Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 2/8 bl. 24-27
  • Sirië—Spore van ’n interessante verlede

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sirië—Spore van ’n interessante verlede
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Damaskus—’n Antieke stad
  • Palmira—’n Geskiedkundige oase
  • Na die Eufraat
  • Antieke stede van noordwestelike Sirië
  • “Die donkerkopkoningin van die Siriese wildernis”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ebla—’n Antieke stad verrys uit die vergetelheid
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Die twee konings se identiteit verander
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Saulus se predikingswerk wek vyandskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 2/8 bl. 24-27

Sirië—Spore van ’n interessante verlede

DIT was geleë by een van die kruispaaie van die antieke wêreld—die plek waar karavaanroetes van die Middellandse See na China en van Egipte na Anatolië eens op ’n tyd ontmoet het. Leërs van Akkad, Babilon, Egipte, Persië, Griekeland en Rome het deur sy grondgebied getrek. Eeue later het die Turke en Kruisvaarders daardeur gereis. In hedendaagse tye het die leërs van Frankryk en Brittanje geveg om beheer daaroor te verkry.

Vandag is ’n deel van daardie gebied nog steeds bekend onder die naam wat dit duisende jare gelede gehad het—Sirië. Hoewel die gebied baie verander het, word spore van die geskiedenis vandag nog daar gevind. Sirië is ’n land wat vir studente van die Bybel van besondere belang is, aangesien dit ’n rol in Bybelgeskiedenis gespeel het.

Damaskus—’n Antieke stad

Kyk byvoorbeeld na Damaskus, Sirië se hoofstad. Dit is glo een van die oudste stede in die wêreld wat sedert die stigting daarvan nog altyd bewoon is. Aangesien Damaskus aan die voet van die Anti-Libanon-bergreeks lê en die Barada-rivier daardeur vloei, is dit al eeue lank ’n welkome oase aan die rand van die groot Siriese Woestyn. Die aartsvader Abraham het waarskynlik verby hierdie stad gegaan toe hy suid na Kanaän gereis het. En hy het Eliëser, “’n man van Damaskus”, as ’n kneg in sy huis geneem.—Genesis 15:2.

Byna ’n duisend jaar later het Siriese konings van Soba teen Israel se eerste koning, Saul, geveg (1 Samuel 14:47). Israel se tweede koning, Dawid, het ook teen konings van Aram (die Hebreeuse naam vir Sirië) geveg, hulle verslaan en “garnisoene in Sirië van Damaskus geplaas” (2 Samuel 8:3-8). ’n Langdurige vyandskap het dus tussen Israel en Sirië ontstaan.—1 Konings 11:23-25.

Teen die eerste eeu G.J. was die Siriërs en die Jode blykbaar nie meer so vyandiggesind teenoor mekaar nie. In daardie tyd was daar selfs ’n aantal Joodse sinagoges in Damaskus. Jy onthou dalk dat Saulus (later Paulus) van Tarsus op die pad van Jerusalem na Damaskus was toe hy tot die Christelike godsdiens bekeer is.—Handelinge 9:1-8.

In hedendaagse Damaskus is daar geen bewys dat Abraham daar verbygetrek het of dat Dawid dit verower het nie. Maar daar is oorblyfsels van die ou Romeinse stad sowel as ’n hoofstraat deur die ou stad waar die antieke Romeinse Via Recta (Reguitstraat) geloop het. Ananias het Saulus in ’n huis in hierdie straat gevind ná Saulus se wonderdadige bekering tot die Christelike godsdiens net buite Damaskus (Handelinge 9:10-19). Hoewel die straat vandag baie anders is as wat dit in Romeinse tye was, is dit hier waar die apostel Paulus sy merkwaardige loopbaan begin het. Reguitstraat eindig by die Romeinse poort Bab-Sjarqi. Die feit dat daar huise bo-op die stadsmure is, help ons om te verstaan hoe Paulus kon ontsnap toe hy in ’n mandjie deur ’n opening in die muur neergelaat is.—Handelinge 9:23-25; 2 Korintiërs 11:32, 33.

Palmira—’n Geskiedkundige oase

Omtrent drie uur per motor noordoos van Damaskus is ’n merkwaardige argeologiese terrein: Palmira, wat in die Bybel Tadmor genoem word (2 Kronieke 8:4). Hierdie oase is halfpad tussen die Middellandse See en die Eufraatrivier geleë en kry sy water van ondergrondse bronne wat hulle oorsprong in die berge in die noorde het . Die eertydse handelsroete tussen Mesopotamië en lande wes daarvan het die Vrugbare Halfmaan gevolg en dus ver noord van Palmira geloop. Maar in die eerste eeu v.G.J. het politieke onstabiliteit in die noorde ’n korter, suideliker roete verkieslik gemaak. Palmira het sodoende sy bloeityd betree.

Aangesien Palmira vir Rome nuttig was as ’n buffer aan die oostelike grense van die ryk, is dit by die Romeinse provinsie Sirië ingelyf, maar die stad het uiteindelik sy onafhanklikheid verkry. Langs ’n indrukwekkende straat met kolonnades aan weerskante was daar groot tempels, enorme boë, badhuise en ’n teater. Die kolonnades was geplavei vir voetgangers, maar die hoofstraat was nie geplavei nie ter wille van die kamele in die karavane wat daardeur getrek het. Karavane op die handelsroete tussen China en Indië in die Ooste en die Grieks-Romeinse wêreld in die Weste het by Palmira aangegaan. Daar moes hulle belasting betaal wat gehef is op die systowwe, speserye en ander goedere wat hulle vervoer het.

Gedurende die hoogtepunt van Palmira se voorspoed, in die derde eeu G.J., het die stad ’n bevolking van ongeveer 200 000 gehad. Dit was in hierdie tyd dat sy ambisieuse koningin Zenobia met Rome swaarde gekruis het en uiteindelik in 272 G.J. verslaan is. Sodoende het Zenobia onwetend ’n deel van ’n profesie vervul wat sowat 800 jaar vroeër deur die profeet Daniël opgeteken is (Daniël, hoofstuk 11).a Ná Zenobia se nederlaag het Palmira nog ’n ruk lank as ’n strategiese buitepos van die Romeinse Ryk voortbestaan, maar dit het nooit sy vroeëre mag en glorie herwin nie.

Na die Eufraat

Ná ’n drie uur lange rit in ’n noordoostelike rigting deur die woestyn kry ’n mens die dorp Dayr az Zawr, waar die indrukwekkende Eufraatrivier gesien kan word. Hierdie geskiedkundige waterweg ontspring in die berge van oostelike Anatolië (Asiatiese Turkye), stroom net noord van Karkemis in Sirië in en vloei suidoos deur Sirië na Irak. Nie ver van die Irakse grens af nie lê die oorblyfsels van twee antieke Siriese stede.

Honderd kilometer na die suidooste, by ’n draai in die Eufraatrivier, lê die ruïnes van die antieke vestingstad Dura-Europos. Nog 25 kilometer in dieselfde rigting lê Mari. Dit was ’n florerende handelstad, maar is in die 18de eeu v.G.J. deur die Babiloniese koning Hammoerabi vernietig. In die argief van sy koninklike paleis is ten minste 15 000 kleitablette met inskripsies gevind—dokumente wat baie lig op die geskiedenis gewerp het.

Toe Hammoerabi se troepe die stad vernietig het, het hulle die mure van die boonste verdiepings afgebreek, wat die onderste vertrekke met bakstene en grond gevul het. Dit het daartoe gelei dat die muurskilderye, standbeelde, erdewerk en talle ander artefakte behoue gebly het totdat ’n Franse span argeoloë die terrein in 1933 ontdek het. Hierdie voorwerpe kan in die museums van Damaskus en Aleppo sowel as in die Louvre, in Parys, gesien word.

Antieke stede van noordwestelike Sirië

As ’n mens noordwes al langs die Eufraatrivier ry, kom jy by Aleppo (Haleb) uit. Na bewering is Aleppo, soos Damaskus, een van die oudste bewoonde stede in die wêreld. Aleppo se soeks, of oordekte markte, is van die mooiste in die Midde-Ooste.

Net suid van Aleppo is Tell Mardikh, waar die antieke stadstaat Ebla geleë was. Ebla was ’n magtige handelstad wat noordelike Sirië in die tweede helfte van die derde millennium v.G.J. oorheers het. Tydens opgrawings in Ebla is die oorblyfsels van ’n tempel gevind wat aan die Babiloniese godin Isjtar gewy is. Daar is ook argiefkamers in ’n koninklike paleis ontdek waarin ongeveer 17 000 kleitablette gevind is. Artefakte van Ebla kan gesien word in die museum van Idlib, ’n dorpie wat 25 kilometer van die terrein af is.

In ’n suidelike rigting op die pad na Damaskus lê Hama, wat in die Bybel Hamat genoem word (Numeri 13:21). Die Orontes-rivier kronkel deur Hama, wat dit een van die mooiste stede in Sirië maak. Daarna kry ’n mens Ras Sjamra, waar die antieke stad Oegarit geleë was. In die derde en tweede millennium v.G.J. was Oegarit ’n florerende handelshawe waar die aanbidding van Baäl en Dagon iets algemeens was. Sedert 1929 het Franse argeoloë baie kleitablette en bronsvoorwerpe met inskripsies opgegrawe, wat heelwat lig gewerp het op die verdorwenheid van Baälaanbidding. Dit help ons om beter te verstaan waarom God die Baälaanbiddende Kanaäniete tot uitwissing veroordeel het.—Deuteronomium 7:1-4.

Ja, ’n mens kan nog steeds die spore van ’n interessante verlede in die hedendaagse Sirië vind.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Die donkerkopkoningin van die Siriese wildernis” in Die Wagtoring van 15 Januarie 1999, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Kaart op bladsy 24, 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MIDDELLANDSE SEE

‐‐ Betwiste grense

EGIPTE

ISRAEL

JORDANIË

LIBANON

SIRIË

DAMASKUS

Barada

Orontes

Hama (Hamat)

Oegarit (Ras Sjamra)

Ebla (Tell Mardikh)

Aleppo (Haleb)

Karkemis (Jerablus)

Eufraat

Zenobia

Dayr az Zawr

Dura-Europos

Mari

Palmira (Tadmor)

IRAK

TURKYE

[Prente op bladsy 24]

Damaskus (onder) en Reguitstraat (bo)

[Prent op bladsy 25]

Byekorfhuise

[Prent op bladsy 25]

Oegarit

[Prent op bladsy 25]

Hama

[Prent op bladsy 26]

Mari

[Prent op bladsy 26]

Aleppo

[Erkenning]

© Jean-Leo Dugast/Panos Pictures

[Prent op bladsy 26]

Koninklike paleis, Ebla

[Prent op bladsy 26]

Herders by Zenobia

[Prent op bladsy 26]

Palmira

[Prent op bladsy 26]

Die Eufraat by Dura-Europos

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Kinders: © Jean-Leo Dugast/Panos Pictures; Byekorfhuise: © Nik Wheeler

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel