Beskerm jou gehoor!
“Meer as 120 miljoen mense in die wêreld het probleme met hulle gehoor.”—Wêreldgesondheidsorganisasie.
ONS vermoë om te hoor, is ’n kosbare gawe. Maar namate ons ouer word, verswak ons gehoor geleidelik. Dit lyk of die hedendaagse samelewing, met al die verskillende geluide en geraas wat dit voortbring, hierdie proses versnel het. ’n Senior wetenskaplike by die Sentrale Instituut vir die Dowes, in St. Louis, Missouri, VSA, het gesê: “Sowat 75 persent van gehoorverlies by die tipiese Amerikaner word nie deur die verouderingsproses alleen veroorsaak nie, maar deur alles wat hy gedurende sy leeftyd aan sy ore gedoen het.”
Intense, kortstondige blootstelling aan harde klanke kan skadelik wees vir die delikate beentjies in die binneoor. Maar gehoorverlies is meestal die gevolg van “die gesamentlike uitwerking van lawaaierige werksplekke, lawaaierige stokperdjies, lawaaierige ontspanningsbedrywighede”, het die gehoorspesialis dr. Margaret Cheesman gesê. Wat kan jy doen om jou gehoor te beskerm? Om die antwoord hierop te kry, sal dit goed wees as jy weet hoe jou gehoorsin werk.
Die klanke wat ons hoor
Dit lyk asof ons omgewing al hoe lawaaieriger word. Baie mense word daagliks met klanke van verskillende sterktes gebombardeer, wat wissel van die geraas van motors, busse en vragmotors in die strate tot die oorverdowende lawaai van masjiengereedskap in die werksplek.
Soms dra ons tot die probleem by deur die klank harder te stel. ’n Gewilde manier om na musiek te luister, is om ’n draagbare CD- of kassetspeler met oorfone te gebruik. Volgens Marshall Chasin, medestigter van die Musikanteklinieke van Kanada, toon opnames wat in Kanada en die Verenigde State gedoen is, dat jongmense al hoe meer aan gehoorverlies ly omdat hulle die klank baie hard stel wanneer hulle oorfone gebruik.
Maar wat is te hard? Klank word op drie maniere geklassifiseer—volgens tydsduur, volgens frekwensie en volgens amplitude. Die tydsduur verwys eenvoudig na hoe lank ’n klank gehoor word. Die frekwensie, of toonhoogte, van ’n klank word in siklusse per sekonde, of hertz, gemeet. By ’n normale, gesonde gehoorsin strek die spektrum van waarneembare frekwensies van 20 tot 20 000 siklusse per sekonde.
’n Klank se amplitude, of sterkte, word in eenhede gemeet wat desibels (dB) genoem word. Normale spraak bring ’n klank van ongeveer 60 desibel voort. Hoe langer jy aan enigiets harder as 85 desibel blootgestel word, sê oudioloë, hoe erger sal die uiteindelike gehoorverlies wees. Hoe harder die klank, hoe vinniger word die gehoor beskadig. ’n Berig in die tydskrif Newsweek het gesê: “Jou ore kan met veiligheid twee uur lank die geluid van ’n kragtige boor (100 dB) hanteer, maar nie meer as 30 minute in ’n lawaaierige videospeletjiearkade (110 dB) nie. Met elke 10 desibel wat die klanksterkte styg, is die geraas 10 keer erger.” Toetse bevestig dat klank teen ongeveer 120 desibel pyn begin veroorsaak. Dit is verbasend dat party hoëtroustelle wat tuis gebruik word, klank van meer as 140 desibel kan voortbring!—Sien die bygaande venster.
Om te verstaan waarom harde klanke jou gehoor kan beskadig, moet ons kyk wat gebeur wanneer klankgolwe jou ore bereik.
Hoe ons gehoor werk
Die buitenste deel van ons oor, wat die oorskulp of pinna genoem word, is ontwerp om klankgolwe op te vang en dit na die gehoorgang te gelei, waar dit spoedig die oordrom bereik. Die klankgolwe laat dan die oordrom vibreer, en op sy beurt veroorsaak die oordrom dat die drie beentjies in die middeloor vibreer. Die vibrasies word daarna na die binneoor gelei, ’n vloeistofgevulde sak wat in been omsluit is. Hier beweeg die vibrasies deur die vloeistof in die koglea, die slakvormige deel van die binneoor wat ’n mens in staat stel om te hoor en wat die haarselle bevat. Die vloeistof in die koglea laat die boonste deel van die haarselle vibreer sodat dit leesbare senuwee-impulse voortbring. Hierdie impulse word dan na die brein oorgedra waar hulle ontsyfer en as klank geïnterpreteer word.
Die limbiese stelsel help die brein om te besluit aan watter klanke dit aandag moet skenk en watter geïgnoreer moet word. Byvoorbeeld, ’n moeder hoor dalk nie bewustelik die normale klanke van ’n kind wat speel nie, maar sy sal onmiddellik reageer as die kind skielik begin huil. Die feit dat ons met twee ore luister, stel ons in staat om in stereo te hoor, wat baie nuttig is. Dit help ons om te bepaal waar die klanke vandaan kom. Maar wanneer die klank uit woorde bestaan, kan die brein net een boodskap op ’n slag verstaan. “Om dié rede”, sê die boek The Senses, “kan mense nie hoor wat die persoon langs hulle sê wanneer hulle na die persoon luister, maar terselfdertyd oor die telefoon praat nie.”
Hoe geraas ons gehoor beskadig
Dink aan die volgende vergelyking om jou voor te stel hoe harde klanke ons gehoor kan beskadig. ’n Verslag oor beroepsveiligheid vergelyk die haarselle in die binneoor met koring op ’n land en die klank wat die oor bereik, met die wind. ’n Ligte briesie, soos ’n sagte klank, sal die boonste deel van die koring laat beweeg, maar dit sal nie die koring beskadig nie. Maar as die windsnelheid vermeerder, sal dit ’n groter uitwerking op die koringhalm hê. ’n Skielike stormwind of aanhoudende blootstelling aan minder sterk winde oor ’n lang tydperk kan die halm onherstelbaar beskadig en dit laat doodgaan.
Dit is dieselfde met geraas en die klein, delikate haarselle in die binneoor. ’n Skielike oorverdowende slag kan die weefsels van die binneoor skeur en letsels agterlaat wat permanente gehoorverlies veroorsaak. Daarbenewens kan langdurige blootstelling aan harde klanke die delikate haarselle permanent beskadig. As hulle eers beskadig is, kan hulle hulleself nie weer herstel nie. Die gevolg kan tinnitus wees—’n gegons, gefluit of gesuis in die ore of kop.
Beskerm jou gehoor
Hoewel gehoorverlies oorerflik is of deur ’n onvoorsiene ongeluk veroorsaak kan word, kan ons voorsorg tref om ons kosbare gehoorsin te beskerm. Dit is goed om vroeg reeds te weet wat jou gehoor kan beskadig. Dit is soos ’n oudioloog gesê het: “Om te wag totdat ’n probleem kop uitsteek en dan eers iets daaromtrent te doen, is soos om sonskermroom aan te smeer nadat jy gebrand het.”
Dit is dikwels ’n geval van hoe ons luister en nie soseer waarna ons luister nie. As jy byvoorbeeld stereo-oorfone gebruik, moet jy die volume dalk sag genoeg stel sodat jy klanke om jou kan hoor. As die stereostel in jou motor of huis so hard speel dat dit ’n gewone gesprek onmoontlik maak, is dit dalk ’n goeie teken dat dit ook hard genoeg is om jou gehoor te beskadig. Deskundiges waarsku dat twee tot drie uur se blootstelling aan klanke van 90 desibel jou ore kan beskadig. Oorpluisies of ander toestelle wat jou gehoor kan beskerm, word aanbeveel wanneer jy ook al in ’n lawaaierige omgewing is.
Dit sal goed wees as ouers onthou dat kinders se gehoor makliker beskadig kan word as volwassenes s’n. Hou in gedagte die potensiële gevaar van raserige speelgoed. ’n Ratel kan immers ’n klank van 110 desibel voortbring!
Ons ore is delikate, klein en wonderlike organe. Ons kan daarmee al die verskillende en pragtige klanke in die wêreld om ons hoor. Hierdie kosbare gawe verdien tog sekerlik om beskerm te word.
[Venster op bladsy 20]
Benaderde desibelvlak van ’n paar algemene klanke
• Asemhaling—10 desibel
• Fluistering—20 desibel
• Spraak—60 desibel
• Spitsverkeer—80 desibel
• Voedselverwerker—90 desibel
• Verbygaande trein—100 desibel
• Kettingsaag—110 desibel
• Verbygaande straler—120 desibel
• Geweerskoot—140 desibel
[Venster op bladsy 21]
Jy is dalk besig om jou gehoor te verloor as jy
• Die radio of TV harder stel, maar ander dit te hard vind
• Mense gedurig vra om te herhaal wat hulle gesê het
• Dikwels frons, vooroor leun en jou kop draai sodat jy die persoon wat met jou praat, kan hoor
• Dit moeilik vind om te hoor in openbare plekke of wanneer daar agtergrondgeraas is, soos by ’n geselligheid of in ’n besige winkel
• Dikwels op ander staat maak om vir jou te vertel wat gesê is
[Diagram op bladsy 20]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Oorskulp
Drie beentjies in die middeloor
Oordrom
Koglea
Senuwees na die brein