Ons beskou die wêreld
Een groot oog
Daar is gemeen dat die brokkelster, wat ook as die slangster bekend staan, sonder oë in die donker dieptes van die oseaan aan die lewe bly. Navorsers het gewonder hoe hierdie lid van die seesterfamilie blykbaar roofvyande kan gewaar en dan vir hulle kan vlug. “Nou het wetenskaplikes sy geheim ontdek”, berig The New York Times. “Sy hele skelet vorm ’n groot oog.” Die brokkelster gebruik ’n klomp kraalagtige lense wat vermoedelik een groot saamgestelde oog vorm. En sy piepklein lensies kan “lig minstens 10 keer beter konsentreer as die mikrolense wat nou in laboratoriums gemaak word”, sê die berig. “Hierdie studie toon hoe die natuur merkwaardige stowwe kan vorm, wat glad nie deur die huidige tegnologie nagedoen kan word nie”, sê dr. Joanna Aizenberg, die hoofsamesteller van die studie.
Geharde bakterieë
Die aarde wemel van lewe, selfs etlike kilometer onder die grond, berig die National Post van Kanada. “Hierdie bakterieë kan so diep binne die aardoppervlak wees dat dit reënwater 50 000 jaar sou neem om dit te bereik”, sê professor Terry Beveridge van die Universiteit van Guelph. “Daar is geen lig, geen fotosintese, geen komplekse suikers of proteïene om van te lewe nie.” Hoe bly die bakterieë dan aan die lewe? Volgens die Post het Kanadese en Amerikaanse navorsers uitgevind dat die bakterie Shewanella aan ysteroksied kleef en “die mineraal se elektrone [uittrek] om die metaboliese energie te kry wat dit nodig het om aan die lewe te bly”. Wetenskaplikes skat dat tienduisende verskillende mikrobes diep onder die grond lewe, maar minder as 10 persent is ten volle geklassifiseer.
Slaapsiekte steek weer kop uit
“Navorsers het gewaarsku dat slaapsiekte weer in dele van Afrika tot verontrustende vlakke toegeneem het”, berig die British Medical Journal. Pierre Cattand, van die Vereniging Teen Tripanosomiase in Afrika, sê: “Sestigmiljoen mense loop gevaar om dit op te doen, maar net drie- tot viermiljoen word gemonitor, onder wie daar sowat 45 000 nuwe gevalle per jaar is. Volgens skatting is ten minste 300 000 tot 500 000 op die oomblik aangetas.” Daar is in die 1960’s gemeen dat die siekte, wat deur die tsetsevlieg aan mense oorgedra word, feitlik uitgeroei is. Gebiede met die grootste probleem en wat internasionale hulp nodig het, is glo Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo en suidelike Soedan.
Tsjegge keer godsdiens die rug toe
Syfers wat deur die Statistiekkantoor van die Tsjeggiese Republiek bekend gemaak is, toon dat baie mense in die Tsjeggiese gemeenskap godsdiens oor die afgelope tien jaar die rug toegekeer het. In 2001 het net 2,7 miljoen Tsjegge hulle byvoorbeeld as Rooms-Katolieke geïdentifiseer, in vergelyking met 4 miljoen in 1991. In dieselfde tydperk het die lidmaatskap van die Evangeliese Kerk en die Hussitiese Kerk ook met onderskeidelik 32 persent en 46 persent afgeneem. Waarom was daar so ’n afname? Kort ná die val van Kommunisme het die Tsjegge gevoel dat hulle vry is om hulle as kerklidmate te identifiseer. Maar vandag sê byna 60 persent van die bevolking dat hulle nie godsdienstig is nie. Die hedendaagse Tsjeggiese Republiek, wat destyds die bekende godsdienshervormer Jan Hus se land van herkoms was, het een van die lande in Europa geword waar mense die minste in godsdiens belangstel.
Werksetiek is aan die verdwyn
“Vyf-en-vyftig persent van die vooraanstaande uitvoerende amptenare met wie ’n onderhoud [in die Verenigde State] gevoer is, sê dat die agteruitgang van die werksetiek in die toekoms baie nadelig sal wees vir maatskappye se werkverrigting”, berig die tydskrif The Futurist. Verskeie faktore kan so ’n agteruitgang veroorsaak, sê die tydskrif, met inbegrip van kinders wat “gesien het dat hulle ouers aan hulle werkgewers lojaal gebly het, maar toe weens afskaling ontslaan is”. Dit het daartoe gelei dat baie van dié wat in die 1960’s en daarna gebore is, werk beskou as “’n middel tot hulle doelwitte: geld, pret en ontspanning”. Volgens die artikel is dít die rede waarom “werksekuriteit en ’n groot salaris nie meer die dryfkragte is wat dit vroeër was nie”. Twee hedendaagse aanduidings dat werksetiek aan die verdwyn is, is toenemende laatkommery en die misbruik van siekteverlof deur werkers.
Internetgrafdiens
’n Internetdiens maak dit nou moontlik om virtuele grafte in die kuberruimte te besoek, berig The Japan Times. Vriende en familielede kan op die Internet aan die oorledene eer bewys. ’n Grafsteen verskyn op die rekenaarskerm saam met ’n foto en kort lewensbeskrywing van die oorledene. Plek word voorsien sodat besoekers boodskappe kan laat. Om Boeddhistiese besoekers tegemoet te kom, kan offerandes van vrugte, blomme, wierookstokkies en alkohol by die graf op die Internet gebring word deur die muis te kliek. Volgens Tadasji Watanabe, besturende direkteur van die Internet-gedenkdiensonderneming, “sê party dat dit ’n baie goeie idee is vir mense wat grafte nie so dikwels kan besoek nie, soos dié wat in die buiteland woon”.
Noordpoolwaarskuwing
“Tot 80 persent van die planeet se delikate Noordpoolstreek sal teen die middel van hierdie eeu ernstig beskadig wees as nywerheidsontwikkeling daar nie stadiger plaasvind nie”, sê die koerant The Globe and Mail van Kanada. ’n Verslag deur die VN se Omgewingsprogram lewer kommentaar oor die kumulatiewe uitwerking van menslike ontwikkeling op die hele Noordpoolstreek. Volgens die verslag sal die gevolge rampspoedig wees as nywerheidsontwikkeling voortgaan teen dieselfde tempo as wat van 1940 tot 1990 die geval was. Daar word gesê dat die skade moontlik ook na ander streke sal versprei, aangesien baie Noordpooldiere migreer. “Tussen 10 persent en 15 persent van die wêreld se Noordpoolstreek is reeds deur nywerheidsontwikkeling benadeel”, sê die koerant.
Vetsug onder kinders neem toe
“Die aantal kleuters wat oorgewig is, het in die afgelope dekade byna verdubbel”, sê The Times van Londen waar dit kommentaar lewer oor ’n onlangse opname wat in die British Medical Journal verskyn het. “Meer as een uit vyf kinders onder die ouderdom van vier is oorgewig en bykans een uit tien word as vetsugtig geklassifiseer.” Dr. Peter Bundred van die Universiteit van Liverpool sê dat baie moeders hulle kleuters “klaargemaakte etes gee, wat meer vet bevat”, en hulle besig hou deur hulle voor die TV te laat sit. Wanneer hulle begin skoolgaan, sal baie van hierdie kinders nie skool toe loop nie, maar met die motor geneem word, en hulle sal ná skool eerder TV kyk as buite speel. “Vir die eerste keer sien ons dat kinders van alle ouderdomme vinnig gewig aansit”, het Bundred gesê.
Ingeligte toestemming opnuut bevestig
Tien jaar nadat ’n eerste bevel in Januarie 1991 uitgevaardig is, het die Italiaanse Departement van Gesondheid opnuut bevestig dat bloedoortappings nie toegedien mag word voordat die pasiënt sy ingeligte toestemming gegee het nie. Die bevel van 25 Januarie 2001, wat in die Gazzetta Ufficiale della Repubblica Italiana (Staatskoerant van die Italiaanse Republiek) verskyn het, sê: “Die pasiënt wat met prosedures soos oortappings van bloed of bloedkomponente en/of die toediening van bloedderivate behandel gaan word, moet meegedeel word dat dit dalk nie sonder risiko’s is nie en moet vooraf skriftelik daartoe instem of dit weier.”
Verwagtende moeders word aangerand
“Daar word nou besef dat aanrandings deur die man saam met wie sy woon die moeder en kind meer skade berokken as mediese toestande waarvoor daar gedurende die swangerskap getoets word”, sê The Independent van Londen. “’n Studie van gesinsgeweld in Brittanje deur die Koninklike Kollege vir Verloskundiges . . . het getoon dat ’n derde van die aanrandings van vroue vir die eerste keer plaasgevind het toe hulle swanger was. Daar is toenemende bewyse dat jaloesie, wat opgewek word wanneer ’n baba verwag word, party mans na geweld dryf.” “Ons was geskok toe ons die VK se syfers sien”, het professor James Drife van die Koninklike Kollege vir Verloskundiges gesê. ’n Soortgelyke studie in die Verenigde State het bevind dat moord die oorsaak van 1 uit 5 sterftes onder swanger vroue in daardie land is, wat dit “die algemeenste doodsoorsaak onder swanger vroue” daar maak.