Vraebus
◼ Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons selfone en elektroniese roepradio’s gebruik?
Hierdie toestelle stel ons in staat om van byna enige plek af met ander in aanraking te kom. Hoewel dit nuttig kan wees, moet ons nie toelaat dat die gebruik van selfone en roepradio’s op ongepaste tye afbreuk doen aan ons bediening of Christelike vergaderinge nie. Hoe kan dit gebeur?
Dink net aan die uitwerking wat dit kan hê as ons selfoon lui of ons roepradio biep terwyl ons in die veldbediening besig is om te getuig. Wat sal die huisbewoner dink? Watter indruk sal dit skep as ons die gesprek onderbreek om die oproep te beantwoord? Ons sal beslis niks wil doen wat sal voorkom dat ander na die Koninkryksboodskap luister nie (2 Kor. 6:3). As ons derhalwe ’n selfoon of roepradio by ons het, moet ons dit stel sodat dit ons of ander nie onderbreek wanneer ons aan die veldbediening deelneem nie.
Sê nou ons staan en wag terwyl iemand anders getuig? Moet ons nie, as ons tyd vir velddiens opsy gesit het, ons aandag daarop toegespits hou nie? Uit respek vir ons heilige diens, moet ons eerder op ’n ander tyd omsien na persoonlike sake of sosiale belange wat nie dringend is nie (Rom. 12:7). Dit beteken natuurlik nie dat ons nie die telefoon mag gebruik om verder te getuig of ’n afspraak te maak om dit te doen nie.
Ons moet veral versigtig wees wanneer ons selfone gebruik terwyl ons bestuur, aangesien party studies toon dat dit die kanse op ’n ongeluk baie vergroot. In Suid-Afrika is dit onwettig om ’n selfoon te gebruik terwyl jy bestuur, tensy jy ’n handvrystel het. Ons moet streng by hierdie wet bly.
Ons woon Christelike vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste by om Jehovah te aanbid en deur hom geleer te word. Behoort ons waardering vir die heiligheid van hierdie geleenthede ons nie te beweeg om selfone en roepradio’s te stel sodat dit nie ons aandag of ander s’n aftrek nie? As daar ’n dringende saak is wat ons onmiddellike aandag verg, moet ons buite die vergaderplek daarna omsien. Andersins moet ons reël om op ander tye as dié wat vir aanbidding opsy gesit is, na persoonlike en sekulêre sake om te sien.—1 Kor. 10:24.
Mag die manier waarop ons selfone of enige ander elektroniese toestelle gebruik, toon dat ons ander altyd in ag neem en innige waardering vir geestelike dinge het.