Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 3/8 bl. 22-24
  • Ope dae wat harte geraak het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ope dae wat harte geraak het
  • Ontwaak!—2003
  • Soortgelyke materiaal
  • Onvergeetlike ope dae
    Ontwaak!—2003
  • ’n Ope dag met ’n doel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Die eerste takkantoor honderd jaar gelede
    Ontwaak!—2000
  • Prente van die wêreldhoofkwartier en vername takkantore van Jehovah se Getuies
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 3/8 bl. 22-24

Ope dae wat harte geraak het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

“PUIK! Dit was regtig wonderlik!” “Dankie vir julle gasvryheid en die pragtige uitstallings. Ons het regtig op ons gemak gevoel.” Wat het baie besoekers beweeg om sulke woorde van waardering uit te spreek? Die ope dae wat by die Duitse takkantoor van Jehovah se Getuies gehou is. Die fasiliteite by Selters-Taunus is drie dae lank, van Vrydag, 24 Mei, tot Sondag, 26 Mei 2002, vir besoekers oopgestel om die honderdjarige bestaan van Duitsland se takkantoor saam met die meer as 1 000 vrywilligers wat daar werk, te herdenk.

Gemeentes van Jehovah se Getuies in die omgewing van die takkantoor het ywerig aan ’n spesiale uitnodigingsveldtog deelgeneem. Twee weke voor die tyd is meer as 100 000 uitnodigings aan mense uitgedeel of by hulle huise gelaat. Hierdie veldtog is aangevul met advertensies en lang artikels in koerante sowel as met radio-uitsendings. Persoonlike uitnodigings is aan verskaffers en amptenare gestuur. Meer as 7 000 het die uitnodiging aanvaar—waarvan ’n groot aantal nie Getuies was nie.

Besoekers het deur die drukkery, boekbindery, versendingsafdeling, werkswinkels en wassery asook dele van die administrasiegebou geloop. Uitstallings het mense ingelig oor die ferm standpunt vir Bybelbeginsels wat Jehovah se Getuies in Duitsland onder die Nazi- en Kommunistiese regimes ingeneem het. En ’n Bybeluitstalling met meer as 700 items het die aandag gevestig op die gebruik van die Goddelike naam, Jehovah. Dit sal onmoontlik wees om al die woorde van waardering wat gehoor is, te herhaal, maar hier is van die opmerkings wat gemaak is.

“Almal hier is so vriendelik. Alles is so skoon, so netjies. Alles pas so goed bymekaar—die mense wat hier woon en die omgewing. Ons hoop ons kan van julle vriendelikheid saam met ons neem.”—’n Bejaarde egpaar.

“Dankie vir die lekker kos en dat julle op so ’n aangename en vriendelike manier na ons omgesien het. Ons het dit terdeë geniet, en ons sal graag weer wil kom. Die mense hier was regtig baie gaaf!”—Inskrywing in besoekersboek deur ’n groep van ’n glastegnologiekollege.

“Baie dankie vir die hartlike ontvangs by julle kompleks. [Ons] het die besoek baie interessant gevind. Dra asseblief ons komplimente oor aan die mense in beheer van die wassery en droogskoonmaakafdeling, want ons het nog nooit sulke netjiese fasiliteite besoek nie.”—E-pos van ’n verteenwoordiger van ’n maatskappy wat seep en wasserytoerusting verkoop.

Eva, wat ’n toergids was, het vertel: “In elke toergroep wat ek rondgeneem het, was daar iemand wat oor die woonkamers gesê het: ‘Wag net tot ons ons koffers gaan haal. Ons wil intrek!’”

Terwyl ’n vrou in ’n elektriese rolstoel ’n skets van die kompleks bestudeer het, het ’n vrywilliger haar gevra of sy haar kon help. “Nie eintlik nie!” het die vrou geantwoord. Sy het gesê dat sy alreeds vyf ure op die perseel was en dat sy eintlik nie meer regop kon sit nie. Gewoonlik is sy bedlêend, en op daardie stadium het sy verskriklike pyn gehad. Sy het egter verduidelik: “Ek kan by die huis gaan lê, maar ope dag gebeur net een keer!” Sy het bygevoeg: “Alles is so interessant ek wil seker maak dat ek alles sien!”

Klein Georg, wat omtrent vyf jaar oud is, is gevra waarvan hy die meeste gehou het. Hy was baie opgewonde oor die rolperse en het geantwoord: “Die rolle papier! Hulle sit dit een kant in, en dan kom die koerante ander kant uit. Dit was so oulik!”

Een Getuie is aangenaam verras. Haar man, wat nie ’n Getuie is nie en nog net een Christelike vergadering bygewoon het, het ingestem om die Saterdag saam met haar na die ope dag te gaan. Sondag, toe sy vrou ná die gemeentelike vergadering by die huis kom, was hy aangetrek en gereed om uit te gaan. “Wat gaan aan?” het sy vrou gevra. “Wel, ek het nie gister kans gehad om alles te sien nie”, het hy geantwoord. “Sodra jy gereed is, kan ons dan Selters toe ry. Ek wil dit nog beter gaan bekyk.”

By die Bybeluitstalling het ’n bejaarde, deftig geklede dame bedeesd gevra waar sy ’n telefoon kan gebruik omdat sy dringend ’n oproep moes maak. Haar man is blykbaar ’n boekbinder wat daarin spesialiseer om ou boeke te herstel. Sy en haar man kom gereeld met ’n paar ander boekliefhebbers bymekaar, waarvan een ’n Protestantse pastoor en geesdriftige Bybelversamelaar is. Dit was hy wat sy so graag wou bel. Omdat hy nie by die huis was nie, het sy ’n boodskap op sy antwoordmasjien gelos: “Probeer jou bes om vandag hierheen te kom. Ek is seker jy het nog nooit so iets gesien nie. Jy moet dit nie misloop nie!”

’n Egpaar en hulle kind het van Limburg, ’n nabygeleë dorp, gekom. Voordat hulle die uitnodiging by hulle huis ontvang het, het hulle nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor nie. Die egpaar het besluit om na hierdie groot kompleks in Selters te kom kyk. Marlon en Leila, vrywilligers by die Duitse takkantoor, het hulle ontmoet en het hulle meer omtrent Jehovah se Getuies en lewe by die takkantoor vertel. Die gesin was so beïndruk dat die ouers gevra het dat iemand ’n gereelde tuisbybelstudie met hulle moet kom hou.

“Dit was regtig lekker en baie pret hier. Ek het net die drukkery gesien, maar dit was so lekker. Julle is wonderlike, vriendelike mense, en dis waarvan ek hou.”—Stefanie (12 jaar oud), ’n inskrywing in die besoekersboek.

’n Vrou van die naburige dorpie het gesê: “Ek moet julle iets vertel. Ek is ’n Moslem, maar ek wou nog altyd sien hoe dit hier binne lyk. Julle is almal so vriendelik en rustig. Julle laat ons [buitelanders] welkom voel in Duitsland. Julle reik uit na mense. Dit is iets besonders! Môre kom ek saam met my man.” In die besoekersboek het sy geskryf: “Dit was wonderlik! Dit voel asof ek in die Paradys is.”

Die bestuurder van een van die busse wat heen en weer tussen die parkeerterrein en die ingange gery het, het gehoor hoe een van die passasiers vir ’n ander een sê: “Dié mense is nou werklik vriendelik! En om te dink ek het nie ’n idee gehad van wat hier aangaan nie. Ek het nou eers uitgevind wat hulle hier doen. Hulle is so ordentlik. Dit moet iets te doen hê met hulle godsdiensopvoeding.”

Twee ure ná sluitingstyd het ’n man op en af geloop in die binnehof voor die administrasiegebou. Hy was diep in gedagte en het aanhoudend sy kop geskud terwyl hy na die gebou teruggekyk het. Toe het hy een van die vrywilligers by die takkantoor genader en gesê: “’n Mens kan sien dat alles uit liefde gedoen is. Ek is nie een van Jehovah se Getuies nie, maar ek wens julle Jehovah se seën toe.”

En ’n Getuie het geskryf: “In hierdie kort briefie, wil ek my opregte dank uitspreek. Julle het geen moeite ontsien om hierdie ope dae so aangenaam as moontlik te maak nie. . . . Alles in ag geneem, was dit ’n voorsmaak van die tyd wanneer die hele mensdom in eenheid sal saamwoon! . . . Hierdie ope dae het beslis bygedra tot die heerlikheid van ons God, Jehovah.”—Sandra.

[Prent op bladsy 23]

Busdiens vir dié wat bejaard, gestremd of net moeg was

[Prent op bladsy 23]

Uitstalling van predikingsmetodes wat in die verlede gebruik is

[Prent op bladsy 23]

Welkom by ons ope dae

[Prent op bladsy 24]

Bybeluitstalling

[Prent op bladsy 24]

’n Vrywilliger verduidelik tegnologie in eenvoudige taal

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel