Dobbelary—Iets wat mense regoor die wêreld fassineer
JOHN, wat in Skotland grootgeword het, het daarvan gedroom om die lotery te wen. “Ek het elke week ’n loterykaartjie gekoop”, sê hy. “Dit het my nie juis veel geld gekos nie, maar daardie kaartjie het my die hoop gegee dat ek alles kon kry wat ek ooit wou hê.”
Kazoesjige, wat in Japan woon, was versot op perdewedrenne. “Dit was groot pret om saam met my vriende by die renbaan op perde te wed, en ek het soms groot somme geld gewen”, vertel hy.
“Bingo was my gunstelingspel”, sê Linda, wat in Australië woon. “Hierdie gewoonte het my sowat [R350] per week gekos, maar dit was vir my so opwindend om te wen.”
John, Kazoesjige en Linda het dobbelary as ’n betreklik onskadelike vorm van vermaak beskou. Honderdmiljoene mense regoor die wêreld het dieselfde beskouing. ’n Gallup-opname in 1999 het getoon dat twee derdes van Amerikaners dobbelary goedkeur. In 1998 het Amerikaanse dobbelaars omtrent $50 miljard aan gewettigde dobbelary gespandeer—meer as die totale bedrag wat hulle aan fliekkaartjies, musiekopnames, sportwedstryde, pretparke en videospeletjies gespandeer het.
Volgens ’n onlangse studie het meer as 80 persent van Australië se bevolking gedurende ’n periode van ’n jaar ten minste een keer gedobbel, en 40 persent het elke week gedobbel. Volwassenes in daardie land bestee gemiddeld meer as R4 600 per jaar aan dobbelary, ongeveer twee keer soveel as wat Europeërs of Amerikaners bestee, wat Australiërs van die gretigste dobbelaars in die wêreld maak.
Baie Japannese is verslaaf aan patjinko, ’n spel wat soortgelyk aan spykerbal (pinball) is, en bestee biljoene rande per jaar aan weddenskappe op die spel. In Brasilië word ten minste R46 miljard elke jaar aan dobbelary bestee, ’n groot deel daarvan aan loterykaartjies. Maar Brasiliane is nie die enigstes wat lief is vir loterye nie. Volgens ’n onlangse skatting deur die tydskrif Public Gaming International is daar “306 loterye in 102 lande”. Dobbelary is waarlik iets wat mense regoor die wêreld fassineer—iets wat volgens sommige groot voordele meebring.
Sharon Sharp, ’n verteenwoordiger van die Openbare Dobbelary-navorsingsinstituut, sê dat inkomste uit loterye in die Verenigde State van 1964 tot 1999 “sowat $125 miljard tot staatsfondse bygedra het, en die grootste deel van hierdie inkomste het sedert 1993 ingekom”. Baie van hierdie geld is opsy gesit vir openbare opvoedingsprogramme, nasionale parke en die ontwikkeling van openbare sportfasiliteite. Die dobbelbedryf is ook ’n groot werkverskaffer, en in Australië alleen voorsien dit werk aan omtrent 100 000 mense in meer as 7 000 sakeondernemings.
Voorstanders van dobbelary voer dus aan dat gewettigde dobbelary nie net as vermaak dien nie, maar werksgeleenthede skep, belastinginkomste voorsien en swak plaaslike ekonomieë verbeter.
Baie mense sal derhalwe vra: ‘Wat is daarmee verkeerd om te dobbel?’ Die antwoord op hierdie vraag, wat in die volgende artikels bespreek word, sal heel moontlik jou beskouing van dobbelary verander.
[Prent op bladsy 3]
John
[Prent op bladsy 3]
Kazoesjige
[Prent op bladsy 3]
Linda