Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 11/22 bl. 18-22
  • Verhale van geloof uit ’n historiese gevangenis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verhale van geloof uit ’n historiese gevangenis
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Immigrante in die gevangenis kry hoop
  • Hy is vergewe
  • Hy het die weg gevind
  • ’n Ryk oes
  • “Julle het my indruk van Jehovah Se Getuies verander”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Is ware rehabilitasie moontlik?
    Ontwaak!—2001
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—2003
  • Is die oplossing ’n deel van die probleem?
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 11/22 bl. 18-22

Verhale van geloof uit ’n historiese gevangenis

Regoor die wêreld besoek vrywilligers onder Jehovah se Getuies gevangenisse om gevangenes te help wat die opregte begeerte het om nader aan God te kom. Ons bied al meer as 20 jaar lank so ’n Bybelonderrigprogram met sukses aan in die federale strafgevangenis in Atlanta, Georgia, VSA. Dit is ’n uitdaging om die Bybel met mense in ’n gevangenis te studeer. As vrywillige bedienaars het ons al te doen gehad met bankrowers, afpersers, moordenaars, dwelmsmouse, swendelaars en seksoortreders. Hoe word hierdie mense gehelp?

JY SAL dalk eers wil hoor wanneer en hoe Jehovah se Getuies aanvanklik na hierdie gevangenis gekom het. Dit was op 4 Julie 1918. ’n Groepie van agt vooraanstaande Christenbedienaars is teen die 15 graniettrappe van hierdie federale strafgevangenis op begelei. As die algemene gebruik van daardie tyd gevolg is, was hulle hande aan ’n “buikketting” vasgeboei en hulle voete in kettings. Die nuwelinge was geestelik bekwame manne wat die leiding geneem het onder die Internasionale Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Min het hierdie manne geweet dat nie eers ’n jaar sou verbygaan voor dit beslis sou word dat hulle opsluiting ’n growwe regsdwaling was nie. In Maart 1919 het die agt Getuiebedienaars teen daardie selfde gevangenistrappe afgeloop, sonder boeie en vry. Hulle is later vrygespreek toe die owerheid besluit het om die saak terug te trek.a

Gedurende hulle gevangenskap in Atlanta het daardie Christenmanne Bybelstudieklasse gehou. Een van die agt gevangenes, A. H. Macmillan, het later vertel dat die onderbewaarder aanvanklik teen hulle gekant was, maar uiteindelik beweeg is om te sê: “Die lesse wat julle [vir die gevangenes] gee, is wonderlik!”

Vandag, meer as 80 jaar later, maak produktiewe Bybelstudieklasse nog steeds ’n blywende indruk op individue in hierdie selfde gevangenis. By verskeie geleenthede het gevangenisbeamptes die lede van ons groep uitgesonder vir spesiale erkenning en eretoekennings. Daar is ook berig gelewer oor die doeltreffendheid van Jehovah se Getuies se opvoedkundige programme in Volunteer Today, ’n nuusbrief wat landwyd uitgegee word deur die Amerikaanse Departement van Justisie se Federale Gevangenisburo.

Een van die voordele van die Bybelstudieklasse met gevangenes is dat hulle gedrag merkbaar verbeter. Gevolglik is sommige vroeër uit die gevangenis vrygelaat. Siniese mense beweer dalk dat gevangenes die Bybel slegs om hierdie rede saam met ons studeer. Hoewel dit in ’n paar gevalle gebeur het, het ons dikwels ondervind dat juis die teenoorgestelde waar is. Dit verbly elke keer ons hart wanneer ons hoor dat ons studente jare ná hulle vrylating uit die gevangenis nog steeds hulle goeie Christelike gedrag handhaaf. Hier volg ’n paar van die talle ondervindinge wat ons gehad het agter die hoë mure van hierdie historiese gevangenis.

Immigrante in die gevangenis kry hoop

In die vroeë 1980’s het dié van ons wat die predikingswerk in die Atlanta-strafgevangenis gedoen het, die voorreg geniet om baie van die immigrante in die gevangenis te help. Party het merkwaardige veranderinge ondergaan.

Raoulb was aanvanklik ’n uiters gevaarlike gevangene. Hy en ’n vriend was beroepsmisdadigers wat weens moord in die tronk was. Volgens die ouer manne wat hulle gehelp het, was hulle besonder gewelddadig. Raoul het aartsvyande gehad. Een man het gesweer dat hy Raoul sou doodmaak, en Raoul het gesweer dat hy dieselfde aan hom sou doen. Raoul was doodbang toe sy aartsvyand na Atlanta oorgeplaas is. Dit het gelyk of dit net ’n kwessie van tyd sou wees voordat hierdie twee ou vyande mekaar in die binneplaas, die kafeteria of die selblok sou raakloop. Maar nadat Raoul die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het sy denke, gedrag en voorkoms dramaties verander. Toe die twee mans uiteindelik in die gevangenis se binneplaas by mekaar verbygeloop het, het Raoul se aartsvyand hom nie eers herken nie! Die bloedige konfrontasie wat onafwendbaar gelyk het, het toe nooit plaasgevind nie.

Toe Raoul besluit het om sy toewyding aan God deur doop te simboliseer, moes ’n gepaste doopbad gevind word. Die kapelaan van die gevangenis het die probleem opgelos deur ’n swart doodskis as ’n doopbad te voorsien. Die kis is toe tot bo vol water gemaak. Maar dit het gelyk of Raoul groter as die kis is. Gevolglik moes twee ouer manne saam werk om seker te maak dat Raoul heeltemal onder die water gedompel word, soos die Bybel vereis (Lukas 3:21, voetnoot in naslaanuitgawe). Vandag is Raoul ’n vry man, en hy dien nog steeds as ’n ywerige Christenbedienaar.

In 1987 het ’n beslissing dat baie van die immigrante in die gevangenis gedeporteer sou word, tot ’n hewige oproer in die gevangenis gelei, en groot verwoesting is aangerig. Dit was regoor die wêreld in die nuus. Gyselaars is aangehou. Maar min mense ken die verhale van moedige immigrante in die gevangenis wat hulle lewe in gevaar gestel het deur te weier om aan die plofbare en gewelddadige opstand deel te neem. Hulle was studente van ons Bybelstudieklasse. Hierdie mans, wat voorheen gou was om tot die dood toe te veg, het neutraal gebly—hulle het geensins aan die geweld of vandalisme deelgeneem nie. Wat ’n sprekende bewys is dit tog nie van die Bybel se krag om selfs wrede misdadigers te verander sodat hulle vredeliewende Christene word nie!—Hebreërs 4:12.

Hy is vergewe

Nog ’n onvergeetlike ondervinding is dié van James. Hy was vroeër een van Jehovah se Getuies, maar het geestelik swak geword. Hy het voor versoeking geswig en was by bankbedrog betrokke. Hy is uit die Christengemeente gesit en het in die Atlanta- federale strafgevangenis beland. Hy het ons later vertel: “Dit was beslis die absolute laagtepunt in my lewe.”

Gevangenislewe was moeilik. “Ek het verskriklik alleen en wanhopig gevoel”, het James gesê. Maar sy opsluiting in ’n beknopte tronksel het hom ’n ernstige selfondersoek laat doen. Hy het dit só gestel: “Wat my die meeste in die gevangenis ontstel het, was nie die persoonlike ongerief wat ek moes verduur nie, maar dat ek my hemelse Vader teleurgestel het.” Ná ’n paar maande het een van sy medegevangenes wat die Bybel saam met die Getuievrywilligers gestudeer het, na James toe gekom en hom genooi om die Bybelstudieklasse by te woon. James het te skaam gevoel en wou aanvanklik nie gaan nie. Maar die jong man het hom bly vra, en uiteindelik het James ’n Sondagvergadering bygewoon.

Hy is diep geraak deur die liefdevolle besorgdheid wat die Getuies teenoor die studente in die klas betoon het. Later het iets anders hom getref. Weens sy vorige ondervindinge het James aangeneem dat alle godsdiensvrywilligers goeie betaling vir hulle werk met gevangenes ontvang. Maar tot sy verbasing het hy uitgevind dat die Getuies geen rekeninge vir hulle werk instuur en geen betaling vir hulle dienste ontvang nie.—Matteus 10:8.

James het gretig begin uitsien na die vergaderinge. Hy het gevind dat die broers wat die vergaderinge gehou het, vriendelik en aanmoedigend is. Daar was veral een ouer man wat ’n groot indruk op hom gemaak het. “Ek het die dae afgetel tot sy volgende besoek”, vertel James, “want hy het die waarheid van God se Woord laat lewe; sy geesdrif was aansteeklik. Hy het my die belangrikheid daarvan op die hart gedruk om die Bybel te lees en te ontleed sodat ek die ware sin van die boodskap daarin kan begryp—dit waarlik my eie kan maak en, nog belangriker, dat ek die denke van Christus kan aankweek.”

Dit was vir James moeilik om te glo dat God sy foute sou vergewe. Wat het hom gehelp? “God se vergifnis is weerspieël in die manier waarop getroue en selfopofferende manne ons behandel het.c Een ding was baie duidelik: Ten spyte van my verskriklike sondes het die broer nooit die indruk probeer skep dat God my nie kon vergewe nie. Jehovah het my nooit verlaat nie. Hy het gesien dat ek opreg berouvol is en dat ek daardie dwase en bedrieglike weg verwerp het; en hy het my ryklik geseën.” Trouens, James is in die Christengemeente herstel. Hy is omtrent ’n dekade gelede uit die gevangenis vrygelaat en het bedrywig en ywerig gebly. Sy vrou en familie is verheug dat hy nou ’n bedieningskneg is en onlangs sy eerste openbare toespraak gehou het.

Hy het die weg gevind

Ons het Johnny in die vroeë 1990’s ontmoet. Sy gesin het kontak met Jehovah se Getuies gehad, maar nie een van hulle was geestelik sterk gedurende Johnny se vormingsjare, toe hy geestelike en sedelike leiding nodig gehad het nie. Johnny het geleidelik by ’n lewe van misdaad betrokke begin raak. Hy is gevonnis tot tronkstraf in die federale gevangeniskamp langsaan die Atlanta-strafgevangenis. Gedurende sy straftyd in die kamp het hy van ons Bybelstudieklasse gehoor en besluit om dit by te woon.

In die begin kon Johnny skaars lees. Maar hy was so gretig om meer kennis van Jehovah en Jesus Christus in te neem dat hy vasbeslote was om goed te leer lees (Johannes 17:3). Ons studieklasse help gevangenes dikwels in hierdie opsig, veral met aspekte soos leesbegrip en openbare voorlesing. Johnny het so hard gestudeer dat sy medestudente na hom begin opsien het as ’n voorbeeld van hoe ’n ernstige Bybelstudent moet wees.

Maande later is Johnny na die federale inrigting in Talladega, Alabama, oorgeplaas om een van die opvoedkundige programme oor dwelms by te woon. Toe hy daar aankom, het hy gou betrokke geraak by die Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies wat daar gehou is. Hy het aktief daarmee besig gebly totdat hy uiteindelik vrygelaat is. En toe daardie heuglike dag aanbreek, het Johnny geen tyd verspil om met die Getuies in sy tuisdorpie in aanraking te kom nie. Hy is hartlik verwelkom en het aangehou studeer en geestelik bly vorder.

Johnny se entoesiasme en liefde vir Bybelwaarheid het ook sy ma aangespoor om meer betrokke by gemeentelike bedrywighede te raak. Hy is ’n groot bron van aanmoediging vir haar en help haar ook op praktiese maniere. Hy is onlangs gedoop as ’n simbool van sy toewyding aan Jehovah God en hy gaan voort om ywerig aan die Christelike bediening deel te neem.

’n Ryk oes

Gedurende die afgelope twee dekades is meer as 40 gevangenes by die Atlanta-strafgevangenis gehelp om gedoopte bedienaars van Jehovah se Getuies te word; meer as 90 ander gevangenes het ook by die weeklikse Bybelstudies baat gevind. Ander gevangenes is gedoop nadat hulle uit die gevangenis vrygelaat of na ander gevangenisse oorgeplaas is.

Dié van ons wat week na week hierdie historiese gevangenis besoek om waarlik berouvolle gevangenes te help, is dankbaar dat ons aan hierdie unieke Christelike bediening kan deelneem (Handelinge 3:19; 2 Korintiërs 7:8-13). In hierdie sombere plek met sy uitkyktorings, wagte, elektriese hekke en glimmende rolle lemmetjiesdraad is ons al met vreugde en ontsag vervul wanneer ons gesien het hoe misdadigers hulle lewens verander en eerlike burgers en getroue aanbidders van God word.—1 Korintiërs 6:9-11.—Bygedra.

