Ek het my stryd teen nageboortelike depressie gewen
Ek onthou hoe ek my man met ons nuwe babadogtertjie sien speel het en gedink het dat hulle sonder my gelukkiger sou wees. Ek het gevoel dat ek vir hulle ’n las geword het. Ek wou in die motor klim, wegry en nooit weer terugkom nie. Ek het glad nie besef dat ek aan nageboortelike depressie ly nie.a
MY EERSTE tien jaar van getroude lewe was gelukkige jare. Ek en Jason het dit geniet om Liana, ons eerste dogter, groot te maak. Toe ek dus weer swanger raak, was ons almal baie bly oor die nuus.
Maar hierdie swangerskap was baie moeilik. Om die waarheid te sê, ek was amper dood weens komplikasies ná die geboorte. Maar voor dit, laat in die swangerskap, was dit asof ek nie meer helder kon dink nie. Dit het erger geword nadat ons ons babadogtertjie, Carly, huis toe gebring het. Ek was die hele tyd moeg, en dit het gevoel of ek nie eers eenvoudige besluite kon neem nie. Ek het Jason ’n paar keer per dag by die werk gebel net om te vra wat ek volgende in die huis moes doen of om gerusgestel te word dat iets wat ek so pas gesê of gedoen het, reg was.
Ek was bang om saam met ander mense te wees, selfs saam met ou vriende. As iemand onverwags aan die deur geklop het, het ek in die slaapkamer gaan wegkruip. Ek het die huis nie meer skoongemaak nie, my aandag is maklik afgelei en ek het verward begin raak. Ek is lief vir lees, maar omdat ek nie kon konsentreer nie, was dit vir my feitlik onmoontlik om te lees. Dit was vir my moeilik om te bid, en daarom het my geestelikheid agteruitgegaan. Ek was emosioneel dood en kon geen liefde vir enigiemand voel nie. Ek was bang dat my kinders benadeel sou word omdat ek nie behoorlik kon dink nie. Ek het gevoel dat ek niks werd is nie. Ek het gedink ek word mal.
Gedurende daardie tyd het Jason van die werk af gekom en my gehelp deur die huis skoon te maak of vir die gesin kos te kook—en dit het my kwaad gemaak dat hy my gehelp het! Wat hy gedoen het, het my laat voel dat ek nie ’n goeie ma is nie. Maar as hy nie aangebied het om te help nie, het ek hom daarvan beskuldig dat hy nie omgee nie. As Jason nie so volwasse en liefdevol opgetree het nie, sou my nageboortelike depressie dalk rampspoedig vir ons huwelik gewees het. Miskien is dit beter as Jason self vertel hoe my toestand hom geraak het.
My man vertel hoe dit hom geraak het
“Aan die begin kon ek nie glo wat met Janelle gebeur nie. Sy het heeltemal verander en was nie meer die gelukkige, uitgaande persoon van vroeër nie en het soos ’n ander mens begin optree. Alles wat ek gesê het, het sy as persoonlike kritiek beskou, en sy het my selfs kwalik geneem as ek van die huiswerk probeer doen het. Ek wou aanvanklik vir haar sê dat sy haar moet regruk, maar ek het besef dat dit dinge net sou vererger.
“Die verhouding tussen ons was gedurig gespanne. Janelle het blykbaar gedink dat die hele wêreld teen haar gekant was. Ek het al gehoor van ander vroue wat weens nageboortelike depressie soortgelyke simptome gehad het. Toe ek dus vermoed dat sy ook daaraan ly, het ek alles wat ek kon, oor die onderwerp begin lees. Wat ek gelees het, het my vermoede bevestig. Ek het ook uitgevind dat Janelle se siekte nie haar skuld is nie—dat dit nie die gevolg is van iets wat sy nagelaat het om te doen nie.
“Ek moet erken dat die ekstra sorg wat sy en die kinders nodig gehad het, my emosioneel en fisies uitgeput het. Ek moes twee jaar lank ’n balans probeer vind tussen my sekulêre werk en my verantwoordelikhede as gemeentelike ouer man sowel as eggenoot en vader. Gelukkig kon ek my sekulêre werk so reël dat ek vroeër by die huis kon wees, veral die aande wanneer ons Christelike vergaderinge bygewoon het. Ek moes vroeg genoeg by die huis wees om Janelle met die aandete te help en om die kinders aan te trek. Gevolglik kon ons almal die vergaderinge bywoon.”
Die pad na beterskap
Sonder my man se liefdevolle ondersteuning sou dit ongetwyfeld langer geneem het om beter te word. Jason het geduldig geluister terwyl ek hom van my vrese vertel het. Ek het gevind dat dit baie belangrik is om nie my gevoelens op te krop nie. Soms het ek selfs kwaad geklink. Maar Jason het my voortdurend verseker dat hy my liefhet en dat hy my sal bystaan. Hy het my altyd probeer help om die positiewe sy van sake te sien. Later het ek om verskoning gevra vir dinge wat ek gesê het toe ek kwaad was. Hy het my gerusgestel dat dit my siekte is wat my dit laat sê het. As ek nou terugkyk, besef ek hoeveel sy bedagsame woorde vir my beteken het.
Saam het ons uiteindelik ’n baie goedhartige dokter gekry wat bereid was om te luister na hoe ek voel. Hy het my toestand as nageboortelike depressie gediagnoseer en onder andere voorgestel dat ek medikasie vir my gereelde paniekaanvalle neem. Hy het my ook aangemoedig om ’n geestesgesondheidsdeskundige te gaan sien. Hy het verder voorgestel dat ek gereeld oefeninge doen, ’n terapie wat baie al gehelp het in hulle stryd teen depressie.
Een van die grootste struikelblokke op die pad na beterskap was die stigma van nageboortelike depressie wat ek moes verwerk. Mense vind dit dikwels moeilik om empatie te hê vir iemand met ’n siekte wat hulle nie verstaan nie. Nageboortelike depressie is byvoorbeeld nie soos wanneer iemand ’n gebreekte been het wat ander kan sien en dan in ag kan neem nie. Maar my familie en goeie vriende het my werklik ondersteun en begrip getoon.
Liefdevolle hulp van familie en vriende
Ek en Jason het my ma se hulp gedurende hierdie moeilike tyd baie waardeer. Soms moes hy wegkom van die emosionele spanning by die huis. My ma was altyd positief en het nie probeer om my werk oor te neem nie. Sy het my eerder ondersteun en my aangemoedig om te doen wat ek kan.
Vriende in die gemeente het my ook wonderlike ondersteuning gegee. Baie het kort boodskappies geskryf om te sê dat hulle aan my dink. Hoe het ek tog daardie liefdevolle woorde waardeer! Dit was veral die geval omdat dit vir my moeilik was om met mense te praat, of dit nou oor die telefoon was of van aangesig tot aangesig. Dit was selfs vir my moeilik om voor en ná vergaderinge met mede-Christene te assosieer. Deur vir ons te skryf, het ons vriende dus nie net getoon dat hulle bewus was van hoe my depressie my beperk nie, maar ook dat hulle vir my en my gesin lief is en oor ons besorg is.
Dit is nie ’n lewenslange vonnis nie!
Ek is nou baie beter—danksy my dokter se raad, my familie se wonderlike ondersteuning en simpatieke vriende. Ek doen nog steeds gereeld oefeninge, selfs wanneer ek moeg voel, aangesien dit my al baie gehelp het. Ek probeer ook om positief op ander se aanmoediging te reageer. Gedurende moeilike tye luister ek na oudiokassette van die Bybel en na Kingdom Melodies—musiek wat geestelik en emosioneel opbouend is en deur Jehovah se Getuies voorberei is. Hierdie wonderlike voorsienings help om my geestelik te versterk en my gedagtes positief te hou. Ek het ook onlangs weer by gemeentelike vergaderinge studentetoesprake uit die Bybel begin hou.
Dit het my meer as twee en ’n half jaar geneem om die punt te bereik waar ek in groter mate liefde vir my man, kinders en ander kan voel en betoon. Hoewel dit vir my familie ’n moeilike tyd was, voel ons dat die band tussen ons nou sterker as ooit tevore is. Ek is veral dankbaar teenoor Jason, wat oor en oor sy liefde vir my bewys het deur die ergste tye van my depressie te verduur en deur altyd daar te wees om my te ondersteun wanneer ek hom nodig gehad het. Bowenal het ons al twee nou ’n baie hegter verhouding met Jehovah, wat ons gedurende ons beproewinge waarlik versterk het.
Party dae voel ek nog neerslagtig, maar met die hulp van my familie, my dokter, die gemeente en Jehovah se heilige gees word die lig aan die einde van die tonnel al hoe helderder. Ja, nageboortelike depressie is nie ’n lewenslange vonnis nie. Dit is ’n vyand wat oorwin kan word.—Soos vertel deur Janelle Marshall.
[Voetnoot]
a Nageboortelike depressie word ook postnatale depressie genoem.
[Venster/Prent op bladsy 20]
Faktore wat tot nageboortelike depressie aanleiding kan gee
Buiten hormoonveranderinge kan verskeie faktore soms tot nageboortelike depressie aanleiding gee. Dit sluit in:
1. ’n Vrou se eie idees oor moederskap, wat die gevolg kan wees van ongelukkige kinderjare en ’n swak verhouding met haar ouers.
2. ’n Samelewing wat te veel van moeders verwag.
3. ’n Familiegeskiedenis van depressie.
4. ’n Ongelukkige huwelikslewe en ’n gebrek aan ondersteuning deur ’n vrou se naaste familie of haar uitgebreide familie.
5. ’n Swak selfbeeld.
6. ’n Gevoel dat sy haar afsloof of oorweldig word omdat sy voltyds vir klein kindertjies moet sorg.
Hierdie lys is geensins volledig nie. Ander faktore kan ook tot nageboortelike depressie aanleiding gee. Om die waarheid te sê, die oorsake word nog nie heeltemal verstaan nie.
[Venster op bladsy 21]
Dit is meer as net “bababedruktheid”
Nageboortelike depressie moenie verwar word met gewone luimveranderinge ná ’n bevalling nie. Dr. Laura J. Miller sê: “Die algemeenste luimverandering ná ’n bevalling staan bekend as ‘bababedruktheid’ (baby blues). . . . Ongeveer 50% van vroue wat geboorte gee, ondervind hierdie tranerige, emosioneel labiele (d.w.s. veranderlike) toestand. Dit bereik gewoonlik ’n hoogtepunt tussen die derde en vyfde dag ná die geboorte en word dan in die daaropvolgende weke geleidelik beter.” Navorsers sê dat hierdie buie dalk die gevolg is van veranderinge in ’n vrou se hormoonvlakke nadat sy geboorte gegee het.
Anders as in die geval van “bababedruktheid” voel iemand met nageboortelike depressie die hele tyd depressief, en dit kan met die geboorte van ’n kind of selfs weke of maande later begin. ’n Nuwe moeder wat hieraan ly, voel dalk een oomblik opgeruimd en die volgende oomblik depressief—of oorweeg selfs selfmoord. Daarbenewens is sy moontlik geïrriteerd, gegrief en kwaad. Sy voel dalk voortdurend dat sy as ’n moeder onbevoeg is en dat sy nie lief is vir haar baba nie. Dr. Miller sê: “Party klinies depressiewe moeders weet dat hulle hulle baba liefhet, en tog is dit vir hulle moeilik om nie onverskillig of geïrriteerd te voel of ’n afkeer vir die baba te hê nie. By ander kom die gedagte op om hulle baba kwaad aan te doen of selfs dood te maak.”
Nageboortelike depressie is ’n verskynsel met ’n lang geskiedenis. Reeds in die vierde eeu v.G.J. het die Griekse geneesheer Hippokrates opgemerk dat sommige vroue ná ’n bevalling dramatiese psigologiese veranderinge ondergaan. ’n Studie wat in die Brazilian Journal of Medical and Biological Research gepubliseer is, het verduidelik: “Nageboortelike depressie is ’n ernstige probleem wat 10-15% van die moeders in baie lande raak.” Maar ongelukkig “word die meeste gevalle van hierdie depressie nie reg gediagnoseer of behoorlik behandel nie”, het die Journal gesê.
’n Minder algemene maar ernstiger versteuring wat ná ’n bevalling voorkom, is nageboortelike psigose. ’n Vrou wat hieraan ly, kry dalk hallusinasies, hoor stemme en verloor kontak met die werklikheid, hoewel sy soms ure of dae lank rasioneel kan optree. Die oorsake van hierdie psigose is nog onduidelik, maar dr. Miller sê dat “genetiese vatbaarheid, wat miskien deur hormoonveranderinge veroorsaak word, blykbaar die belangrikste faktor is”. ’n Bekwame mediese deskundige sal moontlik nageboortelike psigose doeltreffend behandel.
[Venster/Prente op bladsy 22]
Hoe om jouself te helpb
1. Kry professionele hulp as depressie voortduur. Hoe gouer jy dit doen, hoe gouer kan jy beter word. Soek ’n simpatieke dokter wat met hierdie toestand bekend is. Moenie dink dat dit ’n skande is om nageboortelike depressie te hê of medikasie te neem nie.
2. Oefen gereeld. Studies het getoon dat gereelde oefening ’n doeltreffende terapie vir depressie kan wees.
3. Sê vir dié wat die naaste aan jou is, hoe jy voel. Moet jou nie afsonder of jou gevoelens opkrop nie.
4. Onthou dat jy nie ’n volmaakte huisvrou hoef te wees nie. Probeer jou lewe eenvoudig hou deur te konsentreer op dít wat belangrik is.
5. Bid vir moed en geduld. As dit vir jou moeilik is om te bid, kan jy iemand vra om saam met jou te bid. As jy aanhou om skuldig of niks werd te voel, sal dit net die herstelproses vertraag.
[Voetnoot]
b Ontwaak! beveel nie enige spesifieke soort behandeling aan nie. Die wenke vir vroue sowel as mans, wat in hierdie artikel uiteengesit word, dek nie elke situasie nie, en sommige punte is in sekere gevalle dalk nie eers van toepassing nie.
[Venster op bladsy 23]
Wenke vir mans
1. Onthou dat nageboortelike depressie nie jou vrou se skuld is nie. As haar toestand voortduur, moet jy saam met haar ’n dokter soek wat die probleem verstaan en simpatiek is.
2. Luister geduldig na jou vrou. Erken haar gevoelens. Moenie kwaad word omdat sy so negatief is nie. Help haar liefdevol om die positiewe sy van sake te sien, en verseker haar dat sy beter sal word. Moenie dink dat jy al die probleme wat sy noem, moet oplos nie. Sy soek moontlik net vertroosting, nie logiese antwoorde nie (1 Tessalonisense 5:14). Hou in gedagte dat dit vir vroue wat aan nageboortelike depressie ly, moeilik is om logies en helder te dink.
3. Bestee minder tyd aan onbelangrike bedrywighede sodat jy meer tyd het om jou vrou te ondersteun. Sodoende sal sy moontlik vinniger gesond word.
4. Sorg dat jy vir jouself tyd maak. As jy fisies, verstandelik en geestelik gesond is, sal jy jou vrou beter kan ondersteun.
5. Soek iemand om mee te praat wat jou sal aanmoedig, miskien ’n geestelik volwasse man wie se vrou ook aan nageboortelike depressie gely het.
[Prent op bladsy 23]
Die Marshall-gesin