Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 9/8 bl. 20-21
  • Het God die slawehandel goedgekeur?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het God die slawehandel goedgekeur?
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Slawerny en die Israeliete
  • Slawerny en Christene
  • Keur die Bybel slawerny goed?
    Ontwaak!—2011
  • Die lang stryd teen slawerny
    Ontwaak!—2002
  • ’n Godsdiensdilemma in koloniale Brasilië
    Ontwaak!—2002
  • Slawerny—Die plaag duur voort
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 9/8 bl. 20-21

Die Bybel se beskouing

Het God die slawehandel goedgekeur?

SWETENDE swart liggame loop gebukkend en moeisaam oor loopplanke met swaar bale katoen op hulle skouers. Genadelose eienaars slaan hulle met ongebreide swepe. Skreeuende kinders word weggeskeur uit die arms van huilende moeders en word by vendusies aan die hoogste bieër verkoop. Dit is waarskynlik die ontsettend wrede beelde wat in jou gedagtes opkom wanneer jy aan slawerny dink.

Ironies genoeg, talle slawehandelaars en -eienaars was na bewering baie godsdienstige mense. Die geskiedskrywer James Walvin het geskryf: “Daar was honderde van hierdie mans, Europeërs en Amerikaners, wat die Here geloof het vir sy seën, wat hom gedank het vir die winsgewende en suksesvolle onderneming in Afrika, terwyl hulle hulle slaweskepe omgedraai en saam met die wind na die Nuwe Wêreld gevaar het.”

Party mense het selfs beweer dat God die slawehandel goedgekeur het. Tydens ’n toespraak voor die Algemene Konferensie van die Metodisties-Protestantse Kerk in 1842 het Alexander McCaine byvoorbeeld gesê dat die instelling van slawerny “deur God self georden” is. Was McCaine reg? Het God die ontvoering en verkragting van meisies, die hartelose skeiding van gesinne en die wrede mishandeling van mense goedgekeur, wat in McCaine se dag ’n wesenlike deel van die slawehandel was? En wat van die miljoene wat vandag gedwing word om as slawe onder haglike omstandighede te lewe en te werk? Keur God sulke onmenslike behandeling goed?

Slawerny en die Israeliete

Die Bybel sê dat die ‘een mens oor die ander heers tot sy ongeluk’ (Prediker 8:9). Dit is miskien nêrens so duidelik te sien soos in die onderdrukkende vorme van slawerny wat die mens al uitgedink het nie. Jehovah God staan nie onverskillig teenoor die lyding wat deur slawerny veroorsaak is nie.

Kyk byvoorbeeld na ’n situasie waarin die Israeliete hulle bevind het. Die Bybel sê dat die Egiptenare “aangehou [het] om hulle lewe bitter te maak deur harde slawearbeid met messelklei en stene en deur elke vorm van slawearbeid in die veld, ja, elke vorm van slawearbeid waarin hulle hulle onder tirannie as slawe gebruik het”. Die Israeliete “het steeds gesug weens die slawearbeid en ’n klaaggeroep laat opgaan, en hulle hulpgeroep het tot die ware God bly opgaan”. Het Jehovah onverskillig gestaan teenoor die ellendige toestand waarin hulle hulle bevind het? Inteendeel, “God [het] hulle gekreun gehoor, en God het aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink”. Daarbenewens het Jehovah vir sy volk gesê: “Ek sal julle beslis onder die laste van die Egiptenaars uitlei en julle van hulle slawerny verlos.”—Exodus 1:14, NW; 2:23, 24, NW; 6:6-8, NW.

Dit is duidelik dat Jehovah dit nie goedgekeur het dat die ‘een mens oor die ander heers’ deur middel van onderdrukkende slawerny nie. Maar het God dan nie later slawerny onder sy volk toegelaat nie? Ja, hy het. Maar die slawerny wat in Israel bestaan het, het heeltemal verskil van die wrede vorme van slawerny wat deur die geskiedenis heen bestaan het.

God se Wet het gesê dat iemand met die dood gestraf kon word as hy ’n mens ontvoer en verkoop. Jehovah het ook riglyne voorsien om slawe te beskerm. ’n Slaaf wat byvoorbeeld deur sy heer vermink is, moes vrygelaat word. As ’n slaaf gesterf het omdat sy heer hom geslaan het, kon die heer met die dood gestraf word. Vrouegevangenes kon slawe word of hulle kon as vroue geneem word. Maar hulle moes nie bloot vir seksuele bevrediging gebruik word nie. Die wese van die Wet moes regskape Israeliete gehelp het om slawe met respek en goedhartigheid te behandel, asof hulle huurlinge was.—Exodus 20:10; 21:12, 16, 26, 27; Levitikus 22:10, 11; Deuteronomium 21:10-14.

Sommige Jode het uit vrye wil slawe van hulle mede-Jode geword om hulle skuld te betaal. Hierdie gebruik het voorkom dat die volk honger ly en het baie in werklikheid gehelp om finansieel weer op die been te kom. Daarbenewens moes slawe, as hulle wou, tydens belangrike gebeure op die Joodse kalender vrygelaat worda (Exodus 21:2; Levitikus 25:10; Deuteronomium 15:12). Die Joodse geleerde Moses Mielziner het oor hierdie wette in verband met slawe gesê: “[’n] Slaaf sal altyd ’n mens wees; hy is beskou as ’n persoon met sekere natuurlike menseregte, wat nie eers sy heer kon skend en ongestraf bly nie.” Wat ’n skerp teenstelling vorm dit tog met die onderdrukkende stelsels van slawerny wat die mens se geskiedenis bederf!

Slawerny en Christene

Slawerny was ’n deel van die ekonomiese stelsel van die Romeinse Ryk waaronder die eerste-eeuse Christene gelewe het. Daarom was party Christene slawe, en ander het slawe gehad (1 Korintiërs 7:21, 22). Maar beteken dit dat dissipels van Jesus hulle slawe mishandel het? Geensins nie! Ons kan vol vertroue wees dat Christene nie diegene onder hulle gesag mishandel het nie, ongeag wat die Romeinse wet toegelaat het. Die apostel Paulus het Filemon selfs aangemoedig om sy slaaf Onesimus, wat ’n Christen geword het, soos ‘’n broer’ te behandel.b—Filemon 10-17.

Daar is geen aanduiding in die Bybel dat dit deel van God se oorspronklike voorneme vir die mensdom was dat die een mens ’n slaaf van die ander moes wees nie. Daarbenewens toon geen Bybelprofesie dat mense in God se nuwe wêreld slawe sal hê nie. Die regverdiges sal eerder in daardie komende Paradys ‘elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, sonder dat iemand hulle verskrik’.—Miga 4:4.

Die Bybel keur beslis nie die slegte behandeling van ander in enige vorm goed nie. Inteendeel, dit moedig respek en gelykheid onder mense aan (Handelinge 10:34, 35). Dit spoor mense aan om ander te behandel soos hulle graag wil hê hulle behandel moet word (Lukas 6:31). Bowendien moedig die Bybel Christene aan om in nederigheid ander hoër te ag, ongeag wat hulle sosiale stand is (Filippense 2:3). Hierdie beginsels verskil hemelsbreed van die onderdrukkende vorme van slawerny wat veral in onlangse eeue deur baie nasies beoefen is.

[Voetnote]

a Die feit dat voorsiening gemaak is dat party slawe by hulle heer kon bly, toon duidelik dat Israelitiese slawerny nie onderdrukkend was nie.

b Sommige Christene is vandag eweneens werkgewers, en ander is werknemers. Net soos ’n Christenwerkgewer nie diegene wat vir hom werk, sleg sal behandel nie, sou Jesus se dissipels in die eerste eeu ook knegte volgens Christelike beginsels behandel het.—Matteus 7:12.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel