Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 1/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Viruswerende tee
  • Telefoonskuld
  • Verskuilde gevaar in Frankryk
  • Water vir toeriste?
  • Rookgevare
  • Die moderne slawehandel
  • Oefening kan depressie verminder
  • Herstel Jamaika se riwwe?
  • Seediere deur plastiekbolletjies vergiftig
  • Teedrinkery op die Chinese manier
    Ontwaak!—2005
  • Sterwende koraalriwwe—Is die mens daarvoor verantwoordelik?
    Ontwaak!—1996
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Het ek ’n selfoon nodig?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 1/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Viruswerende tee

Voorlopige laboratoriumstudies toon dat “’n groot verskeidenheid kommersiële teesoorte virusse blykbaar onskadelik maak of vernietig”, berig die Reuters-gesondheidsinligtingsdiens. Verskeie soorte groen- en swarttees sowel as gewone tees en ystees is op dierweefsel getoets wat met virusse soos herpes simpleks 1 en 2 sowel as die T1- (bakteriese) virus besmet is. Volgens die navorser dr. Milton Schiffenbauer van die Pace-universiteit in New York “word die [herpes]virus binne ’n paar minute deur ys- of gewone tee vernietig of onskadelik gemaak”. Soortgelyke resultate is met die T1-virus verkry. Hoewel dit nog nie duidelik is hoe tee hierdie virusse vernietig nie, het navorsers gevind dat die tee nog steeds doeltreffend was selfs nadat dit aansienlik verdun is. Daar is gevind dat swarttee ’n ietwat sterker viruswerende uitwerking as groentee het.

Telefoonskuld

Australiese jeugdiges “wat maar 18 jaar oud is, verklaar hulleself bankrot weens verskriklik hoë selfoonrekeninge”, sê die koerant The Sunday Telegraph. Party jongmense wat beïnvloed is deur aggressiewe reklame en wat maklike toegang tot krediet het, het selfoonrekeninge wat duisende rande beloop. Die Australiese Minister van Billike Handel, John Watkins, het oor hierdie toenemende neiging onder jongmense gesê: “Party jongmense is in die skuld wanneer hulle die skool verlaat en het ’n slegte kredietgradering. Dit is eenvoudig ’n tragiese manier om die lewe te begin.” Die koerant gee die volgende wenke om jongmense te help om hierdie skuldstrik te vermy: Maak seker dat jy presies weet wat jou oproepe gaan kos. Oorweeg dit om ’n vooruitbetaalde selfoon te gebruik sodat jy nie ’n rekening kan oploop nie. Probeer jou telefoon buite spitstye gebruik om koste te besnoei.

Verskuilde gevaar in Frankryk

Volgens skattings is daar nog steeds 1,3 miljoen ton dodelike toestelle van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog in Frankryk begrawe, berig Le Figaro. Die voormalige front is met ou bomme sowel as chemiese bomme besaai wat nog steeds ’n gevaar vir mense en die omgewing inhou. Aangesien talle gebiede wat voorheen onbewoon was, nou woon- of industriële gebiede is, ontvang bomeenhede elke jaar duisende oproepe. En tog het honderde ongelukke al plaasgevind, en meer as 600 deskundiges het tussen 1945 en 1985 in die loop van hulle pligte gesterf. Volgens spesialiste kan dit teen die huidige tempo 700 jaar neem om hierdie arsenaal op te ruim!

Water vir toeriste?

“Baie van die oorde in die wêreld sukkel om met die nimmereindigende stroom toeriste tred te hou omdat toeriste al hoe meer swembaddens en gholfbane wil hê, wat daartoe lei dat die watervoorraad uitgeput word”, berig The Guardian van Londen. “Dit is ’n groot en wêreldwye probleem”, sê Tricia Barnett van Toerisme-aangeleenthede. “Soms sal jy ’n dorpie [in Afrika] met net een kraan sien, terwyl elke hotel krane en storte in al die kamers het.” ’n Wêreldwye bewaringsorganisasie bereken dat ’n toeris in Spanje 880 liter water per dag gebruik, terwyl ’n plaaslike inwoner slegs 250 liter gebruik. ’n Gholfbaan met 18 putjies in ’n droë land kan net soveel water gebruik as ’n dorp met 10 000 mense. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-Organisasie skat dat daar met die water wat 100 toeriste in 55 dae gebruik, genoeg rys verbou sal kan word om 100 dorpenaars 15 jaar lank te voed.

