Selfoon-“verslawing”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN
“AFHANKLIKHEID van selfone word ’n verslawing”, het ’n opskrif in The Daily Yomiuri van Japan gesê. Verslawing? “Dit lyk of jongmense hulle selfoon as ’n deel van hulle liggaam beskou, en hulle raak dalk selfs paniekerig as hulle dit nie by hulle het nie”, het die koerant verduidelik. Omdat hulle nie van ander afgesonder wil wees nie, hou baie hulle selfoon die hele tyd aan, ongeag waar hulle is. As hulle “nie boodskappe op hulle selfoon ontvang nie, voel hulle onrustig en omgekrap en dat niemand hulle nodig het nie”. Omdat hulle onrustig voel, beantwoord hulle alle inkomende teksboodskappe onmiddellik, wat dikwels onnodig is.
Selfone kan natuurlik handig te pas kom. Dit was al dikwels in noodgevalle baie nuttig. Selfs die alledaagse gebruik van ’n selfoon is nie noodwendig verkeerd nie solank ’n mens gebalanseerd bly. Maar party kenners sê dat selfoon-“verslawing” normale kommunikasievermoëns kan benadeel. ’n Hoërskoolonderwyseres in Osaka is bekommerd dat selfone kan veroorsaak dat “kinders die vermoë verloor om die gesigsuitdrukkings, gedrag en stemtoon van ander te interpreteer. ’n Gevolg hiervan is dat kinders aggressiewer is en nie ander se gevoelens in ag neem nie”, het die koerant gesê.
Die artikel het afgesluit: “Dit lyk of dit onvermydelik is dat kinders in die toekoms al hoe afhankliker van selfone sal word. Die enigste manier om die negatiewe uitwerking van hierdie tendens tot ’n minimum te beperk, is om seker te maak dat volwassenes vir kinders die regte voorbeeld stel wat die gebruik van selfone betref.”