Ons beskou die wêreld
Wit krokodille gevind
“Natuurbewaarders in die Bhitarkanika- Nasionale Park in Orissa het tydens die jaarlikse krokodilsensus . . . 15 seldsame wit krokodille gevind”, sê die Indiese koerant The Hindu. Wit krokodille is uiters seldsaam en “word nêrens anders in die wêreld aangetref nie”. As gevolg van volgehoue wilddiefstal was die seekrokodille in die gebied in die 1970’s op die randjie van uitsterwing, maar die staatsowerheid het, met die hulp van VN-gesteunde programme, ’n krokodilteelprogram op die been gebring. Meer as genoeg wortelbome, onbesoedelde water, volop kos en minder steuring deur die mens het die teelprogram ’n sukses gemaak. Volgens The Hindu is daar nou, buiten die seldsame wittes, sowat 1 500 normaalgekleurde krokodille in die park.
Tabak, armoede en siekte
“Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarsku dat byna 84 persent van rokers in arm lande woon, waar tabak en armoede ’n bose kringloop vorm”, sê die Spaanse koerant Diario Medico. Wat meer is, in elke land “behoort diegene wat die meeste rook en die meeste rookverwante probleme het, aan die behoeftigste deel van die bevolking”. Hoewel tabakverbruik in die meeste ontwikkelde lande afgeneem het, het dit wêreldwyd “die vierde grootste siekteveroorsakende risikofaktor geword”, berig die koerant. In Spanje, waar die jaarlikse sterftesyfer as gevolg van tabakgebruik 60 000 bereik het, het rook “die hoofoorsaak van siekte, ongeskiktheid en voorkombare dood” geword.
Skape onthou gesigte
“Ons het gevind dat skape die gesigte van ten minste 50 ander skape en 10 mense kan herken”, skryf die neurobioloog Keith Kendrick in New Scientist. Kendrick en sy span het gevind dat die skape, nadat hulle die 60 gesigte in die loop van ’n paar weke gesien het, almal “ten minste twee jaar lank” onthou het. Die skape het nie net die gesigte herken nie, maar kon, soos mense, ook “die emosies in die gesigsuitdrukkings onderskei”. Die tydskrif berig dat skape “tussen verskillende uitdrukkings by mense kan onderskei, en dat hulle veranderinge op die gesigte van angstige skape kan bespeur. Hulle verkies ook mense wat glimlag bo dié wat kwaad lyk.” Die navorsers het gevind dat “die gesigte van mense wat skape oppas, uiteindelik in dieselfde kategorie geplaas kan word as ’n baie bekende lid van die kudde”. Kendrick sê: “Vriendelike mense word as ’t ware ereskape. Dit gee te kenne dat skape ’n hegte verhouding met hulle skaapwagters het.”
Australië se kweekhuisbesoedeling
“Van alle nywerheidslande stel Australië die meeste kweekhuisgasse per persoon vry”, sê The Australia Institute. Gedurende 2001 het Australië gemiddeld 27,2 ton koolstofdioksied en ander kweekhuisgasse per persoon vrygestel. ’n Verslag deur hierdie navorsingsinstituut sê dat Australië se afhanklikheid van steenkoolelektrisiteit en gemotoriseerde vervoer sowel as sy vervaardiging van aluminium verantwoordelik is vir hierdie hoë syfer. Kanada (22 ton) en die Verenigde State (21,4 ton) was volgende op die lys van lande wat die meeste kweekhuisgasse per capita vrygestel het. Die laagste gerapporteerde syfer vir 2001 was dié van Letland, wat 0,95 ton kweekhuisgasse per persoon vrygestel het. Ondanks die feit dat Australië se bevolking relatief klein is, stel dit meer kweekhuisgasse vry “as groot Europese lande soos Frankryk en Italië (elk met ongeveer drie keer Australië se bevolking)”, het die verslag gesê.
Nagtegale se sang versus verkeersgeraas
“Wanneer die geraas toeneem, sing nagtegale harder”, sê die Duitse koerant Berliner Zeitung. In ’n studie wat deur Henrik Brumm van die Instituut vir Biologie by die Onafhanklike Universiteit van Berlyn gedoen is, is bevind dat die klanksterkte van die roepe, wat bedoel is om ’n voël se gebied af te baken en wyfies te lok, met 14 desibel gewissel het, afhangende van die geraasvlak in die omgewing. “Dit klink nie [na] baie nie”, het Brumm gesê, “maar dit is gelykstaande aan ’n vyfvoudige toename in klankdruk, wat beteken dat die druk in die voël se longe vyf keer groter moet wees.” In rustige omgewings was die voëlsang 75 desibel. Maar op plekke met swaar verkeer, was die voëlsang 89 desibel. “Wat die navorser veral verras het”, sê die koerant, “is die feit dat die voëls blykbaar elke dag van nuuts af by die situasie aanpas. Oor naweke, wanneer daar geen pendelverkeer is nie, het die voëls oor die algemeen sagter as op weeksdae gesing.”
Misdaad in Poolse skole
In 2003 “was daar [in Poolse] skole twintigduisend roofaanvalle”, berig die Poolse tydskrif Zwierciadło. Dit voeg by dat “80 persent van [Poolse] skoolkinders nie van hulle skool hou nie omdat hulle eensaam voel en dit moeilik vind om met onderwysers en ander leerlinge oor die weg te kom”. Waarom is daar soveel probleme? “Skole bestaan nie in ’n vakuum nie. Hulle is ’n weerspieëling van wat in die samelewing gebeur”, sê die geestesgesondheidswerker Wojciech Eichelberger. “Ons skep die wêreld van maatskaplike norme en waardes waardeur skole omring word.” Eichelberger stel voor dat ouers tyd saam met hulle kinders moet deurbring om die probleem teë te werk en hulle sodoende leer dat hulle kinders vir hulle belangrik is.
Ontevrede met hulle liggaam
“Jongmense—en veral meisies—word op ’n al hoe vroeër ouderdom ontevrede met hulle liggaam, en dit kan ernstige gesondheidsgevolge hê”, sê die Kanadese koerant Globe and Mail. Onderhoude is gevoer met meer as 2 200 meisies tussen die ouderdomme van 10 en 14 in verband met hulle gesindheid teenoor kos. Die Globe berig: “Minder as 7 persent van die meisies was oorgewig, maar meer as 31 persent het hulleself as ‘te vet’ beskryf en 29 persent het gesê dat hulle tans op ’n dieet is.” Waarom wil gesonde meisies gewig verloor? Volgens die koerant moet volwassenes wat rolmodelle is, baie van die skuld kry, want hulle is self alewig op ’n dieet en dryf die spot met dié wat oorgewig is. “Die media het ook ’n groot invloed op tieners se gedrag omdat hulle voortdurend ultramaer rolmodelle skep”, sê die Globe. Dr. Gail McVey, ’n wetenskaplike navorser by die Hospitaal vir Siek Kinders in Toronto, sê dat kinders, ouers sowel as onderwysers moet besef dat “’n toename in gewig normaal en noodsaaklik is vir kinders wat adolessente word”.