Rookgevare

“Een uit elke agt sterftes weens longkanker onder nierokers is deur passiewe rokery veroorsaak”, beweer Naohito Jamagoetsji van die Navorsingsinstituut van Japan se Nasionale Kankervereniging. Wetenskaplikes het hulle bevindings op ’n studie gebaseer van 52 000 mense wat aan longkanker gesterf het. Daarbenewens “toon navorsing lank reeds dat daar meer giftige koolstofmonoksied en karsinogene in sekondêre rook voorkom as in rook wat direk deur rokers ingeasem word”, sê die koerant Asahi Sjimboen. In 1999 het ’n regeringstudie van 14 000 mense in Japan bevind dat 35 persent van hulle by die werk of skool en 28 persent by die huis aan sekondêre rook blootgestel word. “Rokers moet daarvan bewus wees dat hulle nierokers in so ’n mate benadeel dat ’n doelbewuste poging aangewend moet word om die twee groepe te skei”, sê Jamagoetsji.

Die moderne slawehandel

“Volgens die jongste navorsing deur ’n Britse akademikus is slawerny [vandag] algemener oor die hele wêreld as wat dit gedurende enige ander tyd in die mensegeskiedenis was”, berig The Independent van Londen. Kevin Bales, ’n professor in sosiologie aan die Universiteit van Surrey in Roehampton, “het bereken dat 27 miljoen mense nou slawe is, wat meer is as wat daar in die Romeinse Ryk of gedurende die hoogtepunt van die transatlantiese slawehandel was”, sê die koerant. Hoewel hedendaagse slawerny dalk anders is as wat dit 150 jaar gelede was, word miljoene mense “deur iemand oorheers wat geweld gebruik of dreig om geweld te gebruik, en hulle word absoluut niks betaal nie”, sê Bales. Vandag is die algemeenste vorm van slawerny kontrakslawerny, waar georganiseerde bendes mense teen ’n prys in ’n ander land insmokkel en hulle goed besoldigde betrekkinge belowe. Maar wanneer die werkers eers in ’n land ingesmokkel is, word hulle uitgebuit deurdat hulle gedwing word om hulle skuld af te betaal deur eenvoudige werk te doen.

Oefening kan depressie verminder

“Vir party pasiënte is liggaamsoefeninge dalk doeltreffender as die standaardmedikasie vir depressie”, sê The Harvard Mental Health Letter in ’n kommentaar oor navorsing wat by die Mediese Sentrum van die Duke-universiteit in die Verenigde State gedoen is. Drie groepe van 50 mense met ernstige depressie het vier maande lank verskillende terapieë ontvang. Een groep het ’n antidepressant geneem, ’n ander groep het net oefeninge gedoen en ’n derde groep het albei gedoen. Ná vier maande was tussen 60 en 70 persent van die pasiënte in al drie groepe “nie meer klinies depressief nie”, het die Health Letter gesê. Maar gedurende ’n opvolgbesoek wat ses maande later gedoen is, was die pasiënte wat die oefeningterapie gedoen het, “emosioneel sowel as fisies gesonder; hulle terugslagsyfer was net agt persent”. Dit was in vergelyking met ’n terugslagsyfer van 38 persent vir diegene wat die medikasie geneem het en 31 persent vir diegene wat geoefen en die medikasie geneem het.

Herstel Jamaika se riwwe?

Dit lyk of seekastaiings aan Jamaika se noordkus weer hulle verskyning maak, sê ’n artikel in The Dallas Morning News. Daarbenewens “het wetenskaplikes talle jong korale ontdek, insluitende geharde soorte en soorte wat riwwe vorm en saam met die seekastaiings floreer”. Die riwwe het agteruitgegaan sedert ’n seekastaiingsoort wat Diadema antillarum genoem word, in 1983 en 1984 drasties verminder het. Sommige seekastaiingsoorte beheer die groei van wiere, wat koraalriwwe kan vernietig as dit ongehinderd groei. Maar “nuwe studies toon dat Diadema weer begin floreer het, en dieselfde gebeur dalk met korale”, berig die koerant. Die marinebioloog Nancy Knowlton sê dat dit “die beste nuus in dekades oor die Karibiese riwwe is”.

Seediere deur plastiekbolletjies vergiftig

“Seediere word wêreldwyd vergiftig deur klein plastiekbolletjies wat in die oseaan dryf”, berig die tydskrif New Scientist. Chemiese maatskappye verskeep polimere in die vorm van klein bolletjies na vervaardigers in alle wêrelddele wat dit smelt en dan plastiekprodukte daarvan maak. Maar duisende tonne van hierdie bolletjies beland in die see deur fabrieks- of stadsafval sowel as deur skepe wat hulle vragte verloor of oorboord gooi. Navorsers van die Tokio-universiteit van Landbou en Tegnologie in Japan het gevind dat die bolletjies hoë konsentrasies giftige chemikalieë bevat wat dit uit die seewater absorbeer—chemikalieë wat diere se immuniteit, vrugbaarheid en hormoonstelsels aantas. Voëls, visse en skilpaaie eet die bolletjies omdat hulle dit vir viseiers of ander kos aansien. Dit hou dus kommerwekkende gevolge vir die hele voedselketting in.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel