Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 3/22 bl. 13-15
  • ’n Ogie op die diereryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Ogie op die diereryk
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ring van voëls
  • Is dit wreed om voëls te ring?
  • Sê nou jy vind ’n dier met ’n ring of ’n merker?
  • Die groot wit voël keer terug
    Ontwaak!—1998
  • Watter toekoms vir die albatros?
    Ontwaak!—1997
  • “Die wonderlikste lewende vliegmasjien op aarde”
    Ontwaak!—2010
  • Op die spoor van die albatros
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 3/22 bl. 13-15

’n Ogie op die diereryk

STEL jou voor dat daar ’n miniatuurradiosender aan jou rug vasgemaak is, waarmee elke beweging wat jy maak, gemonitor en ontleed kan word. Dit is die lot van ’n grootalbatros met die naam mev. Gibson. Met behulp van haar sendertjie kan navorsers haar fyn dophou deur satelliete te gebruik wat haar seine—en dié van ander voëls wat met soortgelyke toestelle toegerus is—opvang en na die aarde terugstuur. Die data wat al ontvang is, het verbasende dinge omtrent hierdie besondere voëls onthul, wat hopelik tot hulle bewaring sal bydra.

Volgens ’n verslag van die La Trobe-universiteit in Victoria, Australië, het navorsers ontdek dat grootalbatrosse ’n gemiddelde afstand van 300 kilometer per dag aflê, en elke nou en dan vlieg hulle meer as 1 000 kilometer per dag. Met ’n vlerkspan van meer as 3,4 meter, die grootste van enige lewende voël, bestaan hierdie merkwaardige swewers se vlug oor die see uit ’n reeks boë en dek hulle oor etlike maande afstande van meer as 30 000 kilometer. Soortgelyke studies in die Verenigde State toon dat ’n Laysan-albatros vier maal van Seeswael-eiland, noordwes van Honolulu, na die Aleoetiese Eilande gevlieg het—’n heen- en terugreis van 6 000 kilometer—om kos vir sy een enkele kuiken te bring.

Hierdie studies waarin hoëvlaktegnologie gebruik word, het dalk ook help verklaar waarom die getalle van die wyfie-grootalbatrosse vinniger afgeneem het as die mannetjies. Vlugpatrone toon dat broeiende mannetjies meer geneig is om nader aan die Antarktika vis te vang, terwyl broeiende wyfies gewoonlik verder noord kos soek, in die gebied van langlynvissersbote. Die voëls het op die aas wat agter die bote geplaas is, afgepeil, vasgevang geraak en toe verdrink. In sommige broeikolonies was daar twee keer soveel mannetjies as wyfies. Ander albatrosspesies is ook hierdeur geraak. Trouens, in die middel-1990’s het sowat 50 000 voëls per jaar verdrink agter langlynvissersbote in die waters van Australië en Nieu-Seeland, en dit het die verskeie spesies met uitsterwing bedreig. Die grootalbatros is selfs in Australië tot ’n bedreigde spesie verklaar. Hierdie bevindinge het tot veranderinge in visvangtegnieke gelei en het die sterftesyfer van grootalbatrosse verminder. Nietemin het die spesie se getalle in verskeie broeiplekke bly afneem.

Die ring van voëls

Hoewel miniatuur- elektroniese toestelle navorsers help om sekere voëlspesies te monitor, is goedkoper, eenvoudiger metodes al baie jare lank in gebruik. Een daarvan is die ring van voëls, waarby ’n klein metaal- of plastiekring versigtig om ’n voël se been gesit word, soos ’n enkelbandjie.

