Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 3/1 bl. 3-4
  • Kan die kerke gered word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan die kerke gered word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie red wie?
  • ’n Storm is aan die broei
  • Die Christendom se oes in Afrika
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wat gebeur met die kerke?
    Ontwaak!—2007
  • Geestelike lig vir die “Donker Vasteland”?
    Ontwaak!—1994
  • Kommer in die Latyns-Amerikaanse Kerk—Waarom breek miljoene weg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 3/1 bl. 3-4

Kan die kerke gered word?

“MENSE in Brittanje glo nog in God, maar wil hulle nie tot Christus verbind nie”, sê Stephen Tirwomwe, ’n Ugandese geestelike. Sowat 20 jaar gelede het hy die gewelddadige suiwerings teen sy kerk in Uganda oorleef. Vandag preek hy in mansklubs in Leeds, Engeland, en hou sy tien minuut lange toespraak voordat hy sy gehoor aan bingo moet afstaan.

Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan ondervind die onlangs gestigte Anglikaanse Sending in Amerika ’n soortgelyke geestelike krisis. “Die Verenigde State het nou die grootste Engelssprekende bevolking in die wêreld wat nie aan ’n kerk behoort nie en onverskillig staan teenoor geestelikheid”, sê die sending se amptelike webwerf. “Óns word nou die sendingveld.” Gefrustreerd met die onsuksesvolle pogings om veranderinge in hulle kerk aan te bring, het die nuwe sending van tradisie afgewyk en by Asiatiese en Afrikaleiers aangesluit om met “’n sendinguitreikprogram in die Verenigde State” te begin.

Maar waarom is sendelinge van Afrika, Asië en Latyns-Amerika besig om ‘siele te red’ in sogenaamde Christenlande in Europa en Noord-Amerika?

Wie red wie?

Meer as vierhonderd jaar lank het ’n bestendige stroom vroom Europese sendelinge kort op die vloedgolf van koloniale uitbreiding in Afrika, Asië, die Stille Oseaan en Suid-Amerika gevolg. Hulle doel was om hulle godsdiens na die sogenaamde heidene in hierdie lande te neem. Mettertyd het die Amerikaanse kolonies, wat glo op Christelike beginsels gegrondves is, by hulle Europese eweknieë aangesluit en hulle later selfs verbygesteek in hulle pogings om hulle eie evangeliese sendings oor die hele wêreld tot stand te bring. Maar die bordjies is nou verhang.

“Die middelpunt [van die sogenaamde Christelike godsdiens] het verander”, sê Andrew Walls, stigter-direkteur van die Sentrum vir Navorsing oor die Christelike godsdiens in die nie-Westerse Wêreld. In 1900 was 80 persent van diegene wat verklaar het dat hulle Christene is, Europeërs of Noord-Amerikaners. Maar vandag woon 60 persent van alle verklaarde Christene in Afrika, Asië en Latyns-Amerika. ’n Onlangse persberig sê: “Katolieke kerke in Europa verlaat hulle op priesters uit die Filippyne en Indië”, en “een uit elke ses priesters wat in Katolieke gemeentes in Amerika dien, word nou uit die buiteland ingevoer”. Afrika-evangeliste in Nederland, hoofsaaklik van Ghanese afkoms, beskou hulleself as “’n sendingkerk op ’n sekulêre vasteland”. En evangeliste uit Brasilië voer nou veldtogte in verskeie dele van Brittanje. Een skrywer sê: “Christensendelinge kom nou uit die teenoorgestelde rigting.”

’n Storm is aan die broei

Die toenemend gesekulariseerde Europese en Noord-Amerikaanse vastelande het heel waarskynlik sendelinge nodig. “In Skotland gaan minder as 10 persent van die Christene gereeld kerk toe”, sê een nuustydskrif. In Frankryk en Duitsland is dit selfs minder. Tydens ’n opname het “omtrent 40 persent van die Amerikaners en 20 persent van die Kanadese gesê dat hulle gereeld kerk toe gaan”, sê nog ’n persberig. In teenstelling hiermee is die bywoningsyfer in die Filippyne glo bykans 70 persent, en die situasie is soortgelyk in ander ontwikkelende lande.

Nog betekenisvoller is die feit dat kerkgangers in die Suidelike Halfrond geneig is om baie meer tradisioneel te wees as dié in die Noordelike Halfrond. Byvoorbeeld, wanneer Katolieke in die Verenigde State en Europa ondervra word, spreek hulle deurgaans ’n toenemende wantroue in die gesag van die geestelikes uit en wil hulle groter lekedeelname en gelykheid vir vroue hê. Daarteenoor aanvaar die oorgrote meerderheid van die Katolieke in die Suidelike Halfrond die kerk se tradisionele standpunt oor hierdie kwessies. Namate die ondersteuning van die kerk voortdurend suidwaarts verskuif, word die grondslag vir toekomstige konfrontasie gelê. Philip Jenkins, ’n geleerde op die gebied van geskiedenis en godsdiens, voorspel: “Dit is baie waarskynlik dat nie een van die twee komponente van die wêreldwye Christelike godsdiens oor ’n dekade of twee sy eweknie as ten volle of eg Christelik sal beskou nie.”

In die lig van hierdie neigings sê Walls dat ’n belangrike vraag is “hoe Christene in Afrika, Asië, Latyns-Amerika, Noord-Amerika en Europa in dieselfde kerk kan saamleef en opreg dieselfde geloof kan bely”. Wat dink jy? Kan die kerke in ’n verdeelde wêreld voortbestaan? Wat is die grondslag vir ware Christelike eenheid? Die volgende artikel sal die skriftuurlike antwoorde gee tesame met duidelike bewyse dat ’n verenigde Christelike gemeenskap alreeds wêreldwyd floreer.

[Prent op bladsy 4]

Hierdie voormalige kerk is nou ’n musiekkafee

[Erkenning op bladsy 4]

AP Photo/Nancy Palmieri

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel