit die digs bevolkte land in Europa gemaak het. Aartappels was die land se stapelvoedsel, en ’n enkele variëteit wat lumpers genoem is, is die algemeenste verbou.
In 1845 het die boere soos gewoonlik hulle lumpers geplant, maar hulle het laatroes gekry, en dit het omtrent die hele oes vernietig. “Die grootste deel van Ierland het daardie moeilike jaar oorleef”, het Paul Raeburn in sy boek The Last Harvest—The Genetic Gamble That Threatens to Destroy American Agriculture geskryf. “Die verwoesting het die volgende jaar gekom. Die boere kon nie anders as om weer dieselfde aartappels te plant nie. Hulle het geen ander variëteite gehad nie. Hulle het weer laatroes gekry, maar hierdie keer het dit alles vernietig. Die lyding was onbeskryflik.” Geskiedskrywers skat dat tot 1 miljoen mense van die honger gesterf het, terwyl nog 1,5 miljoen geëmigreer het, die meeste na die Verenigde State. Dié wat agtergebly het, het volslae armoede ondervind.
In die Andes van Suid-Amerika het boere baie aartappelvariëteite verbou, en net ’n paar is deur laatroes aangetas. Gevolglik was daar nie ’n epidemie nie. Dit is duidelik dat ’n verskeidenheid spesies en ’n verskeidenheid in spesies beskerming bied. Om net ’n enkele eenvormige gewas te verbou, is in stryd met hierdie basiese oorlewingstrategie en stel plante bloot aan siektes of plae, wat ’n hele streek se oes kan uitwis. Dit is waarom baie boere so afhanklik is van die herhaalde gebruik van plaag-, onkruid- en swamdoders, selfs al is sulke chemiese middels dikwels skadelik vir die omgewing.
Waarom vervang boere dan hulle baie plaaslike variëteite met ’n enkele eenvormige gewas? Gewoonlik weens ekonomiese druk. As eenvormige gewasse geplant word, kan maklike oeswerk, ’n aantreklike produk, bestandheid teen bederf en hoë produktiwiteit verwag word. Hierdie neiging het in die 1960’s in alle erns begin met wat die groen revolusie genoem is.
Die groen revolusie
Deur omvattende regerings- en maatskappyveldtogte is boere in Iande wat tot hongersnood geneig is, oorreed om hulle verskillende gewasse te vervang met eenvormige graansoorte wat ’n hoë opbrengs lewer, veral rys en koring. Hierdie “wondergraansoorte” is begroet as die oplossing vir hongersnood in die wêreld. Maar dit was nie goedkoop nie—die sade was tot drie keer die normale prys. Oeste het ook in groot mate afgehang van chemiese middels, insluitende kunsmis, om nie te praat van duur toerusting soos trekkers nie. Die groen revolusie het nietemin met staatstoelae gou gewild geword. “Hoewel dit miljoene van hongersnood gered het”, sê Raeburn, “bedreig [dit] nou die wêreld se voedselsekerheid.”
Die groen revolusie het in werklikheid dalk korttermynvoordele gebied, maar langtermynrisiko’s meegebring. Eenvormige gewasse het spoedig regoor hele vastelande algemeen geword—terwyl die intensiewe gebruik van kunsmis meer onkruid laat opkom het en insekdoders nuttige insekte sowel as plae vernietig het. In ryslande het giftige chemiese middels visse, garnale, krappe, paddas en eetbare kruie en wilde plante doodgemaak—waarvan die meeste waardevolle aanvullende kossoorte was. Blootstelling aan chemiese middels het ook tot gevalIe van vergiftiging onder boere gelei.
’n Dosent in die Biologieafdeling van die Ope Universiteit in die Verenigde Koninkryk, dr. Mae-Wan Ho, het geskryf: “Dit is nou onbetwisbaar dat monokultuurgewasse wat sedert die ‘Groen revolusie’ ingevoer is, biodiversiteit en voedselsekerheid regoor die wêreld benadeel het.” Volgens die VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie is 75 persent van die genetiese verskeidenheid wat ’n eeu gelede in gekweekte plante was nou verlore, hoofsaaklik weens nywerheidsboerderypraktyke.
’n Dokument wat deur die Worldwatch-instituut uitgegee is, waarsku dat “die toepassing van genetiese eenvormigheid ons aan enorme ekologiese risiko’s onderwerp”. Hoe word hierdie risiko’s beperk? Landbouwetenskaplikes en sterk chemiese middels is nodig, asook finansiering vir boere. Tog is daar geen waarborge nie. Genetiese eenvormigheid het bygedra tot ’n verwoestende roes onder mielies in die Verenigde State en die verlies van 202 350 hektaar rys in Indonesië. In onlangse jare het ’n nuwe boerderyrevolusie egter begin, een wat die manipulering van lewe op ’n meer fundamentele vlak behels—die geen.
Die generevolusie
Die studie van genetika het aanleiding gegee tot ’n winsgewende nuwe bedryf wat biotegnologie genoem word. Soos die naam te kenne gee, kombineer dit biologie en moderne tegnologie deur tegnieke soos genetiese manipulering. Party van die nuwe biotegnologiese maatskappye, soos hulle genoem word, spesialiseer op die gebied van landbou en werk baie hard om sade te patenteer wat ’n goeie opbrengs lewer, wat teen siektes, droogte en ryp bestand is en wat die behoefte aan gevaarlike chemiese middels verminder. As sulke doelwitte bereik kan word, sal dit baie voordelig wees. Maar party het kommer uitgespreek oor geneties gemanipuleerde gewasse.
“In die natuur word genetiese verskeidenheid binne sekere grense geskep”, sê die boek Genetic Engineering, Food, and Our Environment. “’n Roos kan met ’n ander soort roos gekruis word, maar ’n roos sal nooit met ’n aartappel kruis nie. . . . Genetiese manipulering daarenteen behels gewoonlik dat gene van een spesie geneem word en in ’n ander ingeplant word in ’n poging om ’n gewenste eienskap of kenmerk oor te dra. Dit kan byvoorbeeld beteken dat ’n geen wat tot gevolg het dat ’n chemiese middel met vrieswerende eienskappe vervaardig word, van ’n poolvis (soos die botvis) gekies word en in ’n aartappel of aarbei gesplitslas word om dit vrieswerend te maak. Dit is nou moontlik om plante te manipuleer met gene uit bakterieë, virusse, insekte, diere of selfs mense.”a Biotegnologie maak dit dus in wese vir mense moontlik om deur die genetiese mure te breek wat spesies skei.
Soos die groen revolusie, dra wat party die ‘generevolusie’ noem tot die probleem van genetiese eenvormigheid by—party sê selfs nog meer, omdat genetici tegnieke soos kloning en weefselkweking kan gebruik, prosesse wat heeltemal identiese weergawes, of klone, lewer. Die afname in biodiversiteit bly dus ’n bron van kommer. Geneties gewysigde plante laat egter nuwe kwessies ontstaan, soos die uitwerking wat dit op ons en die omgewing kan hê. “Met hoë verwagtinge, min beperkinge en feitlik geen idee van die moontlike gevolge nie begewe ons ons blindelings in ’n nuwe era van landboubiotegnologie”, het die wetenskapskrywer Jeremy Rifkin gesê.b
Daarenteen is die vermoë om lewe op die genetiese vlak te manipuleer ’n potensiële goudmyn, en daarom is daar ’n wedloop aan die gang om nuwe sade en ander gemanipuleerde organismes te patenteer. Intussen sterf plante nog steeds uit. Soos vroeër genoem is, het party regerings en privaat instellings saadbanke opgerig om ’n ramp te voorkom. Sal hierdie banke toekomstige geslagte in staat stel om ’n groot verskeidenheid sade te hê om te plant en te oes?
Saadbanke—Versekering teen uitsterwing?
Die Koninklike Botaniese Tuine in Kew, Engeland, het begin met wat dit beskryf as “een van die grootste internasionale bewaringsprojekte wat nog onderneem is”—die Millenniumsaadbankprojek. Die hoofdoelwitte van die projek is (1) om 10 persent—meer as 24 000 spesies—van die wêreld se saaddraende flora teen 2010 te versamel en te bewaar en (2) om lank voor daardie tyd sade van die hele Verenigde Koninkryk se inheemse saaddraende flora te versamel en te bewaar. Ander lande het ook saadbanke, of genebanke soos hulle soms genoem word, opgerig.
Die bioloog John Tuxill sê dat ten minste 90 persent van die miljoene sade wat in saadbanke bewaar word, sade is van plante wat waardevol is as kos of ’n ander nut het, soos koring, rys, mielies, sorgum, aartappels, uie, knoffel, suikerriet, katoen, sojabone en ander bone, -om net ’n paar te noem. Maar sade is lewende organismes wat net kiemkragtig bly solank hulIe interne energiereserwes nie opraak nie. Hoe betroubaar is saadbanke dan?
Probleme by die bank
Saadbanke kos geld om te bedryf—jaarliks -altesaam omtrent R2,4 miljard, volgens Tuxill. Maar selfs hierdie bedrag is dalk onvoldoende, sê hy, want “net 13 persent van die sade in genebanke is in inrigtings wat goed bedryf word en vir langtermynbewaring geskik is”. Omdat sade wat onder swak toestande bewaar word, nie lank hou nie, moet dit vroeg geplant word sodat die volgende geslag sade geoes kan word; anders- word saadbanke saadlykshuise. Sulke werk is natuurlik arbeidsintensief, wat sake net ingewikkelder maak vir inrigtings wat alreeds ’n tekort aan fondse het.
Die boek Seeds of Change—The Living Treasure verduidelik dat die Nasionale Saadbewaringslaboratorium, in Colorado, VSA, “verskeie probleme gehad het, insluitende kragonderbrekings, gebreekte verkoelingstoerusting en ’n tekort aan personeel wat reusagtige, deurmekaar hope sade ongekatalogiseerd gelaat het”. Saadbanke is ook onderhewig aan politieke omwentelinge, ekonomiese afswaaie en natuurrampe.
Langtermynbewaring skep ook ander probleme. In hulle natuurlike omgewing het plante ’n beperkte maar noodsaaklike vermoë om aanpasbaar te wees, en dit stel hulle in staat om siektes en ander uitdagings te oorleef. Maar in die beskermde omgewing van ’n saadbank kan hulle ná ’n paar geslagte van daardie aanpasbaarheid verloor. Die goed bewaarde sade van baie plante kan egter eeue lank hou voordat hulle herplant hoef te word. Ondanks sulke beperkings en onsekerhede weerspieël die blote bestaan van saadbanke die groeiende besorgdheid oor die toekoms van die mensdom se voedselgewasse.
Die beste manier om uitsterwing te laat afneem, is natuurlik om habitats te beskerm en ’n verskeidenheid in gewasse te bevorder. Maar om dit te doen, sê Tuxill, moet ons “’n nuwe ewewig tussen die mens se behoeftes en dié van die sigbare wêreld ontwikkel”. Maar hoe realisties is dit om te dink dat mense ‘’n nuwe ewewig sal ontwikkel’ met die sigbare wêreld terwyl hulle nywerheids- en ekonomiese vooruitgang met amper ’n soort godsdiensywer nastreef? Selfs die landbou, soos ons gesien het, word by die hipertegnologiese, markgerigte sakewêreld betrek. Daar moet ’n ander antwoord wees.
[Voetnote]
a Teorieë oor die moontlike uitwerking van geneties gewysigde kossoorte op die gesondheid van diere en mense en op die omgewing bly omstrede. Die genetiese vermenging van heeltemal onverwante organismes het party beweeg om etiese vrae te opper.—Sien die Ontwaak! van 22 April 2000, bladsye 25-7.
b Die tydskrif New Scientist berig dat Europese suikerbete wat “geneties gewysig is om teen een onkruidmiddel bestand te wees, per ongeluk die gene verkry het om teen nog een bestand te wees”. Die foutiewe geen het in die bete gekom toe dit per ongeluk bestuif is deur ’n ander beetsoort wat gemanipuleer is om teen ’n ander soort onkruidmiddel bestand te wees. Party wetenskaplikes vrees dat die wydverspreide gebruik van gewasse wat teen onkruidmiddels bestand is, tot die ontstaan van superonkruid kan lei wat teen onkruidmiddels immuun is.
[Venster op bladsy 7]
Die Boer—’n ‘Bedreigde spesie’?
“Sedert 1950 het die aantal mense wat in die landboubedryf werk, in alle nywerheidslande skerp afgeneem, in party streke met meer as 80 persent”, sê die tydskrif World Watch. Die Verenigde State het byvoorbeeld nou minder boere as gevangenes. Waarom verlaat soveel mense die plase?
Vername faktore is ’n laer inkomste, al hoe meer landbouskuld, toenemende armoede en al hoe meer meganisering. In 1910 het boere in die Verenigde State omtrent 40 sent ontvang vir elke dollar wat in winkels vir kos betaal is, maar teen 1997 het die boere se deel tot omtrent 7 sent gekrimp. ’n Koringboer, sê World Watch, “kry net 6 sent van die dollar wat vir ’n brood betaal word”. Dit beteken dat klante omtrent net soveel vir die verpakking betaal as wat hulle die boer vir sy koring betaal. In ontwikkelende lande is boere selfs slegter daaraan toe. ’n Boer in Australië of Europa kan dalk geld by ’n bank leen om deur ’n slegte jaar te kom; ’n boer in Wes-Afrika sal dalk nie weer kan probeer nie. Hy sal dalk nie eers ’n bestaan kan maak nie.
[Prente op bladsy 7]
“Monokultuurgewasse wat sedert die ‘Groen revolusie’ ingevoer is, [het] biodiversiteit en voedselsekerheid regoor die wêreld benadeel.”—Dr. Mae-Wan Ho
[Erkennings]
Agtergrond: U.S. Department of Agriculture
Centro Internacional de Mejoramiento de Maiz y Trigo (CIMMYT)
[Prente op bladsy 8]
Die Millenniumsaadbank, in Engeland, bewaar waardevolle plantsade
[Erkenning]
© Trustees of Royal Botanic Gardensm Kew