Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 12/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Goud word uit rommel ontgin
  • Llamas staan wag
  • Natuurlike koelmiddel
  • Mis en superkieme
  • Grootouers kan “aangeneem” word
  • Gesinsgeweld in Europa
  • Voorkom dat kinders verdrink
  • Vroeë puberteit
  • ’n Slegte humeur kan jou dood beteken
  • Die Christengesin help die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1993
  • Wanneer geweld die huis tref
    Ontwaak!—1993
  • Versorging van bejaardes—’n toenemende probleem
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 12/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Goud word uit rommel ontgin

’n Mynmaatskappy in Japan het ’n maklike en winsgewender manier gevind om edelmetale te ontgin. In plaas van baie geld en tyd daaraan te bestee om na erts te soek, word dele van weggegooide selfone en rekenaars nou deur ’n smelt- en affineermaatskappy in die Akita-prefektuur gesmelt om edelmetale daaruit te verkry, berig die koerant IHT Asahi Sjimboen van Tokio. Volgens die president van die maatskappy “kan 1 ton gebruikte selfone—sonder die batterye—etlike honderd gram goud lewer”. In vergelyking met tradisionele mynboumetodes kan die opbrengs per ton van hierdie “metropolitaanse myn” tien keer meer wees as dié van erts. Daarbenewens was dit nie nodig om ekstra kapitaal uit te gee vir nuwe verwerkingstoerusting nie, aangesien die ontginning van goud uit selfone nie baie verskil van die ontginning van metale uit erts nie.

Llamas staan wag

Noord-Amerikaanse boere het nou begin om llamas te gebruik om hulle skape op te pas. Volgens The Globe and Mail, van Kanada, “vorm [llamas] ’n sterk band met ander diere waarmee hulle tyd deurbring”. Hulle pas hulle kudde goed op deur alarm te maak, die skape bymekaar te jaag, indringers te verwilder en roofdiere te skop of met hulle pote te kap. Party boere verkies selfs llamas bo waghonde omdat hulle redelik goedkoop is. Daarbenewens, sê die koerant, “kos dit niks ekstra om llamas aan te hou nie omdat hulle saam met die skape wei en slaap—en hulle kan ’n hele paar jaar langer lewe as gewilde soorte waghonde”. ’n Kanadese skaapboer wat llamas besit, het die voordele so beskryf: “Hulle kos jou niks” en “hulle blaf nie.”

Natuurlike koelmiddel

’n Navorsingspan in Duitsland het ’n natuurlike chemikalie geïsoleer wat 35 keer die koelvermoë van mentol het, maar sonder die pepermentsmaak. Die chemikalie, wat natuurlik in bier en whisky voorkom, is by die Duitse Navorsingsentrum vir Voedselchemie in Garching, München, ontdek. Volgens die tydskrif New Scientist het Thomas Hofmann, die hoof van die navorsingspan, gesê: “Dit kan ’n superverfrissende vars smaak gee aan ’n wye verskeidenheid produkte, insluitende bier, gebottelde water, sitrusdrankies, sjokolade en lekkergoed.” En omdat die middel koel op die vel voel in konsentrasies wat 250 keer laer is as dié van ment, kan dit ’n nuwe varsheid aan skoonheidsmiddels en velmiddels gee.

Mis en superkieme

“Landerye regoor Europa is besoedel met gevaarlike vlakke van die antibiotika wat aan plaasdiere gegee word”, berig die tydskrif New Scientist. Meer as 10 000 ton antibiotika word jaarliks in die Europese Unie en die Verenigde State aan plaasdiere gegee om hulle vinniger te laat groei en siektes te voorkom. “Maar onlangse navorsing het ’n direkte verband gevind tussen die toenemende gebruik van hierdie middels op plase en die voorkoms van kieme wat teen antibiotika bestand is en waardeur mense besmet word”, sê die tydskrif. “Die middels, wat in die mis is waarmee landerye bemes word, beland dalk in ons kos en water . . . , [en dit] besmet die gewasse, wat dan geëet word”, sê New Scientist.

Grootouers kan “aangeneem” word

Party gesinne in Spanje het gereël om 66 bejaardes “aan te neem” wat geen familie het nie, berig die Spaanse koerant El País. “Die doel van hierdie program . . . is om diegene wat nie meer alleen kan bly nie, ’n ander opsie as ouetehuise te gee”, sê die koerant. Onder die aansoekers wat graag die bejaardes wil “aanneem”, is egpare in hulle vyftigerjare wat hulle lewe met ’n bejaarde wil deel. Ander gesinne met klein kinders sê dat hulle graag ’n grootouer by die huis wil hê. Al ontvang gesinne wat bejaardes aanneem, ’n subsidie “is die geld nie werklik die rede waarom hulle dit doen nie”, verduidelik die hoof van die program, Marisa Muñoz-Caballero. “As dit die geval was, sou hulle gou daarvoor moeg word omdat dit ’n veeleisende taak is om na bejaardes om te sien.”

Gesinsgeweld in Europa

“Een uit vyf Europese vroue word op een of ander stadium in haar lewe fisies mishandel deur die man saam met wie sy woon”, het Anna Diamantopoulou, die Europese kommissaris wat verantwoordelik is vir werks- en maatskaplike aangeleenthede, gesê. By die Ministeriële Konferensie oor Geweld teen Vroue wat vroeër vanjaar in Spanje gehou is, het Diamantopoulou gesê: “Wêreldwyd is die moontlikheid groter dat vroue tussen die ouderdomme van 15 en 44 vermink sal word of sal sterf weens geweld deur mans as aan kanker, malaria, padongelukke of oorlog tesame.” In die Verenigde Koninkryk “sterf ’n vrou elke 3 dae as gevolg van gesinsgeweld”, terwyl “meer as die helfte van die vroue wat in Ierland vermoor word, deur die man saam met wie hulle woon of hulle huweliksmaat doodgemaak word”. En in Oostenryk, berig die Franse dagblad Le Monde, “word die helfte van alle skeisake aanhangig gemaak deur vrouens wat kla dat hulle deur hulle man mishandel word”.

Voorkom dat kinders verdrink

In 26 van die wêreld se rykste lande is verdrinking die tweede algemeenste doodsoorsaak onder kinders 14 jaar en jonger, berig BMJ (voorheen British Medical Journal). Volgens die tydskrif “sal babas heel waarskynlik in die huis (gewoonlik in die bad) verdrink; kleuters op plekke naby die huis soos in swembaddens of dammetjies en ouer kinders in natuurlike watermassas soos mere en riviere”. Om sulke ongelukke te voorkom, beveel deskundiges die volgende aan: Hou heeltyd toesig oor babas in die bad of wanneer hulle naby water is; omhein ’n dammetjie in die tuin of ’n swembad sodat toegang van die huis af nie moontlik is nie; moet kinders nie toelaat om alleen of op afgesonderde plekke te swem nie; leer hoe om noodhulp toe te pas.

Vroeë puberteit

“Puberteit begin al hoe vroeër”, berig die Duitse koerant Berliner Zeitung. Dit is nie meer ongewoon dat die kinderjare, ten minste wat biologiese ontwikkeling betref, eindig wanneer kinders tussen die ouderdom van 10 en 12 of selfs jonger is nie. Navorsers regoor die wêreld het hierdie verskynsel waargeneem, maar is nie seker waarom dit gebeur nie. Verbeterde voeding en ’n afname in aansteeklike siektes word as moontlikhede gemeld. Ander gee gifstowwe in die omgewing die skuld, veral stowwe wat die uitwerking van die vroulike hormoon estrogeen naboots. Wat die oorsaak ook al is, vroeë geslagsrypheid kan daartoe lei dat kinders vroeg seksueel aktief word. “Dikwels verloop net ’n paar jaar vandat ’n kind in die sandput speel tot sy eerste seksuele ondervinding”, sê die koerant.

’n Slegte humeur kan jou dood beteken

“Mense met ’n slegte humeur loop ’n groter gevaar om ’n beroerte te kry”, sê die Spaanse koerant Diario Médico. Dokters meen al lank dat aggressiewe gedrag die gevaar vergroot om koronêre siektes te kry. Onlangse navorsing het getoon dat sulke gedrag ook die gevaar vergroot om ’n beroerte te kry. In ’n opname onder 14 000 volwassenes was die moontlikheid van ’n beroerte drie keer groter by mense onder die ouderdom van 60 wat maklik kwaad word. Waarom? Dit lyk of woede ’n “ernstige toename” kan veroorsaak in bloeddruk, in bloedvatvernouing en in die vrystelling van bloedstollingsfaktore, wat “mettertyd bloedsirkulasie in die brein kan aantas”, sê die verslag.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel