Is die mens besig om sy kosvoorraad te vernietig?
“Vandag [is] ons ware uitdaging nie skulde en nadelige saldo’s of wêreldwye mededinging nie, maar die feit dat ons ’n manier moet vind om betekenisvolle, bevredigende lewens te lei sonder om die planeet se biosfeer, wat alle lewe onderhou, te vernietig. Die mensdom het nog nooit voor so ’n bedreiging te staan gekom nie: die ineenstorting van juis dié elemente wat ons aan die lewe hou.”—Die genetikus David Suzuki.
’N APPEL kan maklik as vanselfsprekend aangeneem word. As jy woon waar appels volop is, kan jy dink dat dit geredelik beskikbaar is en, nog beter, dat daar ’n groot verskeidenheid is om van te kies. Maar het jy geweet dat daar vandag dalk baie minder soorte is om van te kies as wat daar 100 jaar gelede was?
Tussen die jare 1804 en 1905 is 7 098 appelsoorte in die Verenigde State verbou. Vandag het 6 121 daarvan—86 persent—uitgesterf. Dieselfde het met pere gebeur. Ongeveer 88 persent van die 2 683 variëteite wat vroeër verbou is, het nou uitgesterf. En wat groentesoorte betref, is die getalle selfs meer kommerwekkend. lets is besig om te verdwyn, en dit word biodiversiteit genoem—nie net die ryk verskeidenheid lewende spesies nie, maar ook die ryk verskeidenheid soorte wat in spesies gevind word. Die verskeidenheid in die verskillende groentesoorte wat in die Verenigde State verbou word, het in minder as 80 jaar met 97 persent afgeneem! Maar is verskeidenheid werklik belangrik?
Baie wetenskaplikes sê dat dit is. Hoewel daar nog oor die rol van biodiversiteit gedebatteer word, sê verskeie omgewingskenners dat dit noodsaaklik vir lewe op die aarde is. Hulle sê dat dit net so belangrik is vir die plante wat ons vir kos kweek as vir dié wat wild groei in die bosse, oerwoude en grasvelde van die wêreld. Verskeidenheid in ’n spesie is ook belangrik. Die baie rysrasse vergroot byvoorbeeld die moontlikheid dat party rasse teen algemene plae bestand sal wees. Daarom het ’n dokument wat deur die Worldwatchinstituut uitgegee is, onlangs gesê dat daar bowenal een ding is wat vir die mensdom kan wys hoe ernstig dit is om die aarde se biodiversiteit te vernietig—die uitwerking op ons kosvoorraad.
Wanneer plante uitsterf, kan dit voedselgewasse op ten minste twee maniere raak: eerstens, deur die wilde familie van gekweekte gewasse, ’n moontlike bron van gene vir toekomstige kweking, uit te wis, en tweedens, deur die aantal rasse in gekweekte spesies te verminder. Vroeg in die 20ste eeu is daar byvoorbeeld meer as 100 000 plaaslike rysvariëteite in Asië gekweek, met ten minste 30 000 in Indië alleen. Nou maak net tien variëteite 75 persent van Indië se oes uit. Sri Lanka se 2 000 rysrasse is omtrent almal deur 5 vervang. Mexiko, waar mielieverbouing ontstaan het, kweek net 20 persent van die variëteite wat in die 1930’s daar gevind is.
Maar meer as net kos is op die spel. Omtrent 25 persent van die medisyne wat vir die handel vervaardig word, kom van plante, en nuwe plante met geneeskragtige eienskappe word steeds gevind. Tog word plante voortdurend uitgewis. Is ons in werklikheid besig om die tak af te saag waarop ons sit?
Volgens die Wêreldbewaringsunie loop meer as 11 000 van die ongeveer 18 000 plant en diersoorte wat ondersoek is, gevaar om uit te sterf. In plekke soos Indonesië, Maleisië en Latyns-Amerika, waar groot stroke van die woud vir plantasies ontbos is, kan navorsers net raai hoeveel spesies op die rand van uit-sterwing staan—of alreeds uitgesterf het. Nietemin sê party dat uitsterwing “katastrofies vinnig” plaasvind, berig The UNESCO Courier.
Die aarde lewer natuurlik nog steeds ’n geweldige hoeveelheid kos. Maar hoe lank kan ’n groeiende mensebevolking homself voed as die planeet se biodiversiteit krimp? Verskeie lande het op sulke bekommernisse gereageer deur saadbanke te stig as ’n versekering teen die verlies van belangrike plante. Party botaniese tuine het hulle op die bewaring van spesies begin toelê. Die wetenskap het die kragtige nuwe instrument, genetiese manipulering, verskaf. Maar kan saadbanke en die wetenskap werklik die probleem oplos? Die volgende artikel sal hierdie vraag ondersoek.