Kougomkouery—’n hedendaagse dog ou gewoonte
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
VAN DIE VROEGSTE TYE AF hou mense daarvan om kougom te kou. Die eertydse Grieke het die hars van die mastiekboom gekou. Die Asteke het tzictli, of chicle, van die sapodillaboom gekou. En die Indiane van Nieu-Engeland het koloniste geleer om die hars van die spar-denneboom te kou. Trouens, in die vroeë 1800’s het klonte hars van die spar die eerste kommersiële kougom in die Verenigde State geword. Later het dit gewild geword om versoete paraffienwas te kou.
Daar word gesê dat kougom, soos ons dit vandag ken, sy begin in die laaste helfte van die 19de eeu gehad het. Gedurende die voormalige Mexikaanse president, Santa Anna, se ballingskap in Amerika is daar opgemerk dat hy stukkies chicle kou wat hy saam met hom van Mexiko af gebring het. ’n Amerikaanse uitvinder het besef watter potensiaal dit kon hê as dit versoet en gegeur sou word, en hy het chicle na die Verenigde State ingevoer om kougom te maak.
Chicle is die melkerige lateks van die sapodilla, ’n immergroen boom wat die kougomboom genoem word. Dit is inheems aan die Gran Petén, die tropiese reënwoud van noordelike Guatemala, Belize en die Yucatan-skiereiland in Mexiko. Daar kan, in sommige gebiede, meer as 175 sapodillabome per hektaar gevind word. Gedurende die reënseisoen maak chicleros, soos die insamelaars van chicle genoem word, sigsagsnye in die stam van die wilde sapodilla en laat hulle die lateks stadig in ’n houer aan die voet van die boomstam vloei. Dit word dan bymekaargemaak, gekook tot dit dik genoeg is en dan in blokke gegiet sodat dit verkoop kan word. Hoewel chicle nog steeds tot ’n mate in die kougombedryf gebruik word—veral in kougom wat as ’n natuurlike produk geadverteer word—is dit gedurende die 1940’s in die Verenigde State grotendeels deur sintetiese produkte vervang.
Hoekom is kougom so gewild? Baie kou kougom om hulle asem te verfris en hulle tande skoon te maak wanneer dit nie moontlik is om tande te borsel nadat hulle ’n maaltyd of versnapering geniet het nie.a Ander vind dat dit hulle laat ontspan en hulle help om te konsentreer as hulle kougom kou. Trouens, omdat dit bekend is dat dit spanning verminder en ’n mens wakker hou as jy kougom kou, het die Amerikaanse weermag kougom aan troepe in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog voorsien, en hulle sluit dit vandag nog in rantsoene vir militêre personeel in. Party voertuigbestuurders vind dat dit beter werk om kougom te kou as om koffie te drink, as hulle wakker wil bly. Mense wat probeer om op te hou rook, vind soms dat dit help om kougom te kou. Dit is ook gewild om die begeerte na ’n peuselhappie te bevredig—teen ’n gemiddelde van minder as 42 kilojoule per stafie.
Maar baie mense vind hierdie gewoonte aanstootlik. En daar kan tye wees wanneer dit nie as goeie maniere beskou word om kougom te kou nie. As jy dus hierdie ou dog hedendaagse gewoonte het om kougom te kou, sal jy dit met goeie oordeel wil doen.b
[Voetnote]
a Wanneer ’n mens kougom kou, bevorder dit speekselafskeiding, wat help om suur in plaak op tande te neutraliseer, wat tot mondhigiëne bydra. Tandartse beveel suikervrye kougom aan as verdere beskerming teen tandbederf.
b Waarskuwing: Kougom moet nie ingesluk word nie, aangesien dit ’n verstopping in die ingewande en slukderm kan veroorsaak. Oormatige kougomkouery veroorsaak ook dat hoër vlakke van kwik in die tandamalgaam vrygestel word.
[Prent op bladsy 31]
“Chicleros” maak sigsagsnye in die stam van die sapodillaboom
[Erkenning]
Copyright Fulvio Eccardi/vsual.com