Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 7/22 bl. 21-23
  • Praat Afrikatromme werklik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Praat Afrikatromme werklik?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die taal van die trom
  • Hoe daar deur middel van gleuftromme gepraat word
  • Die tromme wat beter as al die ander praat
  • “Die trom met ’n duisend gedaantes”
    Ontwaak!—2003
  • ‘As ek maar so kon speel!’
    Ontwaak!—1991
  • Die dansende duiwels van Yare
    Ontwaak!—1998
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1998
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 7/22 bl. 21-23

Praat Afrikatromme werklik?

Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië

TERWYL die ontdekkingsreisiger Henry Stanley in 1876-77 met die Kongorivier afgereis het, het hy min kans gehad om na te dink oor die waarde van die plaaslike trommespel. Vir hom en sy medereisigers kon die boodskap van die tromme gewoonlik in een woord opgesom word: oorlog. Die dowwe gedreun wat hulle gehoor het, het beteken dat hulle enige oomblik aangeval sou word deur wrede krygsmanne wat met spiese gewapen was.

Dit was eers in latere, vreedsamer tye dat Stanley geleer het hoeveel méér tromme kon oordra as om mense net tot die stryd te roep. Stanley het een etniese groep beskryf wat langs die Kongo gewoon het en geskryf: “[Hulle] gebruik nog nie elektriese seine nie, maar besit egter ’n kommunikasiestelsel wat net so doeltreffend is. Hulle reusagtige tromme wat op verskillende plekke geslaan word, praat ’n taal wat vir die ingewyde net so verstaanbaar is soos vokale spraak.” Stanley het besef dat die tromslaners baie meer as net ’n sein van ’n beuel of ’n sirene gestuur het; tromme kon spesifieke boodskappe oordra.

Sulke boodskappe kon van dorp na dorp oorgedra word. Party tromme kon op ’n afstand van 8 tot 11 kilometer gehoor word, veral as hulle snags vanaf ’n drywende vlot of ’n heuweltop geslaan is. Ander tromslaners wat van ver af na die boodskappe geluister het, het dit verstaan en aan ander oorgedra. Die Engelse reisiger A. B. Lloyd het in 1899 geskryf: “Daar is aan my vertel dat ’n boodskap in minder as twee uur van een dorp na ’n ander, oor ’n afstand van meer as 100 myl [160 km], gestuur kan word, en ek glo nogal dat dit moontlik is om dit in baie minder tyd te doen.”

Tot diep in die 20ste eeu het tromme steeds ’n belangrike rol gespeel in die oordraging van inligting. Die boek Musical Instruments of Africa, wat in 1965 uitgegee is, het gesê: “Pratende tromme word as telefone en telegrawe gebruik. Allerhande boodskappe word gestuur—om geboortes, sterfgevalle en huwelike aan te kondig; sportgeleenthede, danse en inwydingseremonies; regeringsboodskappe en oorlog. Partykeer dra die tromme skindernuus of grappe oor.”

Maar hoe het die tromme gekommunikeer? In Europa en op ander plekke is boodskappe deur middel van elektriese impulse oor telegraaflyne gestuur. Elke letter van die alfabet is sy eie kode toegewys sodat woorde en sinne letter vir letter uitgespel kon word. Die volke van Sentraal-Afrika het egter geen geskrewe taal gehad nie; dus het die tromme nie woorde uitgespel nie. Afrikatromslaners het ’n ander stelsel gebruik.

Die taal van die trom

Die sleutel om tromkommunikasie te verstaan, lê in die Afrikatale self. Baie tale van Sentraal- en Wes-Afrika bestaan hoofsaaklik uit twee tone—elke lettergreep van elke gesproke woord het een van twee basiese tone, hoog of laag. ’n Verandering van toon verander die woord. Beskou byvoorbeeld die woord lisaka, uit die Kele-taal van Zaïre. Wanneer al drie lettergrepe op ’n lae toon uitgespreek word, beteken die woord “poel of moeras”; ’n laag-laag-hoog-uitspraak van die lettergrepe beteken “belofte”; ’n laag-hoog-hoog-intonasie beteken “gif”.

Die Afrikagleuftromme wat gebruik word om boodskappe te stuur, het ook twee tone, hoog en laag. Wanneer tromme wat met vel oorgetrek is boodskappe stuur, word hulle eweneens in pare gebruik, met een trom wat ’n hoë toon het en die ander ’n lae toon. ’n Vaardige tromslaner kommunikeer dus deur die toonpatroon van woorde wat die gesproke taal uitmaak na te boots. Die boek Talking Drums of Africa sê: “Hierdie so genoemde tromtaal is wesenlik dieselfde as die gesproke taal van die stam.”

Natuurlik het ’n taal met twee tone gewoonlik baie woorde met identiese tone en lettergrepe. In die Kele-taal, byvoorbeeld, het ongeveer 130 selfstandige naamwoorde dieselfde toonpatroon (hoog-hoog) as sango (vader). Meer as 200 het dieselfde patroon (laag-hoog) as nyango (moeder). Om verwarring te voorkom, voorsien tromslaners ’n konteks vir sulke woorde, deur dit in ’n kort welbekende frase in te sluit wat genoeg variasie het sodat die luisteraar kan verstaan wat gesê word.

Hoe daar deur middel van gleuftromme gepraat word

Een soort pratende trom is die houtgleuftrom. (Sien die prent op bladsy 23.) Sulke tromme word gevorm deur ’n holte in ’n boomstomp te kerf. Daar is nie ’n veltromkop aan enigeen van die kante nie. Hoewel die trom op die foto twee gleuwe het, het baie tromme net een lang spleet. ’n Slag op een rand van die gleuf gee ’n hoë toon; ’n slag op die ander rand gee ’n lae toon. Gleuftromme is gewoonlik ongeveer een meter lank, hoewel hulle van ’n halwe meter tot twee meter lank kan wees. Die deursnee kan wissel van 20 sentimeter tot een meter.

Gleuftromme is nie net gebruik om boodskappe van een dorp na ’n ander te stuur nie. Die Kameroense skrywer Francis Bebey het die rol van hierdie tromme in stoeigevegte beskryf. Terwyl twee meedingende spanne gereedgemaak het om op die dorpsplein te ontmoet, het die kampioene op die ritme van die gleuftromme gedans terwyl die tromme hulle lof verkondig het. Die trom van een span sê dalk: “Kampioen, het jy al ooit jou gelyke teëgekom? Wie kan teen jou meeding, vertel ons wie? Hierdie arme skepsels . . . dink dat hulle jou kan verslaan met die een of ander arme [siel] wat hulle ’n kampioen noem . . . , maar niemand kan jou ooit verslaan nie.” Die musikante in die ander kamp sou hierdie gemoedelike tarting verstaan en ’n vinnige spreekwoordelike antwoord trommel: “Die klein apie . . . die klein apie . . . hy wil die boom klim, maar almal dink hy gaan val. Maar die klein apie is koppig, hy sal nie uit die boom uitval nie, hy sal tot heel bo klim, hierdie klein apie.” Die tromme het almal regdeur die stoeigeveg bly vermaak.

Die tromme wat beter as al die ander praat

Druktromme gaan ’n stap verder. Die trom wat jy in die prent aan die regterkant sien, word ’n dundun genoem; dit is die beroemde pratende trom van die Joroeba’s van Nigerië. Hierdie trom, wat soos ’n uurglas gevorm is, het aan weerskante ’n kop wat van dun, gelooide bokvel gemaak is. Die koppe word met leerrieme aan mekaar vasgemaak. Wanneer die rieme vasgedruk word, neem die spanning op die tromkop toe sodat dit note met ’n omvang van ’n oktaaf of meer kan voortbring. Deur ’n geboë tromstok te gebruik en die toonhoogte en ritme van die klanke te verander, kan ’n vaardige tromslaner die styging en daling van die mensestem namaak. Tromslaners kan dus “gesprekke” voer met ander tromslaners wat die tromtaal kan vertolk en speel.

In Mei 1976 is die merkwaardige vermoë van tromslaners om met tromme te kommunikeer deur hofmusikante van ’n Joroeba-stamhoof gedemonstreer. Vrywilligers uit die gehoor het ’n reeks instruksies aan die hooftromslaner gefluister, waarna hy die instruksies aan ’n ander musikant getrommel het wat ver van die binnehof af was. Die musikant het op die getrommelde instruksies gereageer en van een plek na ’n ander beweeg en watter handeling hy ook al gevra is om te doen, uitgevoer.

Dit is nie maklik om te leer om ’n getrommelde boodskap te stuur nie. Die skrywer I. Laoye het gesê: “Joroeba-trommespel is ’n ingewikkelde en moeilike kuns wat jare lange studie verg. Die tromslaner moet nie net baie vaardig wees en ’n sin vir ritme hê nie, maar ook ’n goeie geheue vir poësie en die geskiedenis van die dorp.”

In onlangse dekades praat die Afrikatromme nie meer soveel as in die verlede nie, hoewel hulle nog ’n belangrike rol in musiek behou het. Die boek Musical Instruments of Africa sê: “Dit is uiters moeilik om te leer om boodskappe op tromme te speel; gevolglik is hierdie kuns vinnig aan die verdwyn in Afrika.” Die mediakundige Robert Nicholls voeg by: “Die stemme van die groot tromme van die verlede wat myle ver gehoor kon word en wat uitsluitlik gebruik is om boodskappe oor te dra, is vir uitsterwing bestem.” Deesdae vind die meeste mense dit geriefliker om die telefoon te gebruik.

[Prent op bladsy 23]

Gleuftrom

[Prent op bladsy 23]

Pratende trom van die Joroeba’s

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel