Die miniatuurskatte van Nihau
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN HAWAII
ELKE winter breek stormbranders op die kus van Hawaii se “Verbode Eiland”, Nihau. Ontsaglike hoeveelhede leë miniatuur-seeslakskulpies word deur die branders kuswaarts gedra en spoel op sekere strande uit. Nihau—wat net 180 vierkante kilometer beslaan—is die kleinste van die sewe bewoonde eilande van Hawaii. Hoe gepas is dit dus dat hierdie vulkaniese eiland met van die wêreld se kleinste skatte spog—die pragtige skulpies van Nihau.
Anders as Nihau se naaste buureiland, Kauai, wat 27 kilometer noordoos lê, het Nihau ’n landskap wat meestal laagliggend en droog is. Maar waarom word dit die Verbode Eiland genoem? Nihau is in privaatbesit, en ongenooide gaste is nie welkom nie. Die selfonderhoudende bewoners van die eiland het geen sentrale kragstasie, geen lopende water, geen winkels en geen poskantoor nie. In ’n poging om hulle antieke kultuur te bewaar, praat die nagenoeg 230 Hawaise inboorlinge wat daar woon, die Hawaise taal. Wanneer hulle nie skape of beeste oppas nie, is die meeste besig om hulle “goudmyn” van miniatuurskulpies te ontgin.a
Gedurende die warm Hawaise wintermaande stap gesinne of ry hulle per fiets met stowwerige paaie langs na die ongerepte strande en rotsagtige inhamme, waar hulle lang dae deurbring en skulpe optel. Wanneer die skulpe bymekaargemaak is, word hulle in die skadu uitgesprei sodat hulle kan droog word. Later sal hulle volgens grootte en gehalte gesorteer word en in delikate leis, of halssnoere, gestring word. Op eilande met weliger plantegroei, word die meeste leis van blomme gemaak. Op Nihau dien skulpe as die “blomme”.
“Juwele” uit die see
In Hawaii word skulpe al lank as juweliersware gebruik. In die laat 18de eeu het seevarende ontdekkingsreisigers—insluitende kaptein James Cook—skulpornamente hier gevind en in hulle joernale daaroor geskryf. Hulle het ook voorbeelde daarvan teruggebring, waarvan sommige moontlik van Nihau af gekom het. Na verloop van tyd kon Nihau se pragtige leis om die nekke van vooraanstaande Hawaise vroue, insluitende dansers en selfs koninklikes, gesien word. Danksy kuriowinkels, toerisme en soldate wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog by Hawaii aangedoen het, het hierdie spesiale “juwele” in die 20ste eeu ’n nis in ’n wyer mark gevind. Vandag word die lieflike halssnoere wat eens op ’n tyd deur Hawaii se adelstand gedra is, deur bewonderaars in alle wêrelddele gedra.
Die skulpe wat meestal gebruik word om die leis van Nihau te maak, word in Hawais momi, laiki en kahelelani genoem. Verskille in kleur en patroon bied ’n aangename uitdaging vir die leimaker—gewoonlik ’n vrou—wat die skulpe noukeurig string om ’n kunswerk te skep. Nagenoeg 20 verskillende soorte pêrelagtige, ovaalvormige momi-skulpe word gebruik, wat wissel van skitterwit tot donkerbruin. Wanneer dit in die uiters gesogte Lei Pikake-styl gestring word, laat die momi-skulpe se olieagtige glans en die feit dat hulle so klein is—net tien millimeter lank—die leis baie soos stringe welriekende wit jasmyn, of pikake, lyk.
Etlike stringe blink, rysvormige laiki-skulpe dien dikwels as versiering vir Hawaise bruide. Die skakerings van hierdie glansende skulpe wissel van spierwit en ivoor tot gelerige beige, waarvan sommige bruin strepies het. Kahelelani-skulpe, wat moontlik na ’n eertydse Hawaise hoofman vernoem is, is maar vyf millimeter lank. Hierdie delikate skulpies, wat soos ’n tulband gevorm is, is die moeilikste om te string, en die leis wat hiervan gemaak word, is die duurste. Hulle kleure wissel van diep wynrooi tot helderpienk, wat die seldsaamste kleur is en drie keer duurder is as leis van ander kleure.
Hoe ’n lei van Nihau-skulpe gemaak word
Wanneer die leimaker op ’n patroon besluit het, verwyder sy al die sand van die skulpe en maak sy met ’n dun, skerp els ’n gaatjie daarin. Hoewel sy versigtig en vaardig is, breek 1 uit elke 3 skulpe. Sy moet dus baie ekstra skulpe byderhand hê om een lei te voltooi, ’n proses wat jare kan neem! Om die lei te string, gebruik sy nylongaring wat met snelsement of met byewas styf gemaak is. ’n Klein, knoopvormige skulpie, soos ’n sonwysertjie of ’n puka, word aan elke ent van die string geryg, en een of twee muntskulpe word ingeryg waar die punte van die lei aanmekaar geheg word.
Daar is byna soveel maniere om leis te string as wat daar verskillende soorte skulpe is. Die style waarin leis gestring word, is onder meer klassieke wit momi-leis wat uit ’n enkele string van 150 tot 190 sentimeter bestaan, touvormige leis wat uit honderde piepklein kahelelani-skulpe bestaan en kranse wat in simmetriese geometriese patrone geweef is—waarvan sommige van ’n kombinasie van skulpe en sade gemaak word. Om leis te maak, is tydrowende werk wat noukeurigheid verg en sleg is vir die oë. Maar die skeppende en geduldige handwerkers van Nihau maak gereeld leis met ingewikkelde ontwerpe van buitengewone prag. Elke lei is uniek, en dit is maklik om te verstaan waarom hulle so waardevol soos edelstene en familiejuwele kan wees en duisende rande kan kos.
Nihau is dalk betreklik kaal, yl bevolk en weggesteek in ’n afgeleë hoekie van Hawaii. Maar danksy die eiland se verbeeldingryke en kunstige leimakers kan mense wat ver van Nihau se sonnige strande af woon, ook die prag van die “Verbode Eiland” se skatte geniet.
[Voetnoot]
a Dieselfde soorte skulpe word ook op ander eilande van Hawaii en ander plekke in die Stille Oseaan gevind, maar die hoeveelheid en gehalte wissel van plek tot plek.
[Prent op bladsy 24, 25]
Droë skulpe word volgens grootte en gehalte gesorteer en in delikate leis gestring
[Erkenning]
© Robert Holmes
[Prent op bladsy 25]
“Momi”-skulpjuwele
[Foto-erkenning op bladsy 24]
© drr.net