Die ring van voëls, sê die tydskrif Smithsonian, het sedert 1899 ’n formele navorsingsmiddel geword toe die Deense onderwyser Hans Christian Mortensen “sy eie metaalringe gemaak het, sy naam en adres daarop gegraveer het en dit aan 165 jong spreeus gesit het”. Deesdae word dit regoor die wêreld gedoen, en dit voorsien waardevolle data oor die verspreiding van voëls, hulle migrasiegewoontes, gedrag, sosiale struktuur, bevolkingsgroottes en oorlewing- en vrugbaarheidsyfers. Waar jag toegelaat word, help die ring van voëls regerings om wette saam te stel vir die langtermynbewaring van jagvoëls. Die ring van voëls help ook om te bepaal in watter mate hulle deur siektes en chemiese gifstowwe aangetas word. Trouens, sommige voëls kan draers van menslike siektes soos breinontsteking en Lyme-siekte wees; dus kan gegewens oor die voëls se biologie en gewoontes ook nuttig wees om ons gesondheid te beskerm.

Is dit wreed om voëls te ring?

In lande waar voëls gering word, word streng beheer daaroor uitgeoefen, en mense moet gewoonlik ’n lisensie hê om dit te doen. In Australië, sê die Australiese Natuurbewaringsagentskap, “word diegene wat gebruik word om voëls te ring, deeglik opgelei om die voëls te vang, te hanteer en te ring sonder om hulle te beseer. Opleiding duur gewoonlik twee jaar en vereis heelwat oefening.” Soortgelyke regulasies bestaan in Europa sowel as in Kanada, die Verenigde State en ander lande.

Voëlringe wissel in vorm, grootte, kleur en materiaal. Die meeste ringe word gewoonlik van ligte materiale soos aluminium of plastiek gemaak, maar vir voëls wat lank lewe of in ’n soutwaterhabitat aangetref word, word vlekvryestaal of ander roesvrye materiale gebruik. Gekleurde ringe maak dit moontlik om voëls op ’n afstand te identifiseer. Alhoewel dit beteken dat meer as een ring gebruik moet word, spaar dit die voëls die spanning wat daarmee gepaardgaan om weer vir identifikasie gevang te word.

Watter metodes ook al gebruik word om voëls te ring of te merk, navorsers probeer seker maak dat voëls nie irritasie of enigiets anders ondervind wat hulle gedrag, fisiologie, lewensduur, sosiale lewe, ekologie of oorlewingsvooruitsigte kan benadeel nie. ’n Helderkleurige merker, soos ’n merker aan ’n vlerk, kan byvoorbeeld ’n voël meer sigbaar vir roofdiere maak of sy sukses met paring beïnvloed. Party spesies ontlas op hulle bene, sodat ’n ring op hierdie voëls tot infeksie kan lei. In koue streke kan ys op ringe aanpak en ’n potensiële gevaar wees, veral vir watervoëls. Dit is maar ’n paar van die dinge wat by die merk van voëls betrokke is. Nietemin gee dit ’n mens ’n idee hoeveel wetenskaplike kennis van voëlbiologie en -gedrag nodig is om dié program doeltreffend en terselfdertyd menslik te maak.

Sê nou jy vind ’n dier met ’n ring of ’n merker?

Partykeer is ’n telefoonnommer of ’n adres op ’n ring of merker gegraveer, wat jou in staat stel om in aanraking te kom met die eienaar of die instansie wat die ring of merker oorspronklik aangesit het.a Dan kan jy die eienaar in kennis stel waar en wanneer jy die merker gevind het en miskien ook oor ander besonderhede inlig. In die geval van ’n vis kan ’n bioloog dan byvoorbeeld vasstel hoe ver en vinnig dit beweeg het nadat dit gemerk en vrygelaat is.

Danksy die werk van navorsers regoor die wêreld en die moeite wat pligsgetroue mense doen om dit te rapporteer as hulle merkers en ringe vind, word verbasende besonderhede omtrent natuurlewe ingesamel. Dink aan die voorbeeld van die kanoet, ’n voëltjie van die strandloperfamilie, wat 100 tot 200 gram weeg. Wetenskaplikes weet nou dat party kanoete elke jaar van Kanada se verre noorde na die onderpunt van Suid-Amerika en terug migreer—’n afstand van sowat 30 000 kilometer!

Die ring op ’n ou maar gesonde kanoet het getoon dat hy dit heel moontlik al 15 jaar lank gedoen het. Ja, hierdie klein outjie het moontlik al 400 000 kilometer gevlieg—verder as die gemiddelde afstand tussen die aarde en die maan! Terwyl hierdie merkwaardige voëltjie in die palm van sy hand gesit het, het die natuurskrywer Scott Weidensaul gesê: “Al wat ek kan doen, is om my kop te skud, vol ontsag sowel as respek vir die reisigers wat hierdie wye wêreld saambind.” Ja, hoe meer ons omtrent die aarde se menigte skepsele leer, hoe meer word ons met ontsag en eerbied vervul vir “die Maker van hemel en aarde . . . en van alles wat in hulle is”, Jehovah God.—Psalm 146:5, 6.

[Voetnoot]

a Ringe of merkers kan so afgeslyt raak dat die besonderhede onleesbaar is. Maar deur middel van etswerk kan hierdie skynbaar onsigbare besonderhede dikwels gelees word. Elke jaar lees die Voëlringlaboratorium in die Verenigde State honderde van hierdie ringe.

[Venster/Prente op bladsy 15]

Tegnieke Om Diere Te Merk En Op Te Spoor

Benewens voëls is daar baie diere wat vir navorsing gemerk word. Die merktegnieke wat gebruik word, hang van die wetenskaplike doelwitte af, asook die fisiese eienskappe en gewoontes van die betrokke diere. Buiten beenringe gebruik navorsers vlae, linte, etikette, verwe, tatoeëermerke, kleurstowwe, brandmerke, halsbande, radio-opsporingstoestelle, mikrorekenaars en vlekvryestaalveerpyle (waaraan etikette met kodes aangeheg is), asook die knip van toon-, oor- en stertpunte en verskeie ander tegnieke en toestelle. Party hiervan is redelik goedkoop. Ander is duurder, soos die miniatuur- elektroniese apparaat met videokamera wat sowat R145 500 kos en gebruik word om die duikgewoontes van robbe te bestudeer.

’n Elektroniese toestel wat ’n passiewe geïntegreerde antwoordsender genoem word, kan onder ’n verdoofde dier se vel of binne-in sy liggaam ingeplant word en later uitwendig met ’n spesiale instrument gelees word. Om ’n blouvintuna te bestudeer, plant wetenskaplikes ’n klein rekenaartjie wat ’n argiefmerker of intelligente merker genoem word, in die vis. Hierdie mikroskyfies samel tot nege jaar lank data in oor temperatuur, diepte, ligintensiteit en tyd. Wanneer die merker teruggevind word, voorsien dit ’n skat van gegewens, insluitende sy gasheer se reise, wat bereken word deur die daaglikse liglesings met tyddata te vergelyk.

Slange kan gemerk word deur sekere skubbe te knip; water- en seeskilpaaie deur ’n keep in die dop te maak; akkedisse deur ’n toonpunt te knip; en alligators en krokodille deur óf ’n toonpunt te knip óf horingagtige skubbe van die stert af te verwyder. Party diere verskil genoeg wat hulle voorkoms betref dat individue eenvoudig deur middel van foto’s geïdentifiseer kan word.

[Prente]

’n Swartbeer word met oormerkers gemerk; ’n spaghetti-merker op ’n juffervis; stertmerkers aan alligators

Slegvalk met ’n satellietsender

Reënboogforel toegerus met ’n interne telemetriese toestel

[Erkennings]

Beer: © Glenn Oliver/Visuals Unlimited; juffervis: Dr. James P. McVey, NOAA Sea Grant Program; alligator: Copyright © 2001 by Kent A. Vliet; valk op bladsye 2 en 15: Photo by National Park Service; manne met vis: © Bill Banaszewski/Visuals Unlimited

[Prent op bladsy 13]

Ring van ’n gestreepte sperwer

[Erkenning]

© Jane McAlonan/Visuals Unlimited

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel