Ons beskou die wêreld
Ondoeltreffende hulp?
Van die metodes wat gebruik word om die Japannese grootkopseeskilpad teen uitsterwing te bewaar, word bevraagteken, sê The Daily Yomiuri. Om seeskilpadeiers uit te grawe, hulle uit te broei en hulle dan in die see vry te laat, kan in werklikheid die seeskilpaaie se aangebore navigasievermoëns belemmer. Seeskilpaaie wat op die natuurlike manier uitbroei, “voel die aarde se magnetisme aan terwyl hulle oor die sand waggel en ontwikkel sodoende ’n instink vir rigting”, berig die koerant. “Wanneer die eiers kunsmatig uitgebroei word, word die babaskilpadjies in ’n beperkte ruimte gehou voordat [hulle] in die natuurlike oseaanomgewing losgelaat word, wat keer dat hulle hulle aangebore oriëntasievermoë ontwikkel, asook hulle vermoë om op hulle eie in die oseaan hulle rigting te vind.”
Daardie allerbelangrike glimlag
“’n Eenvoudige glimlag is die beste manier om vriende te maak en mense te beïnvloed”, berig The Times van Londen. ’n Nasionale opname wat vir die Koninklike Posdiens gedoen is, toon dat ’n glimlag die eerste ding is wat mense omtrent iemand opmerk. Byna die helfte van die mense onder wie ’n opname gedoen is, het gesê dat hulle nie sake sou doen met iemand wat onvriendelik gelyk het nie. Vrouebestuurders is veral meer geneig om werknemers te bevorder wat glimlag. Brian Bates, medeskrywer van The Human Face, sê: “Hierdie navorsing toon hoe belangrik dit in die samelewing is om te glimlag. Ons sal dikwels eerder vir mense wat glimlag, van ons geheime en verwagtinge vertel of by hulle iets koop.” As ’n mens glimlag, vervaardig die liggaam meer pynstillende endorfiene, voeg hy by, en mense wat spontaan glimlag, “is suksesvoller in hulle persoonlike lewe en in hulle beroep”.
Akkuraatste tydhouer
’n Span Amerikaanse wetenskaplikes het ’n kwikioonhorlosie ontwikkel wat “akkuraat [is] tot ’n enkele femtosekonde—die kleinste eenheid van tyd wat oor die algemeen in die wetenskap gebruik word”, berig The Times van Londen. Dit is glo “sowat 1 000 keer akkurater as die atoomhorlosies wat gebruik word om Gekoördineerde Wêreldtyd (UTC) te hou, wat die wêreldwye tydstandaard is”. Die fisikus Scott Diddams verduidelik: “Die onmiddellike toepassings sal in basiese fisika wees, om ’n baie akkurater begrip van die heelal te verkry.” Mettertyd sal telefoonnetwerke en navigasiesatelliete ook daardeur bevoordeel word. Hoewel Diddams beweer dat die tydhoutoestel “die wêreld se stabielste horlosie” is, sê hy dat dit moontlik selfs beter gemaak kan word.
“Akkuraatste sensus”?
Die Amerikaanse bevolkingsopname van 2000 is al “die akkuraatste sensus in die geskiedenis” genoem, sê The Wall Street Journal. Maar “die syfer vir 2000 sluit 5,77 miljoen mense in wat na die mening van die Sensusburo bestaan, maar wat hulle nie werklik getel het nie”. Die koerant verduidelik: “Toe hulle geen antwoord ontvang het by adresse wat hulle gemeen het wel inwoners het nie, het die buro bloot vir die rekenaars gesê om mense daar ‘by te reken’, op grond van verskeie leidrade, waaronder die bure se antwoorde.” Dit is selfs gedoen wanneer beamptes nie seker was of daar ’n huis by die adres is nie. Hulle het onder andere geraai hoeveel mense daar woon en wat hulle ouderdom, geslag en ras is, en of hulle getroud of ongetroud is. Dit word as akkuraat beskou, het ’n beampte gesê, “omdat mense wat eenders is, wel geneig is om na aan mekaar te woon”. In party state het hierdie soort Amerikaners meer as 3 persent van die totaal uitgemaak, en byrekening is gebruik om die raskategorie van oor die 11 miljoen mense in te vul.
Dodelike bome?
’n Stryd word in Frankryk gevoer om die lot van sowat 400 000 bome langs die land se paaie te bepaal. Bome langs die pad word al hoe meer die skuld gegee vir sterftes in motorongelukke. Botsings teen bome was die oorsaak van 799 van die 7 643 padsterftes in die jaar 2000, berig die Franse tydskrif L’Express. Party beweer egter dat die bome nie die werklike oorsaak van die sterftes is nie, maar wel alkohol en mense wat jaag. Daar word nietemin beplan om tussen 10 000 en 20 000 bome wat minder as twee meter van die kant van die pad af staan, af te kap. Die Franse tydskrifartikel het na ’n hoofartikel in The Wall Street Journal oor die saak verwys en gesê dat dit lyk of die bome hulle skuldig gemaak het aan “die ernstige misdaad om nie pad te gee vir dronk bestuurders nie”.
Chinese skrif —’n Kuns wat uitsterf?
“Chinese karakters, wat met moeite deur geslagte Chinese kinders gememoriseer is, staan voor hulle grootste bedreiging tot nog toe—die rekenaar”, sê The Daily Telegraph van Londen. “Lede van China se geleerde elite, wat hulle altyd beroem het op die feit dat hulle die 6 000 karakters uit die kop ken, vergeet nou hoe om te skryf. Hulle kan nog steeds lees, maar sonder hulle rekenaars vind hulle dat hulle heeltemal vashaak.” Die sindroom word “‘ti bi wang zi’ [genoem]—oftewel, om die karakter te vergeet wanneer jy die pen oplig”. Tot die 1980’s toe is byna alles met die hand geskryf, maar sedertdien het gevorderde sagteware dit moontlik gemaak dat Chinese karakters op ’n gewone toetsbord ingetik kan word. Gevolglik is die kuns om mooi karakters met die hand te skryf, ’n vaardigheid wat hooggeskat word en glo die innerlike mens na vore laat kom, aan die uitsterf en “veroorsaak dit kommer onder taalkundiges, sielkundiges en ouers”.
Jongmense op dieet
’n Onlangse opname onder 1 739 Kanadese meisies tussen 12 en 18 jaar het getoon dat 27 persent simptome van eetversteurings het, sê die koerant Globe and Mail. Deelnemers uit stedelike, voorstedelike en plattelandse bevolkings het ’n vraelys ingevul wat ondersoek het hoe jongmense oor kos en hulle liggaam voel. Die gegewens het getoon dat party wat net 12 jaar oud is, hulle vergryp aan kos en dan weer daarvan ontslae raak (deur hulleself te laat opgooi), of dieetpille, lakseermiddels en urineermiddels gebruik het om gewig te verloor. Volgens dr. Jennifer Jones, ’n wetenskaplike navorser by die Gesondheidsnetwerk van die Universiteit van Toronto, moet meisies veral “gesonde gesindhede teenoor kos en oefening ontwikkel. Hulle moet meer oor hulle liggaam leer en besef dat die vietse lyfies wat hulle op reklameborde, in tydskrifte en in rockvideo’s sien, nie normaal is nie.” Die Globe voeg by dat “baie tienermeisies nie daarvan bewus is dat dit normaal is om gedurende puberteit vet te stoor en dat dit belangrik is vir normale ontwikkeling nie”.
Pille in die klaskamer
Al hoe meer kinders drink pille om die toenemende druk op skool die hoof te bied, berig Südwest Presse van Duitsland. Een uit 5 laerskoolkinders drink glo kalmeermiddels of middels om beter te kan presteer. In die hoërskool is dit 1 leerling uit 3. Albin Dannhäuser, die president van die Beierse Onderwysersvereniging, sê egter dat dit glad nie ’n goeie idee is om medisyne te gebruik om spanning te hanteer of om beter te presteer nie, aangesien dit niks doen om kinders te help om hulle probleme op te los nie. Hy raai ouers aan om nie te veel van hulle kind te vereis nie, maar om “sy fisiese en geestesgesondheid in gedagte te hou sowel as die ontwikkeling van ’n stabiele persoonlikheid”.
Hinderlike onkruid nuttig gebruik
“Onkruid soos die waterhiasint, die lantana en parthenium laat ontwikkelaars met hulle hande in hulle hare sit omdat dit so moeilik is om die onkruid uit te roei”, sê India Today. Die Lantana camara, wat in 1941 deur die Britte na Indië gebring is om as ’n heining gebruik te word, het byna 100 000 hektaar grond oorgeneem, en dit is byna onmoontlik om dit uit te roei—met die hand, chemies of biologies. Die giftige uitwerking wat die onkruid op die grond het, voorkom dat ander plante groei, en hele dorpies moes verskuif word nadat die onkruid onbeheers daar begin groei het. Maar vir die inwoners van Lachhiwala is die onkruid van groot waarde. Lantana word saam met modder gebruik om huise en hoenderhokke te bou. Wanneer die onkruid, wat pes- en insekbestand is, se bas afgestroop is, maak dit goeie meubels en mandjies. Lantanablare word gebruik om muskiete af te weer en om wierookstokkies te maak. Die plant se wortels word fyngemaal en gebruik om tandinfeksies te behandel.
Uitwerking van wanhoop
“Waarom sterf party mense terwyl ander, wat dalk net so siek is, aanhou lewe?” vra dr. Stephen L. Stern van die psigiatriese afdeling by die Universiteit van Texas se Geneeskundesentrum in San Antonio. “Een antwoord op hierdie vraag lê moontlik in die aanwesigheid of afwesigheid van hoop.” ’n Studie onder 800 bejaarde Amerikaners het daarop gedui dat wanhoop dikwels tot ’n vroeë dood lei. Die navorsers wys egter daarop dat die uitwerking van wanhoop dikwels van individu tot individu verskil, na gelang van faktore soos ervarings in hulle kinderjare, depressie, kulturele agtergrond en ekonomiese sekuriteit.