Van ons lesers
Artritis Ek is diep geraak deur die reeks “Hoop vir artritislyers” (8 Desember 2001). Ek is 21 jaar oud en ly al byna 15 jaar lank aan gevorderde artritis en die gevolge daarvan. Hierdie reeks het my werklik aangemoedig, en dit het my meer vasbeslote gemaak om te volhard.
A. F., Frankryk
Ek dien as ’n voltydse evangeliedienaar, ’n voorreg wat ek waardeer, maar wat dag na dag vir my al hoe moeiliker word. My toestand is as osteoartritis gediagnoseer. Ek het elke dag pyn, en soms laat die frustrasie my terneergedruk voel. Dankie vir hierdie tydige artikel en die herinnering dat ons werklik vertroos word wanneer ons geloof stel in Jehovah se belofte van ’n nuwe wêreld.
H.M.A., Verenigde State
Ek het rumatoïede artritis en is besig om van ’n ernstige rumatiekaanval te herstel. Hierdie artikels het duidelik beskryf hoe pynlik dit is wanneer iemand hierdie siekte het. Dit was goed om meer hiervan te leer en uit te vind wat gedoen kan word om die simptome te verlig.
G.F.F., Portugal
Ek is 21 jaar oud en was maar 10 toe ek uitgevind het dat ek rumatoïede artritis het. Ek het al baie ondervindinge in mediese tydskrifte gelees, maar niks kan vergelyk word met wat ek gelees het oor my geestelike broers en susters wat dieselfde as ek deurmaak nie. Soos Katia, wat in die artikels genoem is, kon ek nie met my loopbaan as ’n voltydse evangeliedienaar voortgaan nie. Dit het vir my so baie beteken om te lees hoe ander hulle frustrasies en skuldgevoelens verwerk omdat hulle nie meer kan doen in Jehovah se diens nie.
H. M., Verenigde State
’n Jaar gelede, toe ek 24 was, is ek met chroniese rumatoïede artritis gediagnoseer. Ek moes die voltydse diens prysgee. Ek het baie mismoedig geword. Weens die geweldige pyn en moegheid kan ek nou net die helfte doen van wat ek gewoonlik gedoen het. Hierdie artikel het my vertroos omdat ek besef dat ander dieselfde fisiese en emosionele pyn deurmaak. Ek het ook gehou van die praktiese raad om te doen wat ek kan. Ek sien uit na die dag wanneer ‘die kreupele net soos ’n takbok sal klim’.—Jesaja 35:6.
T. U., Japan
’n Jaar gelede het van my gewrigte geweldig begin pyn. Aangesien ek middeljarig is, sou ek nooit gedink het dat dit artritis is nie. Julle artikel het my gehelp om te sien hoe belangrik dit is om gebalanseerd en redelik te wees en nie te veel van myself te verwag nie.
B. P., Verenigde State
Ek is 19 jaar oud en het rumatiek in my handgewrigte, enkels en knieë. Ek het veral die onderhofie “Neem jou beperkings in ag” waardeer. Ek het van die Verenigde State af gekom om hier in Ecuador as ’n voltydse evangeliedienaar te dien. Maar omdat ek swak is, moeg word en pyn verduur, kan ek nie lank in die bediening uitgaan nie. Ek het besluit om huis toe te gaan vir behandeling, en ek hoop om terug te kom wanneer ek weer gesond is.
J. S., Ecuador
Fêng sjoei Dankie vir die artikel “Fêng sjoei—Is dit vir Christene?” (8 Desember 2001). Ek is ’n binnenshuise ontwerper en is onlangs deur ’n kliënt gevra om fêng sjoei in die ontwerp te gebruik. Ek was huiwerig, omdat ek nie veel van hierdie gebruik geweet het nie. Die artikel het net betyds gekom! Nou het ek besluit om nie by hierdie ontwerpfilosofie betrokke te raak nie.
C. V., Verenigde State