[Voetnote]

a Sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, uitgegee deur Jehovah se Getuies, bladsye 647-56, vir ’n breedvoerige verslag oor daardie saak.

b Name van gevangenes is verander.

c Die Wagtoring van 15 April 1991 het Christen- ouer manne aangespoor om liefdevolle besoeke te bring aan baie van dié wat uit die Christengemeente gesit is. Die doel van so ’n besoek sal wees om hulle aan te moedig om na Jehovah terug te keer.—2 Korintiërs 2:6-8.

[Venster/Prente op bladsy 20, 21]

‘Julle het van my intiemste vriende onthaal’

IN April 1983 het Frederick W. Franz, wat toe op die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien het, die Amerikaanse strafgevangenis in Atlanta besoek. Hy wou baie graag juis hierdie gevangenis besoek. Toe hy by die gebou instap, het hy met ’n harde stem vir die wag agter die lessenaar in die ingangsportaal gesê: “Ek wil hê jy moet weet dat julle van my intiemste vriende hier onthaal het!” Die wag was, om die minste te sê, uit die veld geslaan. Waarvan het broer Franz gepraat?

Vier-en-sestig jaar vroeër is Joseph F. Rutherford en sy sewe metgeselle verkeerdelik skuldig bevind aan sameswering. Broer Rutherford en broer Franz het later hegte vriende en werksmaats geword. Nou, meer as 40 jaar ná broer Rutherford se dood—en toe hy self omtrent 90 jaar oud was—was broer Franz heel ingenome om die plek te besoek waar sy vriend so lank gelede opgesluit was. Hy het ongetwyfeld gedink aan die werk wat broer Rutherford en sy metgeselle tussen daardie mure gedoen het. Wat was dit?

Kort nadat broer Rutherford en sy metgeselle daar aangekom het, het die onderbewaarder vir hulle gesê: “Ons gaan vir julle werk gee om te doen. Nou ja, wat kan julle doen?”

“Meneer”, het broer A. H. Macmillan, een van die agt, geantwoord, “al wat ek nog my hele lewe lank gedoen het, is preek. Het julle dalk so iets wat ons hier kan doen?”

“Beslis nie! Dis waaroor julle hier beland het, en ek sê nou vir julle: julle preek nie hier nie.”

’n Paar weke het verbygegaan. Daar is van al die gevangenes verwag om die kapeldiens op ’n Sondag by te woon, en wie ook al wou, kon agterbly vir Sondagskool. Die agt manne het besluit om hulle eie Bybelstudieklas te begin en het beurte geneem om dit te hou. “’n Paar nuuskieriges het begin kom, en toe het nog meer gekom”, het broer Rutherford later verduidelik. Kort voor lank het die groepie van 8 gegroei tot 90!

Hoe het die gevangenes op die Bybelstudieklas gereageer? Een gevangene het gesê: “Ek is 72 jaar oud, en ek moes agter tralies wees om die waarheid te hoor. Om hierdie rede is ek bly dat ek na die strafgevangenis gestuur is.” ’n Ander het gesê: “My vonnis verstryk een van die dae; ek is jammer dat ek moet gaan . . . Kan julle vir my sê waar ek mense soos julle kan vind wanneer ek uit is?”

Die aand voordat die agt manne vrygelaat is, het hulle ’n hartroerende brief van ’n jong man ontvang wat hulle klas bygewoon het. Hy het geskryf: “Ek wil hê julle moet weet dat julle by my die begeerte gewek het om ’n beter, waardiger mens te wees, as so iets uit ’n verdorwe liggaam soos myne kan verrys wat so besoedel en deur die wêreld afgetakel is. . . . Ek is swak, baie swak, en niemand weet dit beter as ek nie, maar ek sal probeer, en as dit moet, sal ek ’n stryd met myself voer om die volle vrug te kan pluk van hierdie saadjie wat julle geplant het, sodat ek nie net myself kan help nie, maar ook dié om my. Dit klink seker vreemd dat iemand soos ek al hierdie dinge skryf, maar hier diep, baie diep in my hart bedoel ek dit, elke woord daarvan.”

Vandag, meer as 80 jaar later, word saadjies van Bybelwaarheid nog steeds deur Jehovah se Getuies gesaai in die Atlanta-strafgevangenis—sowel as in baie ander gevangenisse.—1 Korintiërs 3:6, 7.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel