Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 7/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oneerlike werksaansoeke
  • Olifante wat van olie hou
  • Bestuurvermoeidheid
  • Amerikaanse vuurwapenverkope neem toe
  • Geestesiekte eis ’n “skrikwekkende” tol
  • Volwassenes wat aan waterpokkies sterf
  • Meer gelowiges in Slowakye?
  • Viermiljard honger teen 2050
  • Waarom mans vroeër sterf
  • Olifante—Vriende of vyande?
    Ontwaak!—1994
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
  • Motorongelukke—Is jy veilig?
    Ontwaak!—2002
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 7/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Oneerlike werksaansoeke

“Een uit vier mense is oneerlik wanneer hulle vir ’n werk aansoek doen”, berig die Financial Times van Londen. Gedurende ’n tydperk van 12 maande het die sekuriteitsmaatskappy Control Risks Group die werksaansoeke van 10 435 kandidate vir poste in die finansiëledienste- en inligtingstegnologiesektor nagegaan en “valse inligting in aansoeke op alle vlakke gevind”, sê die koerant. “Sowat 34 persent van die aansoeke het teenstrydighede in werksgeskiedenis bevat, terwyl 32 persent van die aansoekers hulle akademiese kwalifikasies oordryf of vervals het. Altesaam 19 persent het ’n slegte kredietgeskiedenis of bankrotskap probeer wegsteek, en 11 persent het persoonlike inligting weggelaat.” Diegene wat oorsee gewoon het, was meer geneig om oneerlik te wees oor hulle kredietgeskiedenis omdat hulle klaarblyklik gedink het dat dit nie aan die lig sou kom nie, en ‘aansienlik meer mans as vroue het inligting vervals’. Tim Nicholson, van die Werwings- en Werkverskaffingskonfederasie, bevestig die bevindinge van die studie en sê verder: “As werwers sommer glo wat op ’n stuk papier geskryf staan, het hulle nie hulle werk behoorlik gedoen nie.”

Olifante wat van olie hou

Olifante in Digboi in die noordooste van Indië hou baie van olie. “Die olifante loop vryelik in die olievelde rond en maak dikwels belangrike kleppe oop in die pyplyne wat die boorgate met die raffinadery verbind”, sê Ramen Tsjakrawarti, ’n senior ingenieur by Oil India Limited. “Die olifante hou blykbaar van die geluid wanneer ’n klep oopgemaak word, veral dié wat stoom reguleer en keer dat ruolie in paraffien omgesit word.” Die olifante hou blykbaar nie net van die “sisgeluid” wanneer die olie uitspuit nie, maar dit lyk ook of hulle na olieboorgate gelok word omdat “modder en water saam met die ruolie uitkom”, berig die koerant Indian Express. “Die water is souterig, en olifante hou daarvan.” Dit is interessant dat olie as gevolg van ’n olifant daar ontdek is. Toe die dier na die kamp toe teruggekeer het, nadat hy spoorstawe vir die eerste spoorlyn in die gebied aangedra het, het Britse amptenare gesien dat daar olie aan sy bene is en sy spoor tot by ’n borrelende olieput gevolg. Dit het daartoe gelei dat Asië se eerste olieboorgat in 1889 geopen is.

Bestuurvermoeidheid

“Bestuurders wat moeg is, veral wanneer hulle alkohol gebruik het, loop ’n besondere groot gevaar om ’n padongeluk te veroorsaak wat sterftes of ernstige beserings tot gevolg het”, berig die British Medical Journal. Navorsers in Bordeaux, Frankryk, het bevind dat bestuurvermoeidheid verantwoordelik was vir tot 20 persent van die ongelukke op hoofweë. Selfs onder goeie bestuurstoestande was vermoeidheid ’n faktor by 10 persent van die ernstige ongelukke waarby net een voertuig betrokke was. Volgens professor Jim Horne, hoof van die Slaapnavorsingsentrum by die Universiteit van Loughborough, in Engeland, is die middag een van die gevaarlikste tye vir bestuurders. “Ons is ontwerp om twee slaapperiodes te hê”, sê hy, “een snags en een in die middag, om en by 2 nm. tot 4 nm.” Wat moet ’n bestuurder doen as hy lomerig voel? Rus ’n bietjie. “Om die venster oop te maak of die radio aan te skakel, help net tydelik”, sê Horne. “Dit sal die beste wees om op ’n veilige plek te stop en om 15-20 minute lank te slaap.” Die probleem is dat baie bestuurders aanhou bestuur al voel hulle lomerig. The Sunday Times van Londen sê: “Die volgende keer wanneer jy bestuur en jy begin gaap, jou ooglede swaar word of jy sukkel om te konsentreer, moet jy onthou dat dit noodlottig kan wees as jy hierdie gevaarteken ignoreer.”

Amerikaanse vuurwapenverkope neem toe

“Vuurwapen- en ammunisieverkope het sedert 11 Sept. oor die hele land skerp toegeneem namate meer Amerikaners doen wat baie beskou as die mees persoonlike stap om veiliger te voel: hulle bewapen hulle”, sê The New York Times. “Daar is ’n bestendige stroom ernstige mense wat vir die eerste keer ’n vuurwapen koop.” Party vuurwapenvervaardigers het munt geslaan uit die krisis deur patriotiese slagspreuke en prente te gebruik om nuwe kopers te lok. Maar baie amptenare is verontrus oor die vinnige toename in die verspreiding van dodelike wapens. “Ons is altyd besorg oor die aantal vuurwapens wat beskikbaar en in die publiek se besit is, wat wetstoepassing onmoontlik maak”, sê William B. Berger, die polisiehoof van North Miami Beach. Statistiek toon dat vuurwapens wat deur wetsgehoorsame mense gekoop word, soms in die hande van misdadigers beland. Vuurwapenbeheergroepe spoor mense aan om twee keer te dink voordat hulle ’n vuurwapen koop.

Geestesiekte eis ’n “skrikwekkende” tol

“Geestesiektes en neurologiese versteurings eis wêreldwyd ’n skrikwekkende tol”, sê dr. Gro Harlem Brundtland, die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). ’n Onlangse verslag deur die WGO toon dat geestesiektes “wêreldwyd onder die vernaamste oorsake van slegte gesondheid en ongeskiktheid is”. Ongeveer 450 miljoen mense in die wêreld ly tans aan geestesiektes of neurologiese versteurings, sê die verslag. Hoewel die meeste neurologiese versteurings behandel kan word, soek byna twee derdes van die mense wat aan ’n bekende geestesiekte ly, nooit professionele hulp nie weens diskriminasie, stigma, te min geld of onvoldoende gesondheidsorg.

Volwassenes wat aan waterpokkies sterf

“Al hoe meer volwassenes sterf aan waterpokkies, een van die algemeenste kindersiektes”, sê die Londense koerant The Independent. Syfers wat in die British Medical Journal gepubliseer is, toon dat 48 persent van diegene wat in die vroeë 1970’s aan waterpokkies gesterf het, volwassenes was, terwyl die syfer teen 2001 tot 81 persent gestyg het. Professor Norman Noah, van die Londense Skool vir Higiëne en Tropiese Geneeskunde waarsku: “Hierdie studie bevestig dat ’n aansienlike aantal volwassenes aan waterpokkies sterf . . . Ons skatting van 25 sterfgevalle per jaar [in Engeland en Wallis] is waarskynlik te laag. . . . As volwassenes waterpokkies kry, moet hulle besef dat dit anders as die kindersiekte is. Dit is gevaarliker vir hulle, en hulle moet baie vroeër na ’n dokter toe gaan.” Mans tussen die ouderdomme van 15 en 44 loop die grootste gevaar.

Meer gelowiges in Slowakye?

Die sensus van 2001 in Slowakye het getoon dat ongeveer 84 persent van die Slowake nou sê dat hulle aan ’n godsdiens behoort. Volgens die sosioloog Ján Bunčák is dit hoofsaaklik ’n teken van ’n “diep sosiale konformisme”. Hoewel godsdiens gedurende die Kommunistiese tydperk onderdruk is, word dit nou as “gepas” en “normaal” beskou om aan ’n godsdiens te behoort. Maar “baie van hulle glo glad nie in God nie”, sê Bunčák. Hy lewer kommentaar oor die algemene situasie in Europa en voeg by: “Die meeste mense bely die een of ander godsdiens. . . . Mense sê dat hulle ’n godsdiens het, maar terselfdertyd wil hulle nie hê dat dit te veel op hulle lewe moet inbreuk maak nie.”

Viermiljard honger teen 2050

Volgens die jaarlikse verslag van die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds sal die bevolkingsaanwas in ontwikkelende lande die wêreld se bevolking teen die jaar 2050 na verwagting tot 9,3 miljard laat toeneem. Daar word geskat dat 4,2 miljard van hierdie mense in lande sal woon waar hulle basiese behoefte aan kos en water nie vervul sal kan word nie. Dit is twee keer die aantal mense wat reeds nie genoeg kos het nie. “Die verslag toon dat armoede en vinnige bevolkingsaanwas ’n dodelike kombinasie is”, het Thoraja Obaid, die uitvoerende direkteur van die fonds, verduidelik. “Die armes is meer direk afhanklik van natuurlike hulpbronne soos beskikbare grond, hout en water, en tog ly hulle die swaarste as die omgewing agteruitgaan. . . . Terwyl sommige van ons hulpbronne kwistig gebruik, het ander nie genoeg om aan die lewe te bly nie.”

Waarom mans vroeër sterf

“’n Man se lewe is ’n swaar lewe: mans word vroeër siek en sterf vroeër.” Hierdie sombere prentjie is geskets deur die organiseerders van die eerste Wêreldkongres oor Mansgesondheid, wat in Wene, Oostenryk, gehou is. Die Duitse koerant Süddeutsche Zeitung berig dat hulle geskok was oor die feit dat mans gemiddeld vyf jaar vroeër as vroue sterf. Waarom sterf mans vroeër? Om maar een ding te noem, dit is meer waarskynlik dat hulle strawwe rokers of drinkers is. Ooretery en ’n gebrek aan oefening is ander groot risikofaktore—70 persent van middeljarige mans is glo oorgewig. Daarbenewens ly baie weens die druk wat daarmee gepaardgaan om ’n balans tussen hulle werk en gesin te handhaaf. En mans is minder geneig om dokter toe te gaan wanneer hulle siek is of om voorkomende gesondheidsorg toe te pas. Siegfried Meryn, een van die kongres se organiseerders, het ter opsomming gesê: “Medies gesproke is mans beslis slegter daaraan toe.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel