Ons beskou die wêreld
Reënwoude
Volgens beskikbare inligting was daar in Indië slegs reënwoude in die suidelike staat Kerala. Maar die omgewingsdeskundige Saumjadeep Dutta het onlangs ’n reënwoudgebied van 500 vierkante kilometer ontdek wat tussen die noordoostelike state Assam en Arunachal Pradesh lê, berig die tydskrif Down to Earth van Nieu-Delhi. Die woud onderhou ’n groot verskeidenheid wilde diere—“32 soogdiersoorte en 260 voëlsoorte, insluitende seldsame olifant- en tiersoorte sowel as die newelkat, die Chinese pangolien, die snuitbeer, die sambar, hoolock-gibbons, kaliefisante, neushoringvoëls en witvlerkboseende”. Nietemin bedreig die internasionale vraag na woudprodukte baie reënwoude, sê Down to Earth. Sommige natuurkenners vrees dat reënwoude nie meer bewaar sal word nie, maar bloot in landbougrond omskep sal word as sulke produkte weens oorbenutting opraak.
Die brul van ’n tier
Waarom lyk dit asof ’n tier se brul nie net ander diere nie, maar ook party mense lamslaan? Wetenskaplikes van die Dierekommunikasie-navorsingsinstituut in Noord-Carolina, VSA, “het vasgestel dat die tier lae ‘infrasoniese klanke’ voortbring, ’n gromgeluid wat so diep is dat mense dit nie eers kan hoor nie”, berig The Sunday Telegraph van Londen. Mense kan net klankfrekwensies bo 20 hertz (Hz) hoor, maar die tier “meng infrasoniese gromgeluide van 18 Hz en minder met die brul wat ons kan hoor, en volgens Elizabeth von Muggenthaler, die president van die instituut, is die gevolg dat mense in werklikheid die tier kan voel brul, ’n sensasie wat tydelike verlamming veroorsaak”, verduidelik die koerant. Selfs ervare tierafrigters het al met hierdie verskynsel te doen gekry.
Vleis met plofstof saggemaak
Kokke maak taai vleis gewoonlik sag deur dit met ’n vleishamer te slaan of ’n poeier te gebruik wat ensieme bevat om die vleis sag te maak. Navorsers in Maryland, VSA, doen egter eksperimente om te sien of vleis met kragtige skokgolwe saggemaak kan word, berig die tydskrif New Scientist. Die navorsers sit die vleis op ’n staalplaat onder in ’n plastiekvullisblik vol water. Hulle laat dan die ekwivalent van ’n kwart dinamietkers binne-in die blik ontplof. “Die water gelei die skokgolf deur die vleis”, sê die verslag, “maar die arme vullisblik word in stukkies geskiet.” Die proses maak nie net die vleis sag nie, maar vernietig ook bakterieë soos E. coli, wat voedselvergiftiging kan veroorsaak. Dit is egter soos Randy Huffman van die Amerikaanse Vleisinstituut sê: “Die werklike uitdaging sal wees om hierdie metode prakties aan te wend.”
Skepe versprei siektes
“Ballaswater in skepe versprei siektes in alle wêrelddele en stel mense, diere en plantlewe in gevaar”, sê The Daily Telegraph van Londen. Skepe gebruik ballaswater as ’n stabiliseerder en tap dit op see of by aanlêhawens uit. In die Verenigde State het navorsers van die Smithsonian-omgewingsnavorsingsentrum in Maryland gevind dat die ballaswater van groot skepe hoë konsentrasies bakterieë en virusse bevat. Die plankton in die ballaswater van al 15 skepe wat in Chesapeake-baai getoets is, het die bakterie bevat wat cholera veroorsaak. Een liter ballaswater het oor die algemeen sowat 830 miljoen bakterieë en 7 400 miljoen virusse bevat—ses tot agt keer die aantal ander organismes.
Te veel speelgoed
“Volgens nuwe navorsing verleer kinders hoe om behoorlik te speel omdat hulle te veel speelgoed en speletjies gegee word”, berig The Sunday Times van Londen. Die navorsing is gedoen gedeeltelik weens kommer in Brittanje dat “die kinderjare onherroeplik verander word omdat ouers nie tyd saam met hulle kinders deurbring nie en met speelgoed, rekenaars en televisie daarvoor probeer vergoed”. Nadat professor Kathy Sylva van die universiteit van Oxford 3 000 drie- tot vyfjarige kinders bestudeer het, het sy die volgende gevolgtrekking gemaak: “Wanneer kinders baie speelgoed het, lyk dit asof hulle aandag afgelei word, en wanneer hulle aandag afgelei word, leer of speel hulle nie goed nie.”
