‘Dalk sal hy dié keer verander’
ROXANAa is ’n lewenslustige, aantreklike moeder van vier kinders en is getroud met ’n gesiene chirurg in Suid-Amerika. “My man is sjarmant teenoor vroue en gewild by mans”, sê sy. Maar daar is ’n donker sy aan Roxana se man, een wat selfs hulle intieme vriende nie sien nie. “By die huis is hy ’n monster. Hy is ontsettend jaloers.”
’n Mens kan die angs duidelik op Roxana se gesig sien terwyl sy haar verhaal verder vertel. “Die probleem het net ’n paar weke ná ons troue begin. My broers en my ma het vir ons kom kuier, en dit was só lekker vir my om saam met hulle te gesels en te lag. Maar toe hulle weg is, het my man my met geweld op die bank neergegooi, buite homself van woede. Ek kon nie glo dat dit besig was om te gebeur nie.”
Ongelukkig was dit net die begin van Roxana se probleme, want oor die jare is sy herhaaldelik geslaan. Dit lyk asof die mishandeling ’n voorspelbare patroon volg. Roxana se man slaan haar, dan smeek hy haar om hom te vergewe en beloof hy om dit nooit weer te doen nie. Sy gedrag verbeter—ten minste vir ’n rukkie. Dan begin die nagmerrie weer van voor af. “Ek bly dink dat hy dalk dié keer sal verander”, sê Roxana. “Selfs wanneer ek hom verlaat, kom ek altyd terug na hom toe.”
Roxana is bang dat haar man eendag nog gewelddadiger gaan word. “Hy het al gedreig om my, die kinders en homself dood te maak”, sê sy. “Eenkeer het hy ’n skêr teen my keel gedruk. ’n Ander keer het hy my met ’n rewolwer gedreig, dit teen my oor gedruk en die sneller getrek! Gelukkig was dit nie gelaai nie, maar ek het my doodgeskrik.”
Waarom hulle stilbly
Net soos Roxana ly miljoene vroue regoor die wêreld onder gewelddadige mans.b Baie van hulle bly stil oor hulle probleem. Hulle meen dat dit niks sal help om die saak aan te gee nie. Talle vroueslaners het op stuk van sake aantygings eenvoudig ontken met stellings soos: “My vrou raak gou opgewonde” of “Sy is geneig om te oordryf.”
Dit is tragies dat baie vroue juis in dié plek waar hulle die veiligste behoort te voel—hulle eie huis—gedurig in vrees lewe dat hulle aangerand sal word. Nogtans is dit alte dikwels die skuldige party in plaas van die slagoffer vir wie mense jammer voel. Trouens, sommige kan net nie glo dat ’n man wat so ordentlik voorkom, sy vrou sal slaan nie. Beskou byvoorbeeld wat met ’n vrou genaamd Anita gebeur het toe sy besluit het om nie langer stil te bly oor hoe haar gesiene man haar mishandel nie. “Een van ons kennisse het vir my gesê: ‘Hoe kan jy so ’n goeie man beskuldig?’ ’n Ander het gesê dat ek hom heel waarskynlik daartoe dryf! Selfs nadat dit aan die lig gekom het dat my man wel skuldig is, het van my vriende my begin vermy. Hulle het gemeen dat ek maar net daarmee moes saamgeleef het, want ‘dis maar hoe mans is’.”
Soos Anita se ondervinding toon, is dit vir baie mense moeilik om die wrede werklikheid van huweliksgeweld te begryp. Wat dryf ’n man om so wreed te wees teenoor die vrou wat hy beweer hy liefhet? Hoe kan slagoffers van geweld gehelp word?
[Voetnote]
a Die name in hierdie reeks is verander.
b Ons gee toe dat baie mans ook slagoffers van geweld is. Maar studies toon dat die kanse groter is dat vroue veel ernstiger beseer sal word. Hierdie artikels bespreek derhalwe mishandeling waarin die slagoffer ’n vrou is.
[Venster/Prent op bladsy 4]
Die omvang van gesinsgeweld
Volgens die Verenigde Nasies se Verklaring oor die Beëindiging van Geweld teen Vroue kan die term “geweld teen vroue” verwys na “enige daad van geweld op grond van geslag wat lei tot, of waarskynlik sal lei tot, fisiese, seksuele of verstandelike leed aan of lyding vir vroue, met inbegrip van dreigemente van sulke dade, dwang of eiemagtige ontneming van vryheid, hetsy dit in die openbaar of in die privaat lewe plaasvind”. Hierdie geweld sluit onder meer dinge in soos “fisiese, seksuele en sielkundige geweld in die gesin en in die algemene samelewing, asook mishandeling, molestering van dogters, bruidskatverwante geweld, verkragting in die huwelik, die verminking van vroulike geslagsorgane en ander tradisionele gebruike wat skadelik is vir vroue”.