Die mens se onderdrukking van ander
DIE verloop van die geskiedenis bevestig die waarheid van die woorde in Prediker 8:9: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.” Of soos die Katolieke Jerusalem Bible dit stel: “Die een mens onderdruk die ander tot sy nadeel.” Miljoene mense het al as gevolg van ongeregtigheid gely, en dit was die geval onder byna al die verskillende regeringsvorme wat oor die mensdom geheers het. Mense is aan hierdie lyding herinner tydens ’n toespraak wat deur die assistentsekretaris vir Indianesake van die Amerikaanse Departement van Binnelandse Sake gehou is by die 175ste herdenking van die stigting van die Kantoor van Indianesake.
Hy het gesê dat dit nie ’n tyd van feesviering is nie, maar eerder “’n tyd om oor die droewige waarheid te praat, ’n tyd van berou”. Hy het erken dat die eerste opdrag aan hierdie departement gedurende die 1830’s was om die stamme in die suidooste—die Cherokee, Creek, Choctaw, Chickasaw en Seminole—van hulle grond af te verdryf. “Hierdie groot nasies is met dreigemente, bedrog en geweld gedwing om 1 000 myl [1 600 km] weswaarts te loop, terwyl hulle duisende van hulle oumense, jongmense en siekes haastig langs die Pad van Trane moes begrawe.”
Hy het verder gesê: “En tog moet ons in hierdie verligte tye erken dat die doelbewuste verspreiding van siektes, die uitwissing van die magtige bisontroppe, die gebruik van die gif alkohol, wat die verstand en liggaam vernietig, asook die lafhartige slagting van vroue en kinders, ’n tragedie veroorsaak het wat so verskriklik is dat dit nie net as die onvermydelike gevolg van ’n botsing tussen verskillende lewenswyses afgemaak kan word nie.”a Hy het erken: “Hierdie instansie se doelstelling was om alles te vernietig wat Indiaans is. Hierdie instansie het verbied dat enige Indiaanse tale gepraat word . . . en het Indiane hulle laat skaam vir wie hulle is. Maar die ergste van alles is dat die Buro vir Indianesake hierdie dinge aan kinders gedoen het wat na kosskole onder hulle sorg gestuur is, waar hulle emosioneel, sielkundig, liggaamlik en geestelik wreed behandel is.”
Hy het met hierdie woorde afgesluit: “Kom ons begin deur ons innige spyt uit te spreek oor wat hierdie instansie in die verlede gedoen het. . . . Ons sal nooit weer medepligtig wees aan die diefstal van Indiane se eiendom nie. . . . Ons sal nooit weer julle godsdiens, julle taal, julle rituele of enige van julle stamgebruike aanval nie.” Dit is betekenisvol dat hy gesê het: “Saam moet ons die trane van sewe geslagte afdroog. Saam moet ons toelaat dat ons gebroke harte heel.”—Vital Speeches of the Day, 1 Oktober 2000.
Die enigste ware en blywende oplossing vir die mensdom se wreedheid teenoor ander is God se Koninkryk wat geregtigheid vir almal sal herstel en “al die trane van hulle oë [sal] afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
[Voetnoot]
a Die geskiedenis van die Indiane bevestig die feit dat daar dikwels konflikte tussen stamme was; daarom het gevegte “oor grond, perde en buffels voortdurend plaasgevind”.—The People Called Apache.
[Foto-erkennings op bladsy 31]
Indiaan: Artwork based on photograph by Edward S. Curtis; kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.; Indianewonings: Leslie’s