Die klereslaners van Bamako
IN Bamako, die hoofstad van die Wes-Afrikaanse land Mali, kan ’n reëlmatige ritmiese slag die hele dag gehoor word. Dit is egter nie musikante wat hiervoor verantwoordelik is nie. Hierdie geluid, wat klink soos tromme wat geslaan word, kom van die hutjies van die klereslaners. Maar waarom sal enigiemand klere wil slaan?
Die klereslaners is die laaste stap in ’n unieke tekstielproses. Dit begin alles met ’n wit lap of ’n kledingstuk. Gewoonlik word dit in ’n verskeidenheid kleure en patrone gekleur. Dan word dit in ’n dik oplossing van gepoeierde kasawewortel of sap van verskillende gombome gedoop. Nadat die materiaal in die son gedroog is, word dit stokstyf. Op hierdie stadium is dit gereed vir die laaste stap—die klereslaners.
Die hooftaak van die klereslaners is om die stywe materiaal te slaan totdat dit kreukelvry is. In hulle hutjies sal jy gewoonlik twee jong mans vind wat regoor mekaar sit; tussen hulle is ’n stomp van ’n botterneutboom. Die mans smeer ’n bietjie was aan die materiaal en sprei dit oor die stomp uit. Dan slaan hulle die materiaal met groot hamers wat ook van die hout van die botterneutboom gemaak is. Hulle werk soos een man saam en slaan elkeen die materiaal om die beurt waar die ander een gemis het.
Waarom gebruik hulle nie net ’n strykyster nie? Om maar een ding te noem, die hitte van ’n strykyster sal die materiaal gouer laat verbleik. Met ’n strykyster sal die kleure ook nie so helder wees as wat die klereslaners dit maak nie. Dit is omdat elke hou van die hamer ’n blink glans agterlaat wat die kleur laat uitstaan. Nadat die materiaal goed geslaan is, kan dit so helder lyk dat jy sou dink dit is pas geverf.
As jy dus deur die strate van hierdie stad loop en klanke hoor wat soos die reëlmatige slag van tromme klink, kyk goed na die hutte om jou. Die klanke kom dalk glad nie van tromme nie; dit kan die klereslaners van Bamako wees.