Jou liggaam se mikroskopiese “vragmotors”
VYF dae gelede was dit ’n sel met ’n kern. Maar ná ’n intensiewe tydperk van volwassewording en vermeerdering het die sel deur middel van kragtige sametrekkings ontslae geraak van sy kern. Nou is dit ’n retikulosiet. Wat is dit? ’n Onvolwasse rooibloedsel, wat gereed is om jou bloedstroom binne te gaan. Twee tot vier dae van nou af sal dit in ’n heeltemal volwasse rooibloedsel verander.
Hierdie selletjie is baie soos ’n vragmotor. Om sy “vrag” te dra, gebruik hy hemoglobien, ’n proteïen wat suurstof vervoer. Na raming sal hierdie “vragmotor” gedurende sy vier maande lange lewe ongeveer 250 kilometer deur jou hele liggaam aflê. Daar is sowat tienmiljard haarvate (haarfyn bloedvaatjies) in jou liggaam, waarvan die totale lengte twee keer die omtrek van die aarde is. Biljoene eritrosiete (rooibloedselle) is nodig om suurstof na al die dele van die liggaam te vervoer.
Hierdie “vragmotortjie” is feitlik altyd aan die beweeg in jou bloedstroom. Sy spoed wissel na gelang van die omstandighede. Die sel bereik sy maksimum spoed van ongeveer 120 sentimeter per sekonde wanneer dit in die bloed se “supersnelweg” van die hart af, naamlik die aorta, beweeg. Wanneer die sel die liggaam se “systrate” binnegaan, verminder sy spoed tot ’n gemiddelde van 0,3 millimeter per sekonde naby die eindpunte van die haarvate.
Waar bloedselle gevorm word
In normale volwassenes word die meeste bloedselle in die beenmurg vervaardig. Vir elke kilogram van jou liggaamsgewig vervaardig jou beenmurg elke dag 2,5 miljard rooibloedselle, eenmiljard granulosiete (witbloedselle) en 2,5 miljard plaatjies. Dit vergoed vir die ooreenstemmende hoeveelheid selle wat jy elke dag verloor. In ’n normale volwassene word miljoene rooibloedselle elke sekonde vernietig en vervang.
Om uit die beenmurg in die bloedstroom te kom, beweeg die onvolwasse rooibloedsel nader aan die buitewand van klein bloedvate (sinusoïede) in die beenmurg, beur dit deur ’n klein opening wat ’n migreerporie genoem word en beland dit in die bloed. Dit sal nog sowat drie dae lank hemoglobien bly vervaardig. Maar daarna sal dit, as ’n volwasse rooibloedsel, of eritrosiet, met hierdie proses ophou.
Die liggaams- en die longbloedsomloop
In die 17de eeu het dokters vasgestel dat daar twee verskillende bloedsomlope is. In die liggaamsbloedsomloop vertrek jou liggaam se mikroskopiese “vragmotors”, die rooibloedselle, van die hart af en gaan hulle na die liggaamsweefsel. Daar lewer hulle suurstof af en laai hulle afvalstowwe in die vorm van koolsuurgas op. Hierdie proses word weefselasemhaling genoem. Die rooibloedselle keer dan terug na die hart toe. In die longbloedsomloop word die “vragmotors” na die longe gestuur. Daar laai hulle afvalstowwe af en laai hulle suurstof op. Die longbloedsomloop laat jou liggaam dus asemhaal.
Wanneer daar nie genoeg selle is nie
Soms is daar minder as die normale hoeveelheid rooibloedselle. Hierdie toestand noem dokters anemie (bloedarmoede). Daar kan verskillende oorsake hiervoor wees, waaronder (1) ’n defek in die vervaardiging of volwassewording van rooibloedselle, (2) ’n toename in hulle vernietiging en (3) groot bloedverlies. Anemie kan ook veroorsaak word deur chroniese inflammasie of deur gewasse.
Probleme kan ontstaan wanneer daar óf te veel óf te min yster in die bloed is. Wanneer daar te min yster is, kan die rooibloedselle nie op normale wyse ontwikkel nie. Gevolglik sal die selle kleiner en bleker as gewoonlik wees. In baie gevalle help ysterbehandeling om hierdie defek reg te stel. Soms is die ystervlak in die bloed te hoog. Dit kan gebeur wanneer beskadigde rooibloedselle bars, wat yster in die liggaam vrystel. Al die liggaamsorgane word stelselmatig vergiftig. Wanneer die hart vergiftig word, is dit veral ernstig. Pasiënte wat aan hierdie toestand ly, ontwikkel amper altyd chroniese hartgebrek.
Baie boeke sal nodig wees om te verduidelik watter werk bloedselle alles in jou liggaam doen, maar dit is duidelik dat hulle ontsettende ingewikkeldheid, wat hier net deels beskryf word, getuig van die wysheid van die Een wat lewe ontwerp en geskep het. ’n Eertydse aanbidder van die groot en intelligente Skepper het van Hom gesê: “Deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons.”—Handelinge 17:28.