Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 1/8 bl. 12-14
  • Hoe om ’n veiliger swangerskap te hê

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om ’n veiliger swangerskap te hê
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gesondheidsorg voor swangerskap
  • Gesondheidsorg tydens swangerskap
  • ’n Suksesvolle bevalling
  • Gesonde moeders, gesonde babas
    Ontwaak!—2009
  • Tienerswangerskap—’n Wêreldwye tragedie
    Ontwaak!—2004
  • Kinders—Bates of laste?
    Ontwaak!—1993
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 1/8 bl. 12-14

Hoe om ’n veiliger swangerskap te hê

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

VOLGENS die Verenigde Nasies se Bevolkingsfonds sterf meer as ’n halfmiljoen vroue elke jaar weens swangerskapverwante oorsake. Daarbenewens sê die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) dat meer as 60 miljoen swanger vroue elke jaar ernstige komplikasies het en dat byna ’n derde van hulle lewenslange skade of infeksies opdoen. In ontwikkelende lande is baie vroue vasgevang in ’n kringloop van swangerskappe, bevallings en selfverwaarlosing, wat hulle uitput en siek maak. Ja, swangerskap kan nadelig wees—selfs gevaarlik. Kan ’n vrou enigiets doen om ’n veiliger swangerskap te hê?

Gesondheidsorg voor swangerskap

Beplanning. Egpare moet dalk bespreek hoeveel kinders hulle gaan hê. In ontwikkelende lande sien ’n mens dikwels dat vroue met klein kindertjies ’n baba borsvoed en terselfdertyd nog een verwag. Met sorgvuldige beplanning sal tyd moontlik verloop voordat ’n vrou weer swanger word, wat haar ’n kans sal gee om te rus en haar kragte te herwin nadat sy geboorte gegee het.

Voeding. Volgens die Vereniging vir Suksesvolle Swangerskappe het ’n vrou, voordat sy swanger word, ten minste vier maande nodig om te herstel van blootstelling aan skadelike middels en om ’n goeie reserwe van voedingstowwe op te bou. Daar bestaan byvoorbeeld ’n baie kleiner gevaar van spina bifida, wat veroorsaak word deur die versuim van die neuraalbuis om te sluit, as die verwagtende moeder genoeg foliensuur het. Aangesien die embrio se neuraalbuis tussen die 24ste en 28ste dag ná bevrugting sluit—lank voordat baie vroue besef dat hulle swanger is—neem party vroue foliensuuraanvullings as hulle van plan is om swanger te word.

Nog ’n belangrike voedingstof is yster. ’n Vrou se behoefte aan yster verdubbel tydens swangerskap. As haar ystervlak laag is—wat met baie vroue in ontwikkelende lande die geval is—kan sy ystertekort-bloedarmoede kry. Hierdie toestand kan deur herhaalde swangerskappe vererger word, aangesien die vrou miskien nie genoeg tyd tussen swangerskappe het om haar ystervlak aan te vul nie.a

Ouderdom. Swanger meisies onder 16 loop ’n 60 persent groter gevaar om te sterf as dié in hulle twintigerjare. Aan die ander kant is die moontlikheid groter dat vroue bo 35 babas met aangebore afwykings, soos Down-sindroom, sal hê. Moeders wat baie jonk is of wat laat in hulle vrugbare jare is, is vatbaarder vir preëklampsie. Hierdie siekte, wat gekenmerk word deur hoë bloeddruk ná die 20ste week van swangerskap tesame met die aanwesigheid van edeem en verhoogde vlakke van proteïene in die urine, vergroot die gevaar dat die baba sowel as die moeder sal sterf.

Infeksies. Urinêre, servikovaginale en gastroïntestinale infeksies kan gedurende swangerskap vererger en kan die gevaar van vroeggeboorte en preeklampsie vergroot. Enige infeksie moet liewer voor swangerskap behandel word.

Gesondheidsorg tydens swangerskap

Voorgeboortesorg. Gereelde besoeke aan ’n dokter gedurende swangerskap verminder die gevaar dat die moeder sal sterf. Selfs in lande waar vroue nie gereeld na klinieke en hospitale kan gaan nie, is daar moontlik behoorlik opgeleide vroedvroue.

Voorgeboortesorg kan opgeleide personeel bewus maak van situasies wat moontlik spesiale sorg vereis. Dit sluit veelvuldige swangerskap, hoë bloeddruk, hart- en nierkwale en suikersiekte in. In party lande kan ’n swanger vrou ’n tetanustoksoïedinspuiting kry om klem-in-die-kaak by pasgebore babas te voorkom. Sy sal dalk ook tussen die 26ste en 28ste week van swangerskap vir groep B-streptokokkus getoets word. As hierdie bakterieë in die laer dermkanaal aanwesig is, kan dit die baba tydens die bevalling besmet.

Die verwagtende moeder moet bereid wees om al die inligting wat sy tot haar beskikking het, onder andere haar mediese geskiedenis, aan mediese personeel te gee. Sy moet ook nie huiwer om vrae te vra nie. Mediese hulp moet onmiddellik ingeroep word in gevalle van vaginale bloeding, skielike ontsteking van die gesig, kwaai of aanhoudende hoofpyn of pyn in die vingers, skielike belemmerde of dowwe sig, kwaai maagpyn, aanhoudende braking, kouekoors of koorsigheid, veranderinge wat die gereeldheid of sterkte van die fetus se bewegings betref, vloeistofverlies deur die vagina, pyn tydens urinering of ’n abnormale gebrek aan urine.

Alkohol en dwelms. ’n Moeder wat alkohol en dwelms (insluitende tabak) gebruik, vergroot die gevaar dat haar kind verstandelik vertraag sal wees of liggaamsgebreke en selfs gedragsafwykings sal hê. Daar was al selfs gevalle waar babas van dwelmverslaafde moeders onttrekkingsimptome gehad het. Hoewel party mense meen dat dit onskadelik is om nou en dan ’n glasie wyn te drink, beveel deskundiges gewoonlik geheelonthouding gedurende swangerskap aan. Verwagtende moeders moet ook oppas vir tweedehandse rook.

Geneesmiddels. Geen geneesmiddels moet geneem word nie tensy dit spesifiek deur ’n dokter voorgeskryf is wat van die swangerskap bewus is en die gevare deeglik oorweeg het. Party vitamienaanvullings kan ook skadelik wees. Te veel vitamien A kan byvoorbeeld veroorsaak dat die fetus gebreklik is.

Gewigstoename. ’n Swanger vrou moet uiterstes vermy. Volgens Krause’s Food, Nutrition and Diet Therapy loop ’n baba wat by geboorte min weeg, 40 keer groter gevaar om te sterf as ’n pasgebore baba wie se gewig normaal is. Aan die ander kant lei dit net tot oorgewig as ’n mens vir twee eet. Gepaste gewigstoename—wat van die tweede trimester af duideliker gesien kan word—toon dat die verwagtende moeder die regte hoeveelheid kos vir haar liggaam se toenemende behoeftes eet.b

Higiëne en ander sake. ’n Mens kan soos gewoonlik bad en stort, maar vaginale spoeltoestelle moenie gebruik word nie. ’n Swanger vrou moet wegbly van enigiemand met ’n virusinfeksie, soos rubella, wat ook Duitse masels genoem word. En om toksoplasmose te voorkom, moet sy sorg dat sy nie halfgaar vleis eet nie en alle kontak met kat-uitwerpsels vermy. Basiese higiëne, soos om hande en rou kos te was, is noodsaaklik. Geslagsgemeenskap hou gewoonlik nie gevaar in nie, behalwe gedurende die laaste weke van swangerskap of in die geval van bloeding, krampe of vorige miskrame.

’n Suksesvolle bevalling

’n Vrou wat gedurende haar swangerskap na haarself kyk, sal tydens die bevalling minder vatbaar wees vir komplikasies. Sy sou natuurlik al besluit het of sy by die huis of in ’n hospitaal geboorte wil gee. Sy sal ook ’n redelik goeie idee hê van wat om te verwag en hoe om met die gekwalifiseerde vroedvrou of geneesheer saam te werk. En hierdie persoon sal weet wat die vrou se ingeligte voorkeure is—waar ’n keuse moontlik is—wanneer dit kom by sake soos die kraamposisie, episiotomie en die gebruik van ’n verlostang, pynstillers en elektroniese apparaat om die fetus te monitor. Daar moet ook oor ander sake ooreengestem word: Na watter hospitaal of kliniek sal hulle gaan as daar tydens die bevalling by die huis komplikasies is? Presies wat sal gedoen word in geval van te veel bloedverlies? Aangesien baie moeders weens bloeding sterf, moet plaasvervangers vir bloed geredelik beskikbaar wees vir pasiënte wat nie oortappings aanvaar nie. Daar moet ook vooraf besluit word wat gedoen sal word as ’n keisersnee nodig is.

Die Bybel sê dat kinders ’n gawe van God, ’n “erfdeel”, is (Psalm 127:3). Hoe meer ’n vrou omtrent haar swangerskap weet, hoe beter sal dit vir haar wees. As ’n vrou voor en gedurende swangerskap na haarself kyk en vooraf oor die verskillende aspekte van die bevalling besluit, sal sy alles doen wat sy kan om ’n veiliger swangerskap te verseker.

[Voetnote]

a ’n Paar bronne van foliensuur en yster is lewer, peulgroente, groen blaargroente, neute en verrykte graankos. Ysterryke kossoorte sal dalk makliker opgeneem word as dit saam met bronne van vitamien C, soos vars vrugte, geëet word.

b Die aanbevole gewigstoename vir ’n vrou wat haar swangerskap met ’n gesonde gewig begin, is tussen 9 en 12 kilogram teen die einde van die swangerskap. Maar jong meisies of ondervoede vroue moet tussen 12 en 15 kilogram aansit, terwyl dié wat oorgewig is, net tussen 7 en 9 kilogram moet aansit.

[Venster op bladsy 14]

WENKE VIR SWANGER VROUE

● Gewoonlik moet ’n swanger vrou se daaglikse dieet die volgende insluit: vrugte, groente (veral donkergroen, oranje en rooi groente), peulgroente (soos bone, sojabone, lensies en dwerg-ertjies), graankos (insluitende koring, mielies, hawermout en gort—verkieslik volgraan- of verrykte graankos) en voedsel wat van diere afkomstig is (vis, hoender, beesvleis, eiers, kaas en melk, verkieslik afgeroomde melk). Vet, geraffineerde suiker en sout moet liewer met matigheid ingeneem word. Drink baie water. Vermy drankies wat kafeïen bevat en voedselsoorte met preserveermiddels en bymiddels (soos kunsmatige kleursels en smaakmiddels). Stysel, klei en ander oneetbare stowwe kan tot ondervoeding en giftigheid lei.

● Pasop vir moontlike omgewingsgevare, soos te veel blootstelling aan X-strale en skadelike chemikalieë. Beperk die gebruik van spuitstowwe en ander huishoudelike middels. Sorg dat jy nie te warm word weens blootstelling aan baie hoë temperature of oormatige oefening nie. Moenie baie lank staan of jou te veel inspan nie. Maak die sitplekgordel in ’n motor in die regte posisie vas.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel