Is jou skoene werklik gemaklik?
“Elkeen weet die beste waar die skoen hom druk.”—TOEGESKRYF AAN ’N ROMEINSE WYSGEER.
WANNEER laas het jy ’n paar skoene gekoop? Hoe het dit gepas? Was dit gemaklik? Hoe lank het dit jou geneem om dit te kies? Hoe behulpsaam was die winkelklerk of die persoon wat jou voete gemeet het? Het jy dit eerder vir die styl as vir die gemak gekoop? Hoe pas dit nou nadat jy dit ’n ruk lank gedra het? Druk dit jou êrens?
Om skoene te koop, is nie so maklik soos dit klink nie. En om die regte grootte te kry, is byna soos om in ’n doolhof te beland. Waarom?
Dit moet goed pas
Eerstens, watter een van jou voete is die grootste—jou regter- of linkervoet? Dink jy hulle is ewe groot? Dink maar weer! Nog iets wat ’n mens in ag moet neem, is dat elke voet vier pasfases het: ’n rustende, gewigdraende, funksionele en termiese fase. Hoe verskil dit van mekaar?
Die boek Professional Shoe Fitting sê oor die rustende fase: “Dit is hoe die skoen pas terwyl die voet rus (die klant sit).” Soos afgelei kan word uit die uitdrukking “gewigdraende fase”, word die mates geneem wanneer die persoon staan. In hierdie posisie verander die grootte en vorm van die voet. Die bogenoemde bron sê: “Wanneer die voet rus, is dit in werklikheid ’n slap sak bene en kraakbeen wat skielik ‘verstyf’ wanneer gewig daarop geplaas word, en dan verskil die mates van die voet.” Maar daar is nog twee fases.
Die funksionele fase is hoe die skoen pas wanneer die voet beweeg—wanneer ’n mens stap, hardloop, spring of ander oefeninge doen. Dan “is die grootte, vorm en proporsies van die voet anders”. Vierdens is daar die termiese fase, wat verwys na die veranderinge wat die voet weens hitte en vogtigheid ondergaan. Dit kan die voet 5 persent groter laat word. ’n Mens kan verstaan waarom dit ’n verligting is om aan die einde van die dag jou skoene uit te trek, veral as jy die verkeerde grootte dra! En dit is dikwels die geval.
Hoe word jou voete gemeet?
Eric het jare lank ’n nommer 101⁄2- of 11-skoen, met ’n gemiddelde breedte, gekoop. Gedurende hierdie tyd het hy aanhoudend gesukkel met ’n liddoring op ’n hamertoon en ’n ingroeitoonnael op die linkergroottoon. Sy voetheelkundige het voorgestel dat hy sy voete deur ’n professionele skoenpasser laat meet. Tot Eric se verbasing sou ’n 121⁄2, met ’n A-breedte, ’n gemaklike skoen vir hom wees! “A” dui op ’n smal voet. Maar is net twee mates, lengte en breedte, genoeg om te verseker dat ’n skoen gemaklik pas? Hoe moet ’n mens se voete gemeet word?
In party lande word die Brannock-toestel gewoonlik gebruik om die grootte van jou voete te bepaal. (Sien foto.) Dit kan gebruik word om drie basiese mates se kry: die lengte van die hele voet, die afstand van die hakskeen tot by die balgewrig en die breedte van die bal. Maar elke voet het natuurlik sy eie vorm en grootte. Juis daarom pas ons skoene aan voordat ons dit koop. Hier kan ’n mens in ’n strik trap. Het jy al ooit skoene aangepas waarvan jy werklik hou en dan gevind dat dit jou effens druk? “Die skoene sal rek”, sê die winkelklerk. Jy koop dit en ’n paar dae of weke nadat jy dit begin dra het, is jy spyt daaroor. En die gevolg is nog ’n liddoring, ingroeitoonnael of toonknobbel!
Is dit nommerpas vir jou?
Is dit moontlik om skoene te kry wat volmaak pas? Professional Shoe Fitting antwoord reguit: Nee. Waarom nie? “Weens verskeie onoorkomelike struikelblokke. . . . Niemand se twee voete het presies dieselfde grootte, vorm, proporsies of funksionele eienskappe nie.” As ’n skoen dus vir jou groter voet nommerpas is, sal dit nie heeltemal so goed aan die ander voet sit nie. “Dit beteken nie dat dit onmoontlik is om skoene te kry wat goed pas nie, maar net dat ons versigtiger moet wees wanneer dit kom by die term ‘nommerpas’ of die idee wat dit by ons skep.”
As jy wil sien waar jou voete druk op ’n skoen plaas, kan jy na party van jou ou, gebruikte skoene kyk. Kyk na die voering in die skoen. Waar sien jy die meeste slytasie? Dikwels is dit by die hak, die deel agter die hak en by die bal van die voet. Wat beteken dit? Dit beteken dat “sekere dele van die skoen nie behoorlik ooreenkom met die ooreenstemmende dele van die voet nie. Party dele word baie geslyt terwyl ander feitlik onaangeraak is.”
Selfs die keel van die skoen is belangrik vir gemak. Het jy opgelet dat skoene verskillende keellynstyle het? Met die balmoral-styl kom die bokante van die twee systukke by die onderste rygpunt bymekaar. Maar as jy vlesige voete het, is die blucher-styl gemakliker, want die systukke bly apart by die onderste rygpunt. (Sien prent.) Waarom is hierdie besonderhede belangrik? Dieselfde bron sê: “Baie of die meeste hakskeenirritasies wat deur skoene veroorsaak word, is dikwels die regstreekse gevolg van ’n skoen wat by die keel te styf is en dus die hakskeen teen die hakstuk druk.”
Wat van vroue se hoëhakskoene?
Vroue wat verkies om hoëhakskoene te dra, plaas stremming op verskillende liggaamsdele. Hoë hakke is geneig om die liggaamshouding te verander en laat ’n mens dikwels effens vooroor leun, wat weer vereis dat die knieë meer moet buig om die liggaam regop te hou. Hoë hakke laat ook die kuitspiere saamtrek, wat dan opvallender word.
Die hak is dus dikwels die belangrike deel van ’n vrou se skoen en die sleutel tot haar gemak of ongemak. Professional Shoe Fitting sê dat daar drie vername redes vir die hakke aan skoene is: ‘(1) “aansien”, dit laat ’n mens byvoorbeeld langer lyk, (2) versiering—’n bykomende ontwerp- of stylkenmerk van die skoen en (3) ’n beter voorkoms—soos vroue se hoë hakke wat meer vorm gee aan die bene’.
Vroue moet veral bewus wees van die hakskuinste, wat bepaal waar die lyn van die liggaamsgewig deur die hak loop. As hierdie lyn aan die agter- of voorkant van die hak is, kan dit tot probleme lei. Waarom? Omdat dit die hak kan laat meegee en ’n mens lelik kan laat val.
Uit hierdie kort bespreking is dit duidelik dat dit tyd neem om skoene te kry wat goed pas en dat dit dalk selfs duurder is, aangesien dit langer neem om ’n goeie skoen te vervaardig. Maar jou skoene kan baie vir jou algemene gemak en selfs vir jou gesondheid beteken. Moet dus nie haastig wees nie. Kry die regte mates. Wees geduldig. Moet jou nie deur die mode of voorkoms laat mislei nie.
[Venster op bladsy 20]
Dinge om op te let wanneer jy skoene kies
William A. Rossi en Ross Tennant gee die volgende wenke in hulle boek Professional Shoe Fitting.
“Die rede waarom voetmates geneem word, is nie, soos mense dink, om die presiese skoengrootte te bepaal nie.” Waarom nie? Omdat skoengroottes deur baie faktore beïnvloed word, soos die hakhoogte, styl, patrone, stowwe wat gebruik word en handelsmerk. Dit is veral vandag die geval, aangesien skoene in soveel lande met verskillende standaarde vervaardig word.
Wanneer jou voet gemeet word, moet jy die toon van die kous of sykous vorentoe trek sodat jou tone nie gebuig is en dit ’n verkeerde mate tot gevolg het nie.
Hoe moet jou voete gemeet word—terwyl jy sit of staan? “Die lui manier is om mates te neem terwyl die klant sit.” Dit het verkeerde mates tot gevolg. Daarom moet jy staan wanneer jou voete gemeet word. Ja, albei voete. Moenie aanneem dat die linkervoet groter is nie. Meet albei!
“Die professionele meting van voete is ’n vaardigheid en diens wat uitsluitlik aangebied word deur ’n groep hoogs opgeleide mense wat besef hoe belangrik dit is dat voete met groot vaardigheid gemeet word en wat verbonde is aan ’n groot aantal winkels wat net die beste bied.”
[Diagramme op bladsy 19]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Dele van ’n skoen
sool
boleer
keel
binnesool-voering
hakvoorkant
hakbolaag
toonstuk
buitesool
randstrook
boleer
keellyn
tongstafie
systuk
hielkussing
hak
[Prente op bladsy 20]
Die Brannock-toestel
[Prent op bladsy 21]
Alle skoenontwerpe is op hierdie sewe basiese style gegrond
[Prente op bladsy 21]
Keellynstyle
Blucher
Balmoral