Die indrukwekkende Tule-boom
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
DIE hoogste bome ter wêreld is die rooihoutbome van Kalifornië, wat ’n hoogte van 110 meter of meer bereik. Maar die Mexikaanse sipres, familie van die sequoia, hou die rekord vir die grootste omtrek. Die bekendste van hierdie bome is 13 kilometer oos van die stad Oaxaca, Mexiko, in die dorp Santa María del Tule, geleë. Dit staan bekend as die Tule-boom. Sy basis is ’n indrukwekkende 46 meter in omtrek. Om jou ’n idee van sy grootte te gee: dit sal ten minste 30 mense neem wat met uitgestrekte arms staan, om die dik boomstam te omsluit, en meer as 500 mense sal in sy skadu kan sit!
Volgens skatting is die Tule-boom meer as 2 000 jaar oud. Toe dit in 1996 gesnoei is, is tien ton dooie hout verwyder. Die plaaslike mense noem die boom El Gigante (die Reus). In Mexiko staan hierdie spesie bekend as die ahuehuete, wat in die Nahuatl-taal die “oue van die water” beteken, aangesien dit gewoonlik naby water of in vleierige plekke groei.