Slawerny—Die plaag duur voort
IS SLAWERNY heeltemal uitgewis? Die meeste mense sal graag so wil dink. Net die woord roep afgryslike beelde op van onmenslikheid en onderdrukking. Maar vir baie mense is daardie beelde iets van die verlede. Party dink byvoorbeeld aan die slaweskepe van lank gelede—krakende houtvaartuie waarvan die ruim stampvol verskrikte mense was wat in byna ondenkbare vuilheid saamgehok is.
Sulke slaweskepe deurkruis weliswaar nie meer die oseane nie, en daardie soort slawerny word vandag deur internasionale verdrae verbied. Tog is slawerny alles behalwe uitgewis. Die menseregte-organisasie Antislawerny Internasionaal raam dat 200 miljoen mense nog steeds onder die een of ander vorm van slawerny lewe. Hulle werk in omstandighede wat heel moontlik erger is as wat slawe van vorige eeue verduur het. Trouens, party ontleders kom tot die slotsom dat “meer mense vandag in slawerny verkeer as in enige ander tyd in die geskiedenis”.
Die verhale van hierdie hedendaagse slawe is hartverskeurend. Kanji,a wat maar net tien jaar oud is, pas elke dag beeste op vir wrede base wat hom dikwels slaan. “As ek gelukkig is, kry ek ’n stuk ou brood in die hande, anders bly ek die hele dag sonder kos”, verduidelik hy. “Ek is nog nooit vir my werk betaal nie, want ek is ’n slaaf en hulle eiendom. . . . Kinders van my ouderdom speel met ander kinders, en ek wil liewer doodgaan as om hierdie aaklige lewe te hê.”
Soos Kanji is die slawe van vandag dikwels kinders of vroue. Hulle moet teen hulle wil swoeg om matte te maak, paaie te bou, suikerriet te sny of selfs as prostitute te werk. En hulle kan vir so min as R120 verkoop word. Sommige kinders word selfs deur hulle eie ouers in slawerny verkoop om hulle skuld te dek.
Vind jy sulke verslae afstootlik? Jy is nie alleen nie. In sy boek Disposable People, sê die skrywer Kevin Bales: “Slawerny is afskuwelik. Dis nie net iemand se arbeid wat gesteel word nie; dis die diefstal van ’n ganse lewe.” As ons in ag neem hoe onmenslik mense teenoor mekaar is, watter rede het ons dan om te glo dat die plaag van slawerny ooit sal ophou? Hierdie vraag het persoonlik meer met jou te doen as wat jy dalk aanvanklik vermoed.
Soos ons sal sien, is daar meer as een vorm van slawerny. Dit kom voor in baie verskillende vorme, waarvan party elke mens raak wat lewe. Elkeen van ons moet dus uitvind of die mensdom ooit ware vryheid sal geniet. Maar kom ons kyk eers kortliks na die geskiedenis van die slawehandel.
[Voetnoot]
a Nie sy regte naam nie.
[Prente op bladsy 3]
Verarmde vroue en kinders is al lank slagoffers van die slawehandel
[Erkennings]
Boonste foto: UN PHOTO 148000/Jean Pierre Laffont
U.S. National Archives photo