Depressie by die werk
“Angs, uitbranding en depressie by die werk neem onrusbarend vinnig toe”, berig The Guardian van Londen. Volgens die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie het tot 3 uit elke 10 werknemers in die Verenigde Koninkryk geestesgesondheidsprobleme, en 1 uit elke 10 werkers in die Verenigde State ly na bewering aan kliniese depressie. Byna 7 persent van die mense in Duitsland wat vroeg aftree, doen dit weens depressie. Meer as die helfte van Finland se arbeidsmag ondervind stresverwante simptome. In 1999 het angstigheid in Pole met 50 persent toegeneem weens die ontsettend hoë werkloosheidsyfer daar, terwyl daar ook meer selfmoorde was. Omdat daar voortdurend na nuwe tegnologie en bestuurstegnieke oorgeskakel word, voorspel die verslag dat depressie drasties sal toeneem. En dit waarsku dat “spanning en geestesiektes teen 2020 verkeersongelukke, vigs en geweld sal verbysteek as die hoofoorsaak van verlore werksure”.
Die ontsaglike koste van misdaad
“Misdaad in Engeland en Wallis kos die gemeenskap jaarliks £60 bn. [R672 miljard]”, berig The Independent van Londen. Hierdie bedrag, wat deur die Britse Ministerie van Binnelandse Sake as ’n matige raming beskryf is, verteenwoordig 6,7 persent van die bevolking se bruto binnelandse produk. Moord en strafbare manslag is verreweg die duurste misdade, wat die land gemiddeld meer as £1 miljoen (R11 miljoen) elk kos, terwyl ander ernstige geweldsmisdade elk gemiddeld £19 000 (R213 000) beloop. Bedrog en vervalsing maak byna ’n kwart van die totale koste uit. Hierdie bedrae sluit nie “die koste van die vrees vir misdaad, die uitwerking op die gesin van slagoffers, die geld wat deur die regering aan misdaadvoorkoming bestee word . . . of die koste van versekeringseise” in nie, voeg die koerant by.
Onkruid doeltreffender as plaagdoders
In Oos-Afrika gebruik boere onkruid in plaas van plaagdoders om groter mielieoeste te kry, berig die tydskrif New Scientist. Mielieboere in Oos-Afrika het met twee ernstige plae te kampe. Een is die rooiblom, ’n parasietplant wat jaarliks gewasse ter waarde van R80 miljard vernietig. Ziadin Khan, ’n navorser in Kenia, het ontdek dat die rooiblom nie wou groei toe ’n onkruid met die naam desmodium tussen rye mielies geplant is nie. Die ander plaag is die larwe van die stamboorder, wat die meeste jare ’n derde van die mielieoes vernietig. Khan het egter gevind dat stamboorders dit verkies om ’n plaaslike onkruid te eet wat napiergras genoem word. Deur hierdie onkruid in hulle landerye te plant, lok boere die insekte van die mielies af weg. Die gras gee ’n klewerige stof af waaraan die larwes vassit en dan doodgaan. “Dit is beter as plaagdoders en baie goedkoper”, sê Khan. “En dit het plaasopbrengste in hierdie omgewing met 60 tot 70 persent verhoog.”
Argeoloog se bedrog
Een van Japan se topargeoloë, wat weens sy oënskynlik verbasende ontdekkings die goddelike opgrawer genoem is, se kullery is op videoband vasgelê. ’n Videokamera wat deur die koerant Mainitsji Sjimboen opgestel is, het die argeoloog betrap toe hy klipartefakte by ’n argeologiese terrein begrawe het voordat die opgrawingspan opgedaag het. Die argeoloog kon die bewyse nie ontken nie en het erken dat hy items uit sy eie versameling begrawe het. Sy opgrawings van die afgelope 30 jaar word nou opnuut in oënskou geneem. As gevolg hiervan verwag boekuitgewers dat hulle argeologiese naslaanwerke en skoolhandboeke sal moet hersien.
Ongelukke onder kinders
Volgens ’n studie van die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) wat in 26 lande gedoen is, is ongelukke die hoofoorsaak van kindersterftes in die wêreld se rykste lande. “In die lande wat bestudeer is, was beserings verantwoordelik vir byna 40 persent van die sterftes onder kinders van 1 tot 14 jaar”, wat sowat 20 000 sterfgevalle per jaar beteken, berig Japan se Mainichi Daily News. Faktore wat die moontlikheid van beserings onder kinders vergroot, is armoede, enkelouers wat kinders alleen grootmaak, groot gesinne en dwelm- en alkoholmisbruik deur ouers. UNICEF het daarop aangedring dat aandag geskenk moet word aan “beproefde lewensredders: valhelms, spoedbeperkings in digbevolkte gebiede, veiligheidsitplekke vir kinders in motors, sitplekgordels, kinderbestande proppies vir medisyne, rookverklikkers in huise en veiligheidstandaarde op speelterreine”.