Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 1/8 bl. 25-27
  • Mexikostad—’n Groeiende Monster?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mexikostad—’n Groeiende Monster?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Stad van teenstellings
  • Probleme van die groot stad
  • Kan die “monster” asemhaal?
  • Ek dien met my hele siel ondanks beproewinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Die stad wat vol mense was”
    Ontwaak!—1994
  • Mexiko se ekonomiese herstel—Hoe suksesvol is dit?
    Ontwaak!—1994
  • Die pous se besoek aan Mexiko—Sal dit die Kerk tot nut strek?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 1/8 bl. 25-27

Mexikostad—’n Groeiende Monster?

Deur Ontwaak!-medewerker in Mexiko

“DIE stad Mexiko is ’n monster . . . wat eienaardig genoeg steeds voortstoom”, het Mexikaanse argitek Teodoro González de León gesê. Die tydskrif National Geographic het dit “’n Verontrustende reus” genoem. Vir Carmen, wat omtrent 30 jaar gelede daar gebore is, “is dit ’n bedrywige stad met nederige mense wat weet hoe om gelukkig te wees en die eenvoudige dinge in die lewe te geniet—met inbegrip van hulle geliefkoosde Mexikaanse disse soos enchiladas, tamales, tortillas en mole”.

Mexikostad, met ’n bevolking van sowat 15 miljoen, is tans een van die grootste stede in die wêreld maar is reeds eeue lank ’n florerende metropool.a Dit is oorspronklik omstreeks 1325 as Tenochtitlán gevestig en het die hoofstad van die Asteekse Ryk geword. Die Asteke het begin om die stad te bou toe hulle hulle op ’n eiland in die Texcoco-meer gevestig het. Met verloop van tyd het hulle die meer met grond gevul sodat die stad uitgebrei kon word, maar dit was ’n stad vol kanale wat altyd deur water omring is. Toe die Spanjaarde in 1519 daar aankom, was hulle verbaas oor die grootsheid, prag en organisasie van ’n stad met sowat 200000 tot 300 000 inwoners.

’n Stad van teenstellings

Mexikostad, soos die meeste groot stede, het ’n skadusy van armoede en misdadigheid, maar uit baie ander gesigspunte is hy baie aantreklik. Weens sy ontsaglike groei word die stad as “chaoties” beskryf; tog, in teenstelling hiermee, is een van die grootste parke in die wêreld, Chapultepec-park, wat ’n gebied van 647,5 hektaar beslaan, in die middel van die stad. Daar is woude, verskeie mere, restaurante en museums en ’n groot verskeidenheid kulturele geleenthede vind daar plaas. Die jaarlikse aanbieding van Tsjaikowski se “Swanemeer”-balletstuk in ’n natuurlike omgewing aan die oewers van ’n meer is ’n pragtige tradisie. Vir diegene wat nie oor die naweek uit die stad kan wegkom nie, word die park hulle toevlug vir ontspanning en vermaak.

Hoewel Mexikostad nouliks met New York of Chicago kan meeding, het hy ook sy rascacielos, of wolkekrabbers. Die Latyns-Amerikaanse Toring, ’n 44 verdieping hoë gebou wat in 1956 voltooi is, is ’n voorbeeld van ’n ontwerp wat beplan is om aardbewings te weerstaan. Dit is opgerig op 361 direktesteunpilare wat bedoel is om die gebou teen seismiese bewegings te beskerm. Vanuit sy restaurant wat op die 40ste en 41ste verdiepings geleë is, kan ’n mens die stad bewonder, veral saans wanneer sy menigte liggies teen ’n swart fluweelagtige agtergrond skitter. Die hoogste wolkekrabber in die stad, die Internasionale Handelsentrum van Mexiko, is nog nie voltooi nie. Dit het 54 verdiepings en sal internasionale kantore vir wêreldhandel sowel as ander fasiliteite huisves.

Mexikostad het so vinnig gegroei en uitgebrei dat die Benito Juárez- Internasionale Lughawe, wat eens buite die stad was, nou feitlik in die middel daarvan is. Dit is een van die besigste lughawens ter wêreld en nagenoeg ’n miljoen mense beweeg elke maand daardeur.

Daar is skerp teenstellings in Mexikostad. Groot en luukse herehuise, deftige en duur hotelle, aantreklike meenthuisblokke en winkelsentrums staan sy aan sy met die armoedige, donker en somber krotbuurte. Tog is die strate, in teenstelling met dié van baie ander groot stede van die wêreld, tot laatnag bedrywig.

Probleme van die groot stad

Soos die arms van ’n seekat wat altyd verder strek, sluit Mexikostad nou meer as 1000 vierkante kilometer in en beslaan dit die hele gebied wat as die Federale Distrik bekend staan sowel as ’n deel van die staat Mexiko. Talle dorpies en voorstede wat voorheen onafhanklik was, word nou deur die stad se arms omsluit.

Dit is verstaanbaar dat ernstige probleme ’n stad van hierdie omvang sal teister. Die hoofprobleem is oorbevolking, tesame met die gevolglike probleme van besoedeling, woningtekorte en ’n ernstige gebrek aan noodsaaklike lewensmiddele, sowel as die immer toenemende misdadigheid. Gereelde opvoedkundige veldtogte is al geloods in ’n poging om die land se geboortesyfer te verminder, maar groot gesinne is ’n kulturele erfenis in Mexiko en word beskou as bewys van manlike viriliteit en vroulike vrugbaarheid. Daarby trek baie mense van die platteland na die stad op soek na ’n beter lewe. Hoewel die aardbewing van 1985 duisende gedwing het om die stad te verlaat, is die bevolking aan die toeneem. Mense trek na plekke waar daar werk en beter vooruitsigte op oorlewing is.

Kan die “monster” asemhaal?

Lugbesoedeling in Mexikostad het die afgelope dekade kritieke afmetings aangeneem. In die sestigerjare was daar ’n gebied in die stad wat bekend was as “die deursigtigste gebied”. Nou is daar geen deursigtige gebied in Mexikostad nie. Waarskuwings is deur die media gerig. “Lugbesoedeling in die Mexikovallei het ’n gevaarlike peil bereik”, het een wetenskaplike tydskrif gesê. Die tydskrif Time het gesê: “Driemiljoen motors en 7000 dieselbusse, baie van hulle oud en verwaarloos, blaas besoedeling in die lug in. Dieselfde geld vir die bykans 130 000 omliggende fabrieke wat meer as 50% van die totale Mexikaanse nywerheid verteenwoordig. Die daaglikse volume chemiese lugbesoedeling beloop 11 000 ton. Net om asem te haal is na raming gelykstaande aan die rook van twee pakkies sigarette per dag.”

Die situasie is besig om te versleg. Die koerant El Universal van 12 Oktober 1989 het die direkteur van die Autonomous Institute of Ecological Investigation soos volg aangehaal: “Die besoedelingspeil in Mexikostad is verontrustend, aangesien elke persoon in die metropolitaanse gebied daagliks gemiddeld 580 gram skadelike stowwe inneem.” Daar word jaarliks meer as viermiljoen ton besoedelstowwe in die stad vrygelaat.

Noodmaatreëls is onlangs geneem om besoedeling te bekamp. ’n Program is begin om daagliks ’n sekere aantal motors te verhinder om in die stad te ry omdat, aldus ’n regeringsverslag, “voertuie elke dag 9778,3 ton besoedelstowwe uitlaat”, waarvan 7430 ton afkomstig is van privaat voertuie. Die mense is reeds versoek om die gebruik van hulle motors uit eie beweging te verminder deur saam in een motor te ry wanneer hulle werk toe of elders heen gaan, maar dit was vrugteloos. Wat het die stadsowerheid gedoen?

Deur middel van ’n program waarvolgens mense een dag per week sonder ’n motor moet klaarkom, word alle privaat voertuie nou op ’n rotasiebasis en op grond van die laaste nommer op hulle registrasiekaart of die kleur daarvan een dag per week die stad belet. Dit beteken dat 20 persent van die driemiljoen privaat motors in die stad elke dag nie gebruik word nie. Die program sou oorspronklik slegs gedurende die winterseisoen in werking wees om termiese inversie te verhoed, maar die owerheid probeer nou om dit as ’n permanente reëling in te stel. Diegene wat dit nie gehoorsaam nie, word swaar boetes opgelê, benewens die lastige prosedure wat hulle moet volg om ’n voertuig waarop daar beslag gelê is terug te kry. Hierdie drakoniese maatreëls het die meeste bestuurders oorreed om die program te ondersteun.

’n Ander stap wat tans gedoen word, behels die verbetering van die petrolgehalte deur die loodinhoud te verminder. Hierbenewens moet alle voertuie nou periodiek vir besoedelende uitlaatgasse getoets word. Voorts vereis nuwe wetgewing dat alle fabrieke teenbesoedelingstelsels moet hê. Party fabrieke is reeds gesluit omdat hulle nie aan hierdie vereiste voldoen het nie. Hierdie stappe het die besoedelingsprobleem ietwat verlig, maar dit is nog nie opgelos nie. Soos die res van die wêreld het Mexiko ’n universele oplossing vir sy probleme nodig.

Binnekort, onder die heerskappy van God se hemelse regering, sal die mensdom sy hulpbronne verstandig gebruik en sal alle mense, nie oorbevolkte stede nie, maar oop ruimtes kan geniet met alles wat ’n gelukkige lewe moontlik sal maak. In die tussentyd is daar geen ander uitweg as om die mensemassas en ongeriewe van Mexikostad te verdra nie, terwyl jy die talle goeie dinge geniet wat dit bied—met inbegrip van die ryk mosaïek van die gasvrye Mexikaanse mense.—Openbaring 11:18; 21:1-4.

[Voetnoot]

a Die Nasionale Sensus van 1990 het vorige ramings van die bevolkingstal verminder.

[Prente op bladsy 26]

Wolkekrabbers en verkeer in Mexikostad

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel