Verstaan nageboortelike depressie
Wat is verkeerd met my? Ek het pas geboorte gegee aan ’n pragtige, gesonde baba. Ek behoort gelukkig en trots te wees, maar ek voel so neerslagtig en angstig, selfs kwaad. Is ek ’n slegte ma? Waarom is ek so depressief?
AS ’N nuwe moeder het jy moontlik ook al sulke gevoelens ervaar. Indien wel, is jy nie die enigste een nie. Volgens skattings ervaar 70 tot 80 persent van nuwe moeders soms sulke gevoelens. Maar wat is nageboortelike depressie (ND), en wat is die oorsake daarvan? Hoe kan jy met ND saamleef? Watter ondersteuning kan gesinslede en ander gee?
Versteurings
Die term “nageboortelike depressie” verwys na episodes van depressie ná bevalling. Dit kan voorkom ná die geboorte van enige kind, nie net die eerste nie. Episodes van depressie kan selfs ná ’n miskraam of die beëindiging van ’n swangerskap ondervind word. Volgens die Kantoor vir Vrouegesondheid van die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste kan die graad van die simptome baie wissel.
Talle vroue ondervind nageboortelike bedruktheid, of bababedruktheid (baby blues), wat gekenmerk word deur matige neerslagtigheid, angs, prikkelbaarheid, luimveranderinge en moegheid. Hierdie tye van bedruktheid word as normaal beskou en is van korte duur; dit gaan binne sowat tien dae ná die bevalling vanself weg sonder dat mediese hulp nodig is.
Maar die Amerikaanse Kollege van Verloskundiges en Ginekoloë skat dat hierdie gevoelens by 1 uit 10 nuwe moeders vererger en langer as die eerste paar dae duur. Dit kan selfs etlike maande ná die geboorte kop uitsteek. Dit kan ten volle ontwikkelde nageboortelike depressie wees, waartydens die gevoelens van neerslagtigheid, angs of wanhoop so intens is dat dit vir die nuwe moeder moeilik is om haar dagtake te verrig.
Daarbenewens ly tussen 1 en 3 nuwe moeders uit elke 1 000 aan ’n selfs ernstiger vorm van depressie wat bekend staan as nageboortelike psigose, waartydens die moeder delusies of hallusinasies kry waarin sy dikwels haarself of haar baba wil seermaak. Hierdie toestand vereis onmiddellike mediese behandeling.a
Oorsake
Die presiese oorsaak van nageboortelike depressie is nog onbekend. Fisiese sowel as emosionele faktore speel blykbaar ’n rol. Een fisiese faktor is moontlik dat die estrogeen- en progesteroonvlak in die eerste 24 tot 48 uur ná bevalling skerp daal, tot laer as wat dit voor bevrugting was, wat ’n skielike verandering in die fisiologiese toestand van die liggaam teweegbring. Dit kan aanleiding gee tot depressie op min of meer dieselfde manier as wat luimveranderinge en spanning voor maandstonde ontwikkel. Ná bevalling skei die skildklier moontlik ook minder hormone af. Dit kan simptome veroorsaak wat met dié van depressie ooreenkom. Om hierdie redes noem navorsers ND ’n “biochemiese en hormoonversteuring”.
Dit is interessant dat een mediese nuusbrief sê dat nageboortelike depressie moontlik veroorsaak word deur ’n voedingswanbalans, miskien ’n tekort aan vitamien B-kompleks.
Moegheid en ’n gebrek aan slaap kan ook ’n rol speel. Dr. Steven I. Altchuler, ’n psigiater by die Mayo-kliniek in Minnesota, VSA, sê: “In die tyd kort ná bevalling kan ’n gebrek aan energie en slaaploosheid klein probleme baie groter laat lyk. Party vroue voel dalk gefrustreerd omdat hulle sekere dinge nou moeilik vind waarmee hulle glad nie probleme gehad het voor hulle bevalling nie, toe hulle nie bababedruktheid gehad het nie en ’n goeie nagrus gekry het.” Emosionele faktore soos ’n onbeplande swangerskap, ’n vroeggeboorte, die verlies van vryheid, kommer oor haar voorkoms en ’n gebrek aan ondersteuning kan ook tot depressie bydra.
Daarbenewens is daar verskeie algemene mites oor moederskap wat daartoe kan bydra dat ’n vrou depressief raak en voel dat sy ’n mislukking is. Dit sluit die idee in dat moederskapvaardighede instinktief is, dat die band tussen ’n moeder en haar kind onmiddellik gevorm moet word, dat die baba volmaak en nooit neulerig sal wees nie en dat die nuwe moeder volmaak moet wees. In die werklike lewe is dit nie die geval nie. Moederskapvaardighede moet aangeleer word, dit neem gewoonlik tyd voor die band tussen ’n moeder en haar kind gevorm word, party babas is makliker om te versorg as ander en geen moeder is volmaak of ’n superma nie.
Die siekte kry erkenning
Tot onlangs toe is nageboortelike depressie dikwels nie ernstig opgeneem nie. Dr. Laurence Kruckman sê: “Kwessies in verband met vroue se geestesgesondheid is geïgnoreer en in die verlede as histerie beskou, iets wat nie aandag verdien nie. Die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se diagnostiese handboek (DSM IV) het nageboortelike siektes nog nooit ten volle erken nie, en gevolglik is dokters nie daaroor ingelig nie en is geen betroubare inligting daaroor ingewin nie. . . . En anders as 30 jaar gelede word moeders dikwels binne 24 uur uit die hospitaal ontslaan. Die meeste gevalle van nageboortelike psigose, bedruktheid en party vorme van depressie begin eers binne drie tot 14 dae ná die bevalling. Die moeders is dus alreeds by die huis en kan nie gediagnoseer word deur mediese personeel wat die simptome ken nie.”
Maar volgens dr. Carol E. Watkins van die Psigiatriese Vennote van die Noordelike Distrik in Baltimore, Maryland, kan nageboortelike depressie tot langtermyndepressie lei en dit vir die moeder moeiliker maak om ’n band met haar baba te vorm as dit nie gediagnoseer en behandel word nie. Depressiewe moeders sal moontlik óf hulle baba se behoeftes eenvoudig ignoreer óf beheer verloor en fisiese straf gebruik om hulle babas te dissiplineer. Dit kan ’n nadelige uitwerking op die kind se kognitiewe en emosionele ontwikkeling hê.
’n Artikel in die tydskrif American Family Physician het byvoorbeeld gesê dat jong kinders van depressiewe moeders swakker vaar in kognitiewe toetse as ander kinders. Daarbenewens kan nageboortelike depressie ’n nadelige uitwerking hê op die ander kinders en haar man.
Behandeling
Wat kan gedoen word? Moet jy maar net vasbyt? Dit is gerusstellend om te weet dat nageboortelike depressie tydelik is en behandel kan word.b As die simptome matig is, is rus en die ondersteuning van jou gesin dalk al wat nodig is, maar as die depressie jou vermoë ontwrig om te funksioneer, is dit ’n duidelike teken dat jy mediese aandag nodig het, sê die Kantoor vir Vrouegesondheid.
Algemene vorme van behandeling is antidepressante,c om met ’n geestesgesondheidsdeskundige te praat, hormoonbehandeling of ’n kombinasie van hierdie behandelings, afhangende van die graad van die depressie. Kangaroe-versorging, oftewel vel-teen-vel-versorging, van die baba kan ook die moeder se depressie verlig.d Daar is ook alternatiewe behandelings soos kruie, akupunktuur en homeopatiese middels.
Daar is egter sekere dinge wat jy persoonlik kan doen om met hierdie situasie saam te leef. Dit sluit in dat jy ’n voedsame dieet volg (insluitende vrugte, groente en volgraankossoorte); kafeïen, alkohol en suiker vermy; matige oefeninge doen en ’n uiltjie knip wanneer jou baba slaap. Zoraya, ’n Christenmoeder wat ná die geboorte van haar gesonde babadogtertjie dae lank sonder ophou gehuil het, sê dat sy gehelp is om oor haar depressie te kom deur so gou as moontlik weer haar normale bedrywighede as een van Jehovah se Getuies te hervat.—Sien die bygaande venster vir verdere wenke.
Hoe kan ander help?
Aangesien ’n belangrike rede vir nageboortelike depressie ’n gebrek aan behoorlike rus is, kan ander mense help deur van die huishoudelike takies te doen en hand by te sit met die versorging van die kind. Studies toon dat baie minder gevalle van nageboortelike depressie voorkom waar die uitgebreide familie ondersteuning en opleiding gee. Dikwels kan iemand van groot hulp wees deur net simpatiek te luister, die nuwe moeder gerus te stel en haar nie te kritiseer of te oordeel nie. Onthou, ND is ’n siekte en nie iets wat ’n moeder oor haarself bring nie. Volgens die organisasie Nageboortelike Opvoeding vir Ouers “kan ’n vrou haar nie eenvoudig ‘regruk’ nie, net soos sy dit nie kan doen as sy griep, suikersiekte of hartsiekte het nie”.
Hoewel die tyd ná die geboorte wonderlik vir nuwe moeders kan wees, is dit uit die voorgaande duidelik dat dit ook baie spanningsvol kan wees. As ons dit verstaan, kan dit ons help om nuwe moeders die ondersteuning te gee wat hulle nodig het.
[Voetnote]
a Nageboortelike depressie moet nie met posttraumatiese stresversteuring verwar word nie, wat party moeders ná ’n moeilike bevalling ondervind, hoewel hierdie toestande saam kan voorkom.
b Sien die artikel “Ek het my stryd teen nageboortelike depressie gewen” in die Ontwaak! van 22 Julie 2002.
c Omdat sommige middels moedersmelk kan besmet, moet jy jou dokter raadpleeg vir die geskikste behandeling as jy wil borsvoed.
d Sien die artikel “‘Kangaroe-moedersorg’—’n Oplossing vir ’n lewensgevaarlike probleem?” in die Ontwaak! van 8 Junie 2002.
[Venster/Prente op bladsy 23]
Wenke om met nageboortelike depressie saam te leef
1. Praat met iemand oor jou gevoelens, veral ander moeders.
2. Vra ander om jou te help met die versorging van die kind sowel as met huishoudelike en ander takies. Vra jou man om snags te help wanneer die kind gevoed moet word en hand by te sit met huishoudelike takies.
3. Maak tyd om iets positiefs vir jouself te doen, selfs al is dit net 15 minute per dag. Lees ’n bietjie, gaan stap of neem ’n ontspannende bad.
4. Selfs al kan jy net een ding op enige gegewe dag gedoen kry, is dit ’n stap in die regte rigting. Daar sal dalk dae wees waarop jy niks gedoen kry nie. Probeer om nie vir jouself kwaad te wees wanneer dit gebeur nie.
5. Afsondering laat depressie dikwels voortduur. Trek jou aan, en kom ten minste ’n kort rukkie elke dag uit die huis uit. Vars lug en ’n verandering van omgewing sal jou en jou baba die wêreld se goed doen.
[Erkenning]
Aangepas uit die Amerikaanse Akademie van Gesinsgeneeshere, die Amerikaanse Kollege van Verloskundiges en Ginekoloë en die Kantoor vir Vrouegesondheid.