Die ontwykende selakant
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
IN April 2001 is ’n selakantwyfie naby die kus van Kenia gevang.a Die vis was 1,7 meter lank en het 77 kilogram geweeg. Die selakant kan uitgeken word aan sy drielobbige stert en blou kleur met wit kolle.
Vroeër is daar gedink dat die selakant lank reeds uitgesterf het. Toe, in 1938, is ’n selakant naby die Suid-Afrikaanse kus gevang. Dit was een van die merkwaardigste dierkundige ontdekkings van die 20ste eeu. Tot op daardie stadium was die fossielverslag die enigste bron van inligting oor die vis. Sedertdien is ander selakante naby Mosambiek en Madagaskar gesien. Groot bevolkings is ook by die Comoro-eilande gevind.
Selakantwyfies lê nie eiers wat in die water uitbroei nie. Hulle is ovovivipaar—wat beteken dat die eiers ontwikkel en uitbroei binne-in die wyfie se liggaam of uitbroei onmiddellik ná die eiers uitgestoot is. Sewentien van hierdie eiers—elk so groot soos ’n tennisbal—is uit die wyfie gehaal wat verlede jaar gevang is.
Seediere soos die selakant verheerlik die skeppingsvermoë en wysheid van hulle Skepper, Jehovah God.—Psalm 148:7.
[Voetnoot]
a Die naam selakant is afgelei van die Griekse woorde koilos (holte) en akantha (doringuitsteeksel), wat die vis se hol vinstrale beskryf.
[Foto-erkenning op bladsy 23]
Foto en tekeninge: Ichthyology Department/NATIONAL MUSEUMS OF